Inperkings hap R100 miljoen uit Stellenbosch Munisipaliteit se begrote inkomste

Die Stellenbosch Munisipaliteit het verlede jaar R102 576 655 minder in inkomste deur munisipale dienslewering ingevorder as waarvoor begroot is. So het Gesie van Deventer, burgemeester van Stellenbosch, gesê in ’n spesiale raadsvergadering op 24 Februarie. Die toespraak is intussen op die munisipale webwerf beskikbaar gestel. 

“Die pandemie en inperking het hewige gevolge op ons inkomstestroom gehad,” het Van Deventer gesê.

Van Deventer het in die toespraak bekend gemaak dat Stellenbosch Munisipaliteit R24 846 872 minder in waterheffings, R65 388 139 minder in elektrisiteitsheffings en R12 341 644 minder in sanitasieheffings ingevorder het as waarvoor begroot is.

Die munisipaliteit moes gevolglik sy 2020/2021 begroting aanpas om die verlies aan inkomste van 2020 te verhaal, het Van Deventer gesê.

Die totale begrote munisipale inkomste vir dié tydperk was sowat R1.07 miljard. Daarteenoor is die werklike inkomste ingevorder sowat R970 miljoen. 

munisipaliteit

BRON: Stellenbosch Munisipaliteit. GRAFIKA: Carla Visagie.

Stuart Grobbelaar, woordvoerder van Stellenbosch Munisipaliteit, het gesê die munisipaliteit is in die “bevoorregte posisie” om “weens jare se goeie regeringspraktyke hierdie houe op die ekonomie te kan absorbeer”. 

Grobbelaar het verder gesê die afwesigheid van studente en personeel aan die Universiteit Stellenbosch (US) tydens 2020, “is beslis een van die aantal bydraende faktore” tot die aansienlike verlies aan inkomste in vergelyking met wat normaalweg deur basiese dienslewering ingevorder word.

munisipaliteit

Stellenbosch Munisipaliteit. FOTO: Carla Visagie

Volgens ’n 2018-studie deur Mia Slabber, ekonoom by die Buro vir Ekonomiese Ondersoek (BEO), dra US-verwante aktiwiteite gemiddeld meer as R5 miljard tot die plaaslike ekonomie by.

“Ons studie het gevind dat studente- en personeelbesteding ’n beduidende impak op die plaaslike ekonomie het,” het Slabber gesê. 

Die impak is egter nie beperk tot Stellenbosch nie. 

“Baie van die plaaslike besighede kry hul insette vanaf ander besighede in die breër omgewing. Dit beteken dat die hele waardeketting in gedrang is,” het Slabber gesê.

’n Verlate Rooiplein in Julie 2020 weens die afwesigheid van meeste studente aan die Universiteit Stellenbosch in 2020. FOTO: Carla Visagie

, , , ,