Moffie kom terug huis toe

Die Suid-Afrikaanse film, Moffie, het op 2 Maart 2020 in Suid-Afrika gedebuteer na talle benoemings by verskeie filmfeeste reg oor die wêreld. 

Moffie het op 2 Maart by die Fugard Teater sy Suid-Afrikaanse debuut gemaak. FOTO: Jenna Lemmer

Dit handel oor ’n generasie wit mans wat in die vroeë tagtigerjare die Suid-Afrikaanse Weermag (SAW) betree het en hoe die apartheidstelsel hulle deur die weermag en die Anglo-Boereoorlog gebreinspoel het,” het die regisseur, Oliver Hermanus, na afloop van die film se première by die Fugard Teater in Kaapstad gesê.

“Ek voel as Suid-Afrikaners moet ons films kyk wat handel oor die verlede om mekaar se geskiedenis en trauma te verstaan. Op dié manier kan ons die wonde van ons verlede genees,” het Hermanus verder oor die film gesê. 

Die film spreek die temas van seksualiteit en ’n soeke na identiteit aan. Kai Luke Brümmer vertolk die rol van Nicholas van der Swart, die hoofkarakter in die film. Hierdie karakter word direk deur dié temas geaffekteer.

“Wanneer ons hierdie soort verhale vertel is daar gewoonlik reaksies vanaf beide kante – óf negatief, óf positief. Oor die algemeen is die reaksies negatief, maar ek glo dat ons moet leer dat hierdie verhale nie irrelevant is nie en dat dit steeds vertel moet word. Alhoewel ons in 2020 leef word die LGBTQI-gemeenskap daagliks vervolg, ” het Brümmer gesê. 

Die Moffie-span neem saam ‘n groep foto op die rooitapyt.

Die Moffie-span neem saam ‘n groepfoto op die rooitapyt. FOTO: Jenna Lemmer

“Die film is belangrik omdat dit ’n film is wat idees ontlok, kontroversieel is en ’n oop einde het wat jou dieper laat dink oor die verskeie kwessies wat Suid-Afrika tans in die gesig staar,” het die fliekganger Oluthando Keteyi, gesê. Die film het haar twee keer laat dink oor die verlede, het sy gesê. Dit het haar ook herinner dat ’n saak altyd twee kante het. 

Moffie is vanaf 13 Maart 2020 in teaters landswyd.

 

, , , ,