Blinde voetgangers ly weens ongehoorsame padgebruik

IMG_6772

Luigia Nicholas en haar gidshond Haiku gebruik die voetoorgang deur na die gonser van die verkeerslig asook aankomende verkeer te luister. FOTO: Annerine Snyman

Stellenbosch se toeganklikheid vir voetgangers is iets wat dié dorp uniek en gerieflik maak, veral vir studente wat meestal oral heen stap. Dit is egter soms minder gerieflik vir blinde voetgangers om in die dorp te beweeg. Om die pad te oorkruis, kan ’n uitdaging wees.

Rynhardt Kruger (29), ’n MSc-student in rekenaarwetenskap, meen dit is ’n groot probleem dat gonsers by sekere verkeersligte buite werking is.

Aangesien Kruger Stellenbosch goed ken, weet hy waar hierdie verkeersligte is en dit stel hom in staat om sulke verkeersligte te vermy. Hy neem bloot dan ’n ompad.

In gevalle waar gonsers nie werk nie en daar nie ompaaie tot sy beskikking is nie, luister Kruger na die karre wat parallel met hom ry. Wanneer hierdie karre ry, weet hy dit is veilig om te stap.

Luigia Nicholas (23), ’n BCom (Bestuurswetenskappe)-student, word deur haar gidshond, Haiku, begelei. Sy meen, soos Kruger, dat dit in elk geval veiliger is om altyd na die karre eerder as na die gonsers te luister.

Volgens haar is daar baie gonsers wat buite werking is in veral Merrimanstraat. Kruger beaam dit, maar voer verder aan dat byvoorbeeld Alexanderstraat geen voetoorgange het nie. Dit is volgens hom ’n algemene veiligheidsrisiko, aangesien daar baie studente in daardie straat woon.

In gevalle waar gonsers of verkeersligte buite werking is, verduidelik Johan Fullard, die Stellenbbosch-munisipaliteit se waarnemende bestuurder van paaie, vervoer en stormwater, dat ’n geskrewe versoek aan die munisipaliteit gerig kan word.

“Meeste van die voetoorgange het spesiale plaveisel, so jy kan voel waar hulle is,” sê Nicholas, maar voeg by dat meer gedoen kan word om blinde mense te help.

IMG_6767

Waar daar nie gonsers beskikbaar is nie, luister Nicholas slegs vir die verkeer. Haiku help haar ook om te weet wanneer sy kan stap. FOTO: Annerine Snyman

Fullard meen dat studente wat onwettig parkeer ’n groot probleem vir die munisipaliteit is.

“Ons is besig om hierdie kwessie aan te spreek deur verkeersboetes uit te reik. By ander areas word versperrings geplant of randstene word opgesit sodat toegang tot sypaadjies versper word,” sê hy.

Nicholas meen dat dit baie sal help indien karre nie op sypadjies parkeer nie, nie gewoon oor voetoorgange ry nie en oor die algemeen die padreëls volg.

Kruger voer ook aan dat die hoeveelheid voetoorgange op kampus nie die grootste probleem is nie, maar eerder die manier hoe mense dit hanteer.

“Ek het al voetoorgange teëgekom waar mense byvoorbeeld op die voetoorgang gestop het en baie verdigend word wanneer mens hulle daaroor aanvat,” sê hy.

Kruger verduidelik dat hy wel om so ’n kar kan beweeg of “oor ’n sloot klim”, maar dat dit aansienlik moeiliker is vir iemand wat ’n rolstoel gebruik.