Historiese brug in Onder Papegaaiberg uiteindelik herbou

’n Herboude weergawe van ’n historiese brug in Onder Papegaaiberg is onlangs voltooi, en oopgestel vir voertuie. Dit is volgens Stuart Grobbelaar, woordvoerder van Stellenbosch Munisipaliteit.

’n Historiese foto van die Steenenbrug wat destyds die enigste manier was waarop die publiek vanuit Kaapstad toegang tot Stellenbosch kon verkry. FOTO: Verskaf/Stellenbosch Erfenisstigting

Dié dubbelbaan-brug, wat bekend staan as Steenenbrug, of Plankenbrug, is in 2018 beskadig nadat dit deur ’n konstruksievoertuig getref is wat ’n nuwe rioollyn onder die brug moes lê, het Allen Mitchell, geboubestuurder van Bosman’s Crossing, aan MatieMedia vertel. 

Hierdie brug was histories die enigste manier om vanaf Kaapstad in Stellenbosch te kom, totdat die Adam Tas-pad in die 1950’s gebou is, het Mitchell gesê. Die nuwe brug is vroeër in Maart amptelik heropen vir tweerigting-verkeer. Dit sluit ook ’n fiets- en voetoorgang in, volgens Mitchell.

Die oorspronklike pilaar bly staan

Dit het ’n volle jaar geneem om die projek te voltooi, het Marais le Grange, siviele ingenieur en projekbestuurder van die brug, aan MatieMedia vertel. 

“Die oorspronklike klippilaar, wat dateer uit die laat 1800’s en in die middel van die rivier staan, mag ons nie aan geraak het nie,” het Le Grange vertel.  “Ons het aan beide kante van die brug nuwe bome geplant en  tussen die bome het ons oorspronklike klippe van die brug vanuit die 1800’s gesit.”

Die oorspronklike klippilaar onder die Steenenbrug in Onder Papegaaiberg, dateer uit die 1890’s. Dit is ’n historiese kenmerk en vorm steeds deel van die fisiese struktuur van die brug wat onlangs herbou is, het Marais le Grange, siviele ingenieur en projekbestuurder van die brug, aan MatieMedia vertel. FOTO: Anri van Helsdingen

Die projek het twee keer so lank geneem as wat verwag is, aangesien die brug ook die enigste pad is vir motoriste om in Bosman’s Crossing te kom, volgens Le Grange.  

“Ons het die nuwe brug se een kant heeltemal klaargemaak, die verkeer omgeswaai, die ou brug afgebreek, en dieselfde proses weer gevolg,” het Le Grange bygevoeg.

“Dié brug is ’n erfenisterrein en oorspronklike kenmerke van die brug word steeds in stand gehou,” het Grobbelaar bygevoeg.

Onder Papegaaiberg se nuutgeboude dubbelbaan-brug by Bosman’s Crossing. Die dubbelbaan-brug is in 2018 beskadig toe dit deur ’n konstruksievoertuig getref is wat ’n nuwe rioollyn onder die brug moes lê, het Allen Mitchell, geboubestuurder van Bosman’s Crossing vertel. FOTO: Anri van Helsdingen

, , ,