Man sterf voor plaaslike koffiewinkel

ʼn Werknemer van ʼn plaaslike koffiewinkel is onlangs oorlede nadat hy tydens een van sy skofte voor die koffiewinkel inmekaar gesak het. 

Dit is volgens Arno Zacharias, die eienaar van Mill Coffee House, waar die oorledene gewerk het. 

Jafta Witbooi (59) het glo die afgelope 10 jaar by Mill Coffee House gewerk, het Zacharias gesê. 

Die voorval het om 17:00 op 2 Mei plaasgevind. Witbooi is op die toneel oorlede. 

'n Foto van Mill Coffee House koffiewinkel.

Jafta Witbooi (59) het Vrydag voor Mill Coffee House koffiewinkel, waar hy gewerk het, inmekaar gesak, het Arno Zacharias, eienaar van die Mill Coffee House koffiewinkel aan SMF News gesê. Hy is kort daarna oorlede. FOTO: Anja van Zyl

Hy wou altyd help

Witbooi, ʼn straatbewoner, se gesondheid het die laaste ruk baie agteruitgegaan, en hy het die oggend van 2 Mei vir Zacharias gesê dat hy pyn het.

“Ek het vir hom gesê hy moet hospitaal toe gaan, want hy was regtig in pyn en het gesukkel om sy werk te doen. [In] tipiese Jaffie styl, het hy geweier en wou hy net help, help, help,” het Zacharias gesê. 

Witbooi het elke oggend vir hom gehelp om die tafels en stoele uit te pak, en weer smiddae op te pak, het Zacharias gesê. 

Laatmiddag, toe Jafta die laaste item na binne gedra het en weer by die voordeur uit is, het hy op die sypaadjie geval, en is kort daarna oorlede, het Zacharias gesê. 

ABC Sekuriteit was eerste op die toneel, waarna ʼn tweede privaat sekuriteitsmaatskappy die toneel met rooi lint afgebaken het toe hulle besef dat Witbooi dood is, volgens Zacharias. 

Die stoep van die koffiewinkel, waar Jafta Witbooi geval het.

ʼn Werknemer van Mill Coffee House is onlangs oorlede nadat hy op die stoep van dié koffiewinkel inmekaar gesak het, het Arno Zacharias, eienaar van die Mill Coffee House koffiewinkel, gesê. FOTO: Anja van Zyl

“My vyf personneellede was almal alreeds by die huis, en het teen hul eie koste met ʼn Uber teruggekom om hul meegevoel te kom betuig,” het Zacharias gesê. 

“Omdat dit 17:00 gebeur het, was dit ook blykbaar die skofverandering by die polisiestasie, so hulle het gesê dit sal beslis lank wees voordat die polisie opdaag – en dit was toe lank. Hulle het eers goed na 18:00 opgedaag,” het hy gesê. 

ʼn Ware karakter van die dorp

ʼn Paar van Witbooi se familielede was ook op die toneel, volgens sy suster, Aletta Fortuin. Die familie wag tans vir die forensiese patoloë se resultate om die oorsaak van Witbooi se dood te bevestig. 

“Dis baie, baie hartseer om totsiens te sê. Ons kan nie afskeid neem nie,” het Brandon Claassen, ʼn familielid van Witbooi, gesê. 

Blomme en 'n briefie teen 'n pilaar voor die koffiewinkel.

Blomme en ʼn briefie is teen ʼn pilaar op Mill Coffee House se stoep vasgemaak, ter herinnering van Jafta Witbooi, ʼn werknemer van dié koffiewinkel wat onlangs oorlede is nadat hy daar inmekaar gesak het. FOTO: Anja van Zyl 

Zacharias het intussen ʼn fondsinsamelingsprojek op BackaBuddy begin om Witbooi se familie te help met begrafnisuitgawes. Volgens die BackaBuddy-webblad hoop hulle om R5 000 in te samel. 

“ʼn Man met ʼn sagte geaardheid en ʼn blywende glimlag. Hy was altyd byderhand om diegene rondom hom te help,” het Zacharias op die platform geskryf.  

“Jaffie was een van die ware karakters van ons dorp. Sy glimlag sal met liefde onthou word, maar nooit vergeet word nie,” het hy geskryf. 

'n Foto van Jafta Witbooi

Arno Zacharias, die eienaar van Mill Coffee House koffiewinkel, het Jafta Witbooi beskryf as “ʼn man met ʼn sagte geaardheid en ʼn blywende glimlag, wat altyd byderhand was om die mense rondom hom te help”. FOTO: Verskaf/Brandon Claassen

, ,