
Die Stellenbosse digter, Louis Esterhuizen, by die bekendstelling van sy bundel Klaarte by Oude Leeskamer op 21 Mei. FOTO: Kobus Erasmus
Liefde tussen twee verouderende mense, die verwerking van trauma, en ’n worsteling met kreatiwiteit is alles temas in ’n nuwe Afrikaanse digbundel deur ’n Stellenbosse digter.
Dit is volgens Louis Esterhuizen, die skrywer van Klaarte..
Al die gedigte in sy twaalfde bundel is óf autobiografies, óf baseer op werklike gebeurtenisse uit sy lewe, het Esterhuizen by die bekendstelling van die bundel gesê.
“[’n] Gedig is eintlik so ’n intiem persoonlike ding. En jou taak as digter is om dit te probeer objektiveer sodat dit universeel aanklank vind by alle lesers. En om dit te doen is nogal ’n moeilike storie,” het Esterhuizen by die bekenstelling van Klaarte gesê. Die bundel is op 21 Mei by Oude Leeskamer in Stellenbosch bekend gestel.
Verder het Esterhuizen vertel dat heelwat van die gedigte in die bundel aan sy vrou, digter Marlise Joubert, opgedra is.
“[My vrou] word tagtig vanjaar. Ek wou vir haar ’n bundel gedigte skryf as ’n geskenk om haar ’n idee te gee oor die lewe saam met haar, en wat ’n vreugde dit is,” het hy gesê.

Gehoorlede van die bundelbekenstelling van Klaarte op 21 Mei by Oude leeskamer in Stellenbosch. FOTO: Kobus Erasmus
‘Jy kan nêrens kom sonder om te lees nie’
Digter en vryskutjoernalis, Danie Marais het tydens die bekendstelling die gesprek met Esterhuizen gelei. SMF News het die geleentheid bygewoon.
Oude Leeskamer is ’n nie-winsgewende organisasie wat as kunsgalery en publieke kultuur-hub in Stellenbosch dien.
Dit is volgens Délani Spies, letterkunde- en administratiewe-bestuurder by Oude Leeskamer.
“Vandag se geleentheid is nie net om die boekbekendstelling te doen nie, maar ook om ou vriende te verwelkom. Ons poog daarin om inklusief te wees vir alle Suid Afrikaners,” het Spies gesê. “Ons probeer die jeug meer betrek, en om alle stemme – Afrikaans en Engels [in te sluit.]”
Die bundel is gepubliseer deur Naledi uitgewers volgens Johan Coetzee, uitgewer by Naledi.
“Hierdie [bundel] van Louis is natuurlik ’n hoogtepunt vir ons. Louis is ’n sterk digter, en die resensies wat hy van Joan Hambidge en Fanie Olivier [ontvang het] was uitstekend,” het hy gesê.
Verder het Coetzee verduidelik hoe belangrik dit is dat jonger generasies belangstel in lees.
“Daar is nie eers twyfel dat lees die toekoms is, en moet wees nie. Om kinders weg te vat van selfone en tablette af, en dat hulle leesvaardig is, [is belangrik vir ons],” het hy gesê. “Jy kan nêrens kom sonder om te lees nie.”
Stellenbosse digter Louis Esterhuizen het sy twaalfde bundel, Klaarte, op 21 Mei by Oude Leeskamer in Stellenbosch bekendgestel. SMF News was by die geleentheid. VIDEO: Kobus Erasmus
