Maties troef Varsitybeker se verdedigende kampioene

FNB Maties het op 20 Maart wraak geneem toe hulle FNB UP-Tuks – die verdedigende Varsitybeker-kampioene – met 46-35 geklop het. Dit is volgens Matthew Proudfoot, afrigter van die Maties Varsitybeker-span. Die Varsitybeker-wedstryd is op die Danie Craven-stadion gespeel.

Die Danie Craven-stadion was volgepak tydens die Varsitybeker-wedstryd op 20 Maart. Hier rank Marco van Rhyn in die lynstaan om die bal te vang. FOTO: Stefani Terblanche

Maties moes verlede jaar in die eindstryd van die Varsitybeker die knie buig teen Tuks, toe hulle 23-29 verloor het. Tuks het nou vyf wedstryde agtereenvolgend verloor, en volgens die Varsitybeker-webwerf sal hul nie vanjaar die semi-finaal haal nie.

“Ek weet dat ons aan die onderkant van die ranglys is,” het Nico Luus, afrigter van Tuks se rugbyspan, gesê. “Maar ek dink indien ons dit wedstryd vir wedstryd neem en die volgende twee wedstryde wen, sal ons ‘fine’ wees.”

Indien Tuks teen die einde van die seisoen steeds aan die onderkant van die ranglys is, sal hulle in die 2024-Varsitybeker na ’n laer liga geskuif word. 

Maties-ondersteuners het tydens Maandagaand se Varsitybeker-wedstryd teen Tuks, hul harte op die mou gedra. FOTO: Stefani Terblanche

Moelikheid in die tweede helfte 

Maties het oordonder gedurende die eerste helfte, en was teen halftyd voor met 31-7. Volgens Proudfoot moes Maties in die tweede helfte aanhoudend druk op Tuks plaas, maar het nie altyd daarin geslaag nie. 

“[Ons het] foutjies gemaak wat toegelaat het dat hulle weer in die [wedstryd] kon kom,” het Proudfoot gesê. “So, ek dink dit is definitief iets waarop ons moet werk in die volgende week.” 

Luus is oor die algemeen trots op sy span se prestasie tydens die wedstryd. “Teen halftyd sou enige span al opgegee het, en hulle het nie. So, ek is trots op hulle,” het Luus aan MatieMedia gesê. 

Byna 21 minute in die wedstryd het Maties reeds ver voorgeloop met 19 teenoor 7 punte vir Tuks. Tuks het in die tweede helfte teruggeveg, maar kon nie Maties se voorsprong inhaal nie. FOTO: Stefani Terblanche

’n Wonderlike wen

Dit was ’n “wonderlike wen”, het Maties-spanlid Siyabonga Matanda, aan MatieMedia gesê. Matanda het in die beseerde kaptein, Gift Dlamini, se posisie as linkerflank gespeel.

“My gunsteling deel van die wedstryd was ons reaksie nadat hulle ’n drie verdoel het,” het Matanda gesê. “Ons het daarna die bal in hul helfte gehou, druk geplaas en weer punte aangeteken.”

Daar was groot vreugde nadat Matthew van Schalkwyk aan die einde van die eerste helfte ’n drie aangeteken het. FOTO: Stefani Terblanche

, , , , , ,