Kunsmatige intelligensie kan moontlik skeidsregters vervang

Kunsmatige intelligensie sal net skeidsregters vervang as ons wil hê dit moet gebeur. Die moontlikheid bestaan wel. Dit is deur Érik van der Vyver gesê by die Wêreld Intellektuele Eiendomdag-seminaar wat op 25 April plaasgevind het by STIAS op Stellenbosch. Wêreld Intellektuele Eiendomdag (IE) is op 26 April en hierdie jaar is die fokus op sport. Verskeie sprekers het die seminaar toegespreek.

415B5E40-9163-4971-AE7D-E4A2D088014C

Die algemene tema van die seminaar is getiteld Reach for gold. FOTO: Anke van der Merwe.

 

Van der Vyver sê dat sekere aspekte van sport vervang kan word deur kunsmatige intelligensie, maar net as ons dit toelaat. Hy het ‘n agtergrond in elektroniese ingenieurswese en rekenaarwetenskap, en hy is ook ‘n deeltydse dosent in intellektuele eiendom aan die Universiteit Kaapstad.

Van die redes hoekom kunsmatige intelligensie nie so vinnig vooruit beweeg in sport nie, is as gevolg van regverdigheid. “Party spanne het dalk nie die finansiële kapasiteit om die toestelle te kan bekostig nie. Spanne sal dan nie gelyke kanse hê om die wedstryd te beoordeel of te lees nie,” sê van der Vyver. Om die tegnologie te ontwikkel is ook nie bekostigbaar vir almal regoor die wêreld nie.

“Daar is natuurlik ook sekere aspekte wat kunsmatige intelligensie nie kan lees nie, soos menslike emosie.” Van der Vyver gebruik die voorbeeld van rugby, waar die televisie-skeidsregter nou gebruik word om te kyk of ‘n vuishou tussen spelers doelbewus was of nie. “Kunsmatige intelligensie sal net die vuishou kan lees en nie die bedoeling agter dit nie,” se van der Vyver. Die beoordeling sal dus nie altyd akkuraat wees nie.

Van der Vyver het ook  genoem hoe toestelle deesdae gebruik word om atlete se data te lees op die veld. “Daar is nie meer wegkruipkans op die veld nie. Al die data word direk na die afrigter gestuur en hy kan dan sien of die speler 100% gee of nie,” sê hy. Die toestelle is ongeveer so groot soos ‘n vuurhoutjieboksie en spelers dra dit onder hul truie.

Virtuele realiteit speel ook ‘n groot rol as dit kom by die beoefening van sport. Deur die omgewing te skep en daarna te kyk met virtuele realiteit, skep die brein spiergeheues en dit help op die ou einde om beter te presteer. “Om selfs net sport te kyk kan jou fiksheid verbeter,” sê van der Vyver.

4B04496E-95BE-48CE-9A23-F4E59B751DED

Daar was eSport gebeure by die seminaar waar spelers vir die publiek kon wys hoe intervarsity-toernooie werk. FOTO: Anke van der Merwe.

Prof. Sadulla Karjiker, prokureur en dosent by die regsfakulteit van Universiteit Stellenbosch (US), sê dat “Wêreld IE Dag ‘n World Intellectual Property Organisation (WIPO) inisiatief is wat die belangrikheid van IE wil beklemtoon”.

“Dit is belangrik dat jongmense bewus gemaak word van intellektuele eiendom en die potensiële waarde daarvan, en dit is van kardinale belang om ons ekonomie te laat groei.”

“Sommige van die waardevolste bates in vandag se tyd is nie in die vorm van tasbare eiendom nie, maar eerder intellektuele eiendom, soos handelsmerkepatente en -ontwerpe,” voeg Karjiker by.

Christo Smeda, wat een van die eienaars is van Superbar, sê dat “mense moet daaraan dink om dit waaraan hulle hard gewerk het, te beskerm.” Hy voeg by: “ek het nooit besef hoeveel daar is om te beskerm nie” [in terme van intellektuele eiendom].

Ander sprekers by die geleentheid het ingesluit John Foster, Grant van Velden van Maties Sport, en Joshua Fischer wat tans sy doktorsgraad aan US doen in ingenieurswese.