Meer as 12 000 besoekers by vanjaar se KAMERS/Makers

Suid-Afrika se grootste opskietmark, KAMERS/Makers, het onlangs aan entrepreneurs die geleentheid gebied om buite die boks te dink. 

Dit is volgens Magdel Kemp, mede-eienaar van KAMERS/Makers.

Die mark het tussen 25 en 30 Oktober by Blaauwklippen in Stellenbosch plaasgevind. 

Kleur om elke hoek en draai

“Stellenbosch is ’n voorloper as dit kom by kreatiwiteit. Ons dorp bars om elke hoek en draai van kleur,” het Kemp aan MatieMedia gesê. Stellenbosch is die afgelope 19 jaar reeds die tuisdorp van KAMERS/Makers, het Kemp gesê. Sy meen dat entrepreneurskap floreer op dié dorp.  

KAMERS/Makers bied jaarliks vir mense die geleentheid om nuwe goed te probeer en buite die te boks dink, sowel as ’n teikenmark waarop hulle hul idees kan toets, het Magdel Kemp, mede-eienaar van KAMERS/Makers, gesê. FOTO: Karla de Bod

Die kleinhandel-geleentheid fokus daarop om entrepreneurskap op die dorp verder te bevorder, het Kemp gesê. Sowat 170 entrepreneurs, en ongeveer 12 000 besoekers het vanjaar die geleentheid bygewoon.  

KAMERS/Makers lê dus klem op die belangrikheid van klein besighede ondersteun, het sy bygevoeg. 

Klein besighede, grootskaalse ondersteuning

“Suid-Afrika se werkloosheid is ’n kopseer vir jare al. Die enigste oplossing lê by die individu en gemeenskap self,” het Kemp gesê. Volgens Kemp onderstreep KAMERS/Makers “meer en meer” dat dit noodsaaklik is om klein besighede te ondersteun.

KAMERS/Makers dien ook as ’n broeikas vir plaaslike ontwerpers, volgens Ben-Carl Havemann, hoof uitvoerende beampte van Blaauwklippen, waar die mark jaarliks plaasvind. 

KAMERS/Makers is ’n plek waar kreatiewe mense met verskillende agtergronde bymekaar kan kom om te skep, het Ben-Carl Havemann, hoof uitvoerende beampte van Blaauwklippen, gesê. VIDEO: Karla de Bod

“KAMERS/Makers is ’n platform waar kreatiewe mense hulle talente ten toon kan stel en hulle aanbiedings met besoekers kan toets in ’n gekurateerde omgewing,” het Havemann gesê. 

’n Platform vir idees

Oor die afgelope 19 jaar het ’n groot hoeveelheid entrepreneurs suksesvolle kommersiële ondernemings begin nadat hulle KAMERS/Makers as ’n platform vir hulle idees gebruik het, het Havemann vertel. 

“Elke jaar word daar maande spandeer om nuwe en vars entrepreneurs te vind,” het Kemp gesê. “Ons keur baie streng volgens kwaliteit, prys, enig in soort en ook of hulle omgewingsvriendelik is.”

“Mense was dors vir oorspronklike en handgemaakte produkte. Almal wou weg beweeg van winkelsentrums en massaproduksie,” het Magdel Kemp, mede-eienaar van KAMERS/Makers, vertel oor die groei van dié opskietmark. “Mense wil nie net koop en koop nie, hulle soek ook inspirasie en ’n kleurvolle leefstyl.” FOTO: Karla de Bod

Project Dyad, ’n klein maatskappy wat spesialiseer in die ontwerp en vervaardiging van kontemporêre leerprodukte, was vanjaar ’n nuwe entrepreneur by KAMERS/Makers. Volgens Jessika Balzer, eienaar van Project Dyad, dien die mark as inspirasie en motivering.

“Om ander [entrepreneurs] en kreatiewe mense te ontmoet en te leer ken is baie spesiaal,” het Balzer gesê. “Dit laat mens voel asof jy deel van iets groter is, en dit hou jou gemotiveerd en geïnspireerd.”

Volgens Kemp hoop KAMERS/Makers om in die toekoms meer besighede selfonderhoudend te maak, die ondersteunende netwerk te vergroot, en vir mense mooiheid te bring.

, ,