LIKHÂ – die naam en konsep agter nuwe koffiewinkel

LIKHÂ, die nuwe koffiewinkel in Ryneveld-plaza, doen meer as wat ’n mens van ’n stylvolle Stellenbosse koffiewinkel verwag.

Die eienaar en bestuurder van LIKHÂ, oud-Matie Surita Linde (23), het BA Gemeenskapsontwikkeling studeer, maar het na twee jaar besef dat sy nie aanklank vind in daardie spesifieke veld nie.

“Ek is mal daaroor om mense bymekaar te bring, en ek love koffie en koek. My ma besit ’n bakkery en sy het my gehelp om die bal aan die rol te kry,” vertel Linde.

Surita Linde beplan reeds verskeie opkomende projekte wat deur LIKHÂ aangebied sal word. FOTO: Wianda Gilliland.

Surita Linde beplan reeds verskeie opkomende projekte wat deur LIKHÂ aangebied sal word. FOTO: Wianda Gilliland.

Die naam LIKHÂ is ’n Filipynse term wat  “act of creating” of “om iets te skep met intelligensie en vaardigheid” beteken. Dis nie net die naam nie, maar ook die hele konsep agter die besigheid.

Linde pas hierdie konsep in verskeie opsigte toe. Sy en haar familie het self al die dekor binne drie weke gedoen.

“My oom het die toonbank gebou, ek en my ma het die teëls gedoen, my pa het die mure uitgekap en geverf. Ek het baie beperkte kapitaal gehad, so dit was ’n familiepoging,” vertel Linde.

Sy sê dat alhoewel dit ’n moeilike en fisies uitputtende proses was, dit direk verband gehou het met die konsep van kreatiwiteit en om self iets te skep. Sy is dankbaar vir hierdie leerproses.

Linde en haar ma bak self al die koeke, muffins en lekkernye. Linde het ook self die eksklusiewe LIKHÂ-koffieversnit gekies.

 

Buiten die vars gebakte koeke en muffins is heerlike geroosterde toebroodjies ook beskikbaar. FOTO: Wianda Gilliland.

Buiten die vars gebakte koeke en muffins is heerlike geroosterde toebroodjies ook beskikbaar. FOTO: Wianda Gilliland.

Linde pas die LIKHÂ-konsep verder toe: die winkel gaan binnekort maandelikse werkswinkels aanbied wat gebaseer is op kreatiwiteit en om iets te skep

“Ons beplan tans ’n kunswerkswinkel en ’n koffiewerkswinkel,” sê Linde opgewonde.

Linde is steeds passievol oor gemeenskapsontwikkeling en sy help studente-entrepreneurs deur hulle produkte in LIKHÂ te verkoop.

“Ek het ’n visie om die hele gangetjie in ’n maandelikse nagmarkie te omskep waar plaaslike mense plaaslike produkte kan koop – van klere en kuns tot kos,” vertel die jong besigheidsvrou.

 

 

Boekwurms sal ook tuis voel in LIKHÂ. “Ons biblioteek is nog baie klein, maar jy kan boeke kom uitruil of uitleen,” vertel Linde, “en dan wil ons ook in die toekoms boekbesprekings aanbied en ’n boekklub stig.”

Die koffiewinkel is propvol plante en koel kleure vir ’n baie spesifieke rede.

 

Studentebesighede se produkte word in die koffiewinkel uitgestal . FOTO: Wianda Gilliland.

Studentebesighede se produkte word in die koffiewinkel uitgestal . FOTO: Wianda Gilliland.

“Om te skep dui ook op lewe en dis hoekom die plante so belangrik is,” vertel Linde. Die dekor is gebaseer op haar eie persoonlike styl, wat volgens haar bold maar nie “clean cut” is nie.

“Ek wil hê mense moet instap en vars en vibrant voel. Die kleure en plante skep ’n sekere gevoel.”

Die stilering van die plante is deur haar goeie vriendin Monet Bonsma gedoen .

Volgens Bonsma is die LIKHÂ-styl ’n kombinasie en balans tussen klassiek en kontemporêr.

“Dit is ’n tydlose storieboek-spasie wat met verbeelding gevul is en wat deur skoonheid en gemeenskap – waar oud en nuut bots – uitgedruk word,” vertel die bloemiste.

Sy het onder andere eksotiese plante soos palms en varings, maar ook vetplante gebruik om die spasie lewe te gee.

“LIKHÂ is ’n plek van kreatiwiteit, interaktiwiteit en samewerking. Ek hoop dat LIKHÂ ’n brug sal wees tussen mense en gemeenskappe,” sê Linde.

Linde en Bonsma is die kreatiewe koppe agter LIKHÂ se unieke dekor. FOTO: Wianda Gilliland.

Linde en Bonsma is die kreatiewe koppe agter LIKHÂ se unieke dekor. FOTO: Wianda Gilliland.

,