Cloetesville kan uitsien na nuwe skaatsplankpark en opgeknapte swembad

Bouwerk aan ’n nuwe skaatsplankpark en die opknapping van die openbare swembad in Cloetesville, het onlangs begin. Dít is volgens ’n onlangse aankondiging deur Stellenbosch Munisipaliteit. 

“Daar word voorsien dat beide die projekte teen 30 Junie [vanjaar] voltooi sal wees,” het Stuart Grobbelaar, woordvoerder van Stellenbosch Munisipaliteit, gesê.

Grobbelaar het in ’n e-pos aan MatieMedia gesê dat die twee projekte gesamentlik R4,7 miljoen beloop. 

Cloetesville: Bouwerk aan die skaatsplankpark het laat in April vanjaar begin, het Stuart Grobbelaar, woordvoerder van Stellenbosch Munisipaliteit, gesê. FOTO: Marianne Francis Stewart

Nuwe skaatsplankpark

Die bou van die nuwe skaatsplankpark is onderweg met die sloping en opruim van twee van vier tennisbane in die gebied wat plek maak vir die park, het Grobbelaar gesê. Amandla Construction is vir dié taak gekontrakteer, het hy bygevoeg. 

Hulle is onder meer verantwoordelik vir “opgrawings tot vereiste vlakke, laagwerk en verdigting onder betonstrukture, die bou van betonoppervlaktes, paaie en trappe, asook bekisting en versterking”, het Jean-Pierre Share, kontrakbestuurder by Amandla Construction, gesê. 

Die behoeftes van veral amateur- en beginnerskaatsplankryers is met die ontwerp van die park in ag geneem, het Grobbelaar gesê. 

Die Cloetesville-gemeenskap benadruk volgens Grobbelaar geruime tyd reeds die behoefte aan ’n skaatsplankpark tydens gemeenskapsvergaderings vir die munisipaliteit se Geïntegreerde Ontwikkelingsbeplanning (GOB).

Dit is vir die gemeenskap belangrik om toegang tot ontspanningsgeriewe te hê waar die jeug aktief kan wees en hulle vaardighede kan bevorder, het Elsabe Vermeulen, raadslid van Cloetesville se munisipale wyk (Wyk 16), gesê. “Dít is die rede waarom Wyk 16 gedryf het vir die herstel van die swembad en ander geriewe,” het sy bygevoeg. 

Vir Vermeulen is dit ’n prioriteit om ’n omgewing te skep waar kinders veilig aan  ontspanningsaktiwiteite kan deelneem. Die munisipaliteit sal volgens Grobbelaar die terrein beveilig met alarmstelsels en geslote baantelevisiekameras (CCTV-kameras). “Kameras en alarmstelsels word geïnstalleer by alle munisipale eiendomme vir veiligheid,” het Grobbelaar gesê. 

Die bouplan vir die skaatsplankpark illustreer hoe die opritte van die park gaan lyk. FOTO: Verskaf/BEAL Africa

Opknapping van die swembad

Intussen word die openbare swembad in Cloetesville, wat vir byna ’n jaar leeg gestaan het, nou deur Amahle Building and Renovations opgeknap, het Grobbelaar gesê.

Dié projek behels onder meer die vervanging van die swembad se pompkamer, die installasie van ’n nuwe filterstelsel en pompe, asook herstelwerk aan die swembad se oppervlakte en grensmuur, volgens Grobbelaar.

Nadat die openbare swembad in Cloetesville vir byna ’n jaar leeg gestaan het, sal dit teen einde Junie vanjaar weer deur die publiek gebruik kan word, het Stuart Grobbelaar, woordvoerder van Stellenbosch Munisipaliteit, gesê. FOTO: Marianne Francis Stewart

, , , ,