“Motorvrye” Stellenbosch in hersiene beleid voorgestel

Stellenbosch Munisipaliteit het verskeie projekte in die visier in hulle voorgestelde hersiene beleid vir nie-gemotoriseerde vervoer (NMT) om inwoners te help om na stap en fietsry oor te skakel om vinniger en veiliger rond te beweeg.

Dít was volgens Lynne Pretorius, ingenieur by Innovative Transport Solutions en lid van die NMT-projekspan. Die projek sal ’n beraamde R126 miljoen beloop, luidens die voorlopige implementeringsplan in die munisipaliteit se projekverslag vir NMT van Desember 2020. 

NMT-beleid

’n Voorgestelde Woonerfkonsep vir Hofmanstraat in Stellenbosch. Volgens Stellenbosch Munisipaliteit se projekverslag vir nie-gemotoriseerde vervoer (NMT) van Desember 2020, dra Woonerfgebiede by tot voetgangervriendelikheid. Dít is omdat motoriste nie vinniger as 30 km/h in dié gebiede mag ry nie en aan voetgangers moet toegee, luidens die verslag. FOTO: Skermgreep/Stellenbosch Munisipaliteit

NMT-beleid

Stellenbosch: Hofmanstraat. FOTO: Anri Matthee

Om die toevloei van private motors in die middedorp te verminder, is intervensie van die munisipaliteit nodig om volhoubare vervoeralternatiewe te ontwikkel, meen Pretorius. Die implementering van openbare vervoerstelsels, die bevordering van stap en fietsry, asook die administrasie van parkering in die middedorp, kan hiertoe bydra, het sy bygevoeg.

Verskeie korttermynprojekte word in die projekverslag voorgestel om tot die vooruitsig van ’n “motorvrye leefwyse” in die Stellenbosse middedorp by te dra. Dít sluit in planne om Kerkstraat en Andringastraat meer voetgangervriendelik te maak, die implementering van roetes en parkeerplek vir fietse, asook die ontruiming van oortollige straatmeubels op sypaadjies. In die hersiene beleidsdokument word dit ook voorgestel dat sommige parkeerplekke in staanplekke vir openbare vervoer en fietsbane omskakel moet word.

NMT-beleid

’n Netwerkkaart uit Stellenbosch Munisipaliteit se projekverslag vir nie-gemotoriseerde vervoer (NMT) dui aan watter veranderinge aan Stellenbosch se infrastruktuur beoog word. Die pienk ster dui die ligging van die voetgangerbrug aan wat vir Kayamandi beoog word. GRAFIKA: Skermgreep/Stellenbosch Munisipaliteit

Die doelwit om gebiede aan die buitewyke van Stellenbosch met die middedorp te verbind, verskyn ook in die dokument. Pretorius het in ’n e-pos aan MatieMedia gesê dat gebiede met hoë NMT-aktiwiteit vir dié doelwit identifiseer is, sodat die beveiliging van, asook die toeganklikheid tot NMT, verbeter kan word.

“Die hoogste voetgangeraktiwiteit in Stellenbosch is waargeneem in en vanaf die woonbuurte van histories-benadeelde gemeenskappe aan die buitewyke van Stellenbosch [Kayamandi, Cloetesville en Idasvallei] in die rigting van die middedorp,” het Pretorius gesê. Die konstruksie van ’n voetgangerbrug oor die R304 en die spoorlyn wat Kayamandi en Cloetesville verbind, is in die projekverslag voorgestel om die hoë NMT-aktiwiteit in dié gebiede te beveilig.

NMT-beleid

Ingevolge die Nasionale Padverkeerswet, mag fietsryers en gebruikers van ander nie-gemotoriseerde vervoer (NMT) nie sypaadjies gebruik nie, maar padreserwes en fietsbane word wel tot hulle benutting beskikbaar gestel. In hulle voorgestelde hersiene NMT-beleid, onderneem Stellenbosch Munisipaliteit om te verseker dat die dorp se paaie veilig en wettig benut kan word. FOTO: Anri Matthee

Dawid Botha, voorsitter van Stellenbosch Fietsry, meen dat die huidige infrastruktuur vir fietse “ontoereikend” is en hy verwelkom die voorgestelde projekte. 

“Mense sal veiliger voel en meer […] fiets ry,” het hy per e-pos aan MatieMedia gesê.

Thomas Lee, wat gereeld op sy skaatsplank deur die middedorp beweeg, is ook positief oor die moontlikheid van minder padverkeer. Hy meen dat dit die kultuur van skaatsplankry in die dorp sal verbeter.

“Ek dink beslis dat baie meer mense skaatsplank sal begin ry, want veiligheid is ’n baie groot faktor,” het hy gesê.

Die publiek kan tot 14 Junie insette lewer oor die voorgestelde beleid via die munisipaliteit se webtuiste, asook by plaaslike biblioteke in die dorp. Dít is luidens ’n kennisgewing wat die munisipaliteit verlede maand op hulle webtuiste geplaas het.

MatieMedia het in verbinding getree met die munisipaliteit, maar is nog wagtend op kommentaar.

, , , ,