Boerboel-bierfees samel R8 005 in vir hondereddingsorganisasie

’n Klapmuts-gebaseerde hondereddingsorganisasie het verlede naweek ’n boerboel-bierfees gehou om geld in te samel vir die beskerming en rehabilitasie van boerboele, asook om bewustheid rondom hierdie honderas te skep. Dit is volgens Armand Groenewald, hondegedragkundige en stigter van Majestic Beast Rescue.

  • bier
  • boerboel

Volgens Paul Freysen (Foto 1), die eienaar van St Beer Yard, is al hulle biere na verskillende honde vernoem. Dit sluit in hulle Bierboel-bier, ’n Belgiese melkskommel-IPA, wat hier (Foto 2) te siene is. Vir elke bier wat tydens Majestic Beast Rescue se boerboel-bierfees verkoop is, is R5 aan dié organisasie geskenk, volgens Armand Groenewald, die organisasie se stigter. FOTO’S: Karla van der Merwe

Majestic Beast Rescue het op 29 Oktober met The Kennel Brewery saamgespan en ’n geleentheid gehou by die brouery se Stellenbosch-restaurant, St Beer Yard, waartydens hulle R7 000 ingesamel het deur lootjies en ander hondeprodukte te verkoop. Vir elke bier wat deur die dag verkoop is, is R5 aan die organisasie geskenk, wat uiteindelik ’n verdere R1 005 vir die organisasie ingesamel het.

“Dit is vir ons nodig om sulke geleenthede te hou om ons rekeninge te betaal. Ons ontvang geen staatsbefondsing nie, so ons maak uitsluitlik staat op skenkings van die publiek af,” het Groenewald verduidelik.

  • boerboel
  • boerboel

Majestic Beast Rescue, ’n hondereddingsorganisasie vir boerboelle, beoog om mense op te voed oor die boerboel-honderas en te verseker dat elke boerboel wat hulle inneem by die regte gesin uitkom, volgens Armand Groenewald. Hy (Foto 1, links) is hier saam met Yolandi Maggott (Foto 1, regs), mededirekteur van die organisasie, te sien by die St Beer Yard-restaurant waar hulle op Saterdag vir die organisasie geld ingesamel het. FOTO’S: Karla van der Merwe

Elke boerboel kry sy dag

Groenewald het verduidelik dat St Beer Yard al vir ’n geruime tyd sulke geleenthede met niewinsgewende organisasies reël. “Ons het ’n paar maande gelede met hulle in verbinding getree en eintlik al ons eerste geleentheid soos dié op 26 Augustus gehad waar […] ons genoeg geld ingesamel het om die helfte van ons huur vir die maand in September te kon betaal,” het hy gesê.

hond

Hoewel daar geen boerboele by Majestic Beast Rescue se boerboel-bierfees was nie, het ander vier-potiges die dag by St Beer geniet. Volgens Yolandi Maggott, mededirekteur van die organisasie, het hulle nie boerboele na die geleentheid saamgebring nie aangesien dit te warm en stresvol vir die honde sou wees. FOTO: Karla van der Merwe

The Kennel Brewery se eienaar, Paul Freysen, het verduidelik dat hulle probeer om maandeliks iets te doen om terug te gee aan die gemeenskap. “Ons hele brand het begin met honde – ek was van kleintyd af al mal oor honde gewees,” het hy gesê. “Ek hou daarvan om ’n bietjie terug te gee [vir mense] en andersins ook vir honde. Honde kan nie vir hulleself veg nie, so iemand moet vir hulle veg.” 

Al die verskillende biere by St Beer Yard is, volgens Freysen, na verskillende honde vernoem soos die Alesation (’n Indiese pale ale – of IPA), die Lagerdor (’n gewone Lager) en die Maltyeast Poodle (’n witbier).

“Ons het ook ’n Bierboel (’n Belgiese melkskommel-IPA) in die reeks, so dit was net vanselfsprekend om [Majestic Beast Rescue] in die hande te kry om vir hulle ietsie te doen,” het hy gesê.

’n Tuiste vir elkeen

hond

Armand Groenewald (links), stigter van Majestic Beast Rescue, staan hier saam met Augustine Rossouw (regs) wat ’n boerboel huisves wat deur die organisasie gerehabiliteer is. Sy verduidelik hoe dit gekom het dat sy vir Butch ingeneem het. FOTO & KLANKGREEP: Karla van der Merwe

Majestic Beast Rescue gaan daarop uit om die publiek, asook boerboeleienaars, in te lig oor die boerboel-honderas, het Yolandi Maggott, mededirekteur van die organisasie, gesê. Sy het verduidelik dat dié honde dikwels misverstaan word. 

Die organisasie het tans 11 honde in hulle sorg, volgens Maggott. Hulle het ook al vir 90 boerboele ’n huis gevind, aldus die organisasie se webwerf. Sy het verduidelik dat indien iemand graag een van die boerboele wil aanneem, hulle die aanlyn aansoekproses kan volg waarna daar ’n huisbesoek en ’n ontmoeting tussen die gekose hond en potensiële eienaar gereël word. 

  • boerboel
  • boerboel
  • boerboel

Majestic Beast Rescue verseker, volgens medestigter van die organisasie Yolandi Maggott, dat die regte hond by die regte gesin uitkom. FOTO’S: Verskaf/Majestic Beast Rescue

Groenewald het bygevoeg dat wanneer hulle ’n huisbesoek doen, hulle ook die gesin evalueer om te sien presies watter hond vir hulle geskik sal wees. 

“Soms doen mense aansoek om [byvoorbeeld] vir Bruno aan te neem, maar dan neem hulle uiteindelik eerder vir Baxter aan,” het hy gesê. “Dit hang alles af van watter hond vir watter familie perfek is.”

, , , ,