Branderjaer se Joha van Dyk gesels oor ’n wêreld vol stories

Niks staan in Joha van Dyk se pad nie. Dié Namakwalander het haar eerste jeugroman, Branderjaer, drie jaar gelede gepubliseer, toe sy 23 was. Verlede jaar het haar tweede boek, Vuurvreter, verskyn. Sy het met SMF News se Anri van Helsdingen gesels oor waar haar stories vandaan kom, haar PhD in letterkunde, en haar derde boek.

Namakwaland se Joha van Dyk het debuteer met ’n jeugroman, Branderjaer. Sy is tans besig met ’n derde boek. FOTO: Anri van Helsdingen

Toe Joha van Dyk laerskool toe moes gaan, het sy gesukkel om aan te pas en om in te pas. Sy het grootgeword op ’n plaas in Namakwaland, buite Kleinzee, waar sy kon rond hardloop en haar verbeelding vrye teuels kon gee. Maar sy het dikwels alleen gespeel.

G’n wonder dié plaaskind het nooit “deel” gevoel van die dorpskinders op Kleinzee nie. “Ek het altyd anders gevoel, want ek het van die plaas afgekom,” vertel sy.

Skryf ’n nis los

Om as plaaskind op Kleinzee te moes skoolgaan, het waarskynlik daartoe bygedra dat sy dikwels geïsoleerd gevoel het, meen Joha. Maar die plaaslewe het haar help vorm – ook as skrywer, omdat sy dikwels op haar eie verbeeldingswêreld moes staatmaak. 

Die plaas se oop vlaktes het vir haar vryheid gebied, sê Joha.

Haar ouers boer met skape, maar bestuur ook ’n gastehuis op die plaas. Die gastehuis het haar blootgestel aan allerhande karakters – mense van Suid-Afrika en van regoor die wêreld – met interessante stories. 

Joha het nie op ’n tradisionele manier by die res van die kinders ingepas wat sport en kultuur betref nie. 

“Ek het besef ek kan nie mooi genoeg sing, teken, verf, dans of vinnig genoeg hardloop nie,” onthou sy. “Maar ek kon baie vinnig lees. Ek het uitdagende boeke gelees vir my ouderdom, en ek was ook goed daarin om stories uit te dink. Toe het ek besluit ek gaan vir my ’n talent skep en ek gaan begin skryf.”

Joha van Dyk het “nog altyd geweet hoe om met woorde te speel”, vertel haar hoërskoolvriend, Divan Bosman. FOTO: Anri van Helsdingen

Altyd met ’n neus in ’n boek

Op laerskool, het Joha se onderwysers haar liefde vir lees aangemoedig. Magda Frylinck het vir haar skoolgehou vanaf haar graad vyf-jaar by Kleinzee Primêre Skool. Magda vertel dat Joha gedurig sou loop en lees, terwyl sy klasse gewissel het. Sy was bang dat Joha van die “meter-hoë stoepie sou afstap, omdat sy nie gekyk het waar sy loop nie”.

Joha het van jongs af ’n sterk werksetiek getoon, onthou Magda. 

Joha van Dyk gaan nêrens sonder ’n notaboek nie, en plak graag betekenisvolle frases of gedagtes teen haar slaapkamer se muur. FOTO: Anri van Helsdingen

“Ons het ’n merietestelsel gehad waar jy stelselmatig van koper tot platinum kon beweeg, indien jy presteer in verskillende werksopdragte,” verduidelik sy. Joha is die enigste leerder in die skool se geskiedenis wat platinumstatus behaal het. 

Haar hoërskoolvriend, Divan Bosman, vertel dat Joha nog altyd geweet het hoe om met woorde te speel. “Almal het rondgesoek na wat die toekoms vir hulle inhou, maar dis asof die stemmetjie binne haar net altyd geweet het dat dit iets is wat vir haar wag in die toekoms,” sê Divan. 

Onderwysers in hul hoërskool gebruik waarskynlik steeds Joha se opstelle as ’n voorbeeld van “hoe ’n kreatiewe skryfstuk eintlik moet lyk”, spot Divan.

Verlies in iets kragtig hervorm

In haar matriekjaar is ’n naby familievriend van haar oorlede. Dié verlies het ’n groot merk op haar gelos. As derdejaar aan Universiteit Stellenbosch (US), het sy ’n manuskrip geskryf wat gehandel het oor haar verhouding met hierdie persoon en die verlies wat sy ervaar het. 

“Dit was uiters moeilik om te skryf,” sê sy. Maar tog was dit ook “die maklikste ding om te skryf”.

Sy het haar manuskrip aan Human & Rousseau gestuur. Die uitgewer Simone Hough het daarin belanggestel, en het dit begin redigeer, vertel Joha. Simone wou die teks egter publiseer as ’n jeugroman en Joha wou in ’n ander rigting gaan. 

“Ek is wel genooi vir koffie in die Media24-gebou en dit is hier waar ek my idee vir Branderjaer met haar gedeel het,” vertel sy.

Joha het onlangs nagedink oor hierdie verloop van gebeure, en hoe die manuskrip – gebaseer op die verlies van ’n nabye vriend – vir haar deure oopgemaak het om Branderjaer te skryf. Branderjaer is opgedra aan ‘Die seun met die blou beker’ – die vriend wat sy in matriek verloor het.

“Ek het altyd anders gevoel, want ek het van die plaas af gekom,”vertel Joha van Dyk. Op die foto is ’n veel jonger Joha saam met haar ma, Veronica. FOTO: Verskaf/Joha van Dyk

‘Storievertel is in Namakwalanders se bloed’

Haar ma, Veronica van Dyk, vertel dat haar dogter van kleins af geweet het sy wou ’n skrywer word, en dat sy tot vandag toe nie die huis verlaat sonder ’n notaboek nie. “En sy is erg sentimenteel. Familie en vriende is belangrik,” sê Veronica.

Joha is tans besig met ’n PhD aan die US se Engelse departement. In haar navorsing fokus sy op Namakwalandse storievertelling, oftewel hul ‘oral tradition’. Sy voer onderhoude met storievertellers en versamel stories oor Kleinzee, die naburige De Beers myndorp, waar sy skoolgegaan het. 

“Namakwaland is vir my belangrik. Ek wil my studies juis oor Kleinzee doen en die unieke stories wat ons onder mekaar uitruil en daardeur ’n nalatenskap laat,” sê sy.

“Ek het grootgeword met stories,” sê Joha. “Namakwalanders is baie goeie storievertellers. Wanneer hulle bymekaarkom, hetsy rondom ’n vuurtjie of ’n kombuistafel, word stories uitgeruil. Ons aksente, die manier wat ons vertel en die humor in die stories, maak dit baie uniek. Storievertel is in my bloed.”