Hoërskool Stellenbosch maak skoonskip by interskole

Hoërskool Stellenbosch het vandeesweek vir die eerste keer in jare skoonskip gemaak tydens die Super-6 atletiek-interskole. Dit is volgens Emiel Nel, sportbestuurder van Hoërskool Stellenbosch. 

Die jaarlikse Super-6 interskole is op 21 Februarie by Coetzenburg in Stellenbosch gehou. Hoërskool Stellenbosch het teen Hoërskool Jan van Riebeeck, Hoërskool Vishoek, Worcester Gimnasium, Hoërskool Charlie Hofmeyr en Hoërskool Dirkie Uys deelgeneem, het Timon Viljoen, hoofseun van Hoërskool Stellenbosch, aan MatieMedia gesê.

Hoërskool Stellenbosch het die pawiljoen geestrofee, die atletiekbeker, en die trofee vir die algehele wenskool gewen, het Elana Meyer, uitvoerende hoof van Endurocad, aan MatieMedia gesê. Hoërskool Stellenbosch en Endurocad werk saam om atletiek by die skool te bevorder, het Meyer verduidelik. 

Emiel Nel, sportsbestuurder van Hoërskool Stellenbosch, en Haykey van Graan, die skool se atletiekdirigent, spog met die skool se wentrofees na die Super-6 atletiek-interskole. FOTO: Verskaf/Eileen de Beer

‘Almal het ingekoop’

Nel het vier jaar gelede by Hoërskool Stellenbosch aangesluit, en het vertel dat atletiek nie in daardie stadium ’n groot sport by die skool was nie.

 “Ons het ’n fantastiese matriekgroep wat in alle aspekte betrokke was,” het Nel gesê. “Toe ek vir hulle vertel het dat ons hierdie jaar die interskole gaan wen, het almal ingekoop, en ons het elke oggend hard geoefen.” 

Cay-Leigh Carolissen en Wiaan Martin, matriekleerders van Hoërskool Stellenbosch hou die Super-6 interskole wentrofee na afloop van die byeenkoms.  FOTO: Verskaf/Eileen de Beer

‘Gewoond om ’n bietjie harder te moet skree’

Volgens Viljoen is Hoërskool Stellenbosch ’n skool met baie gees, en hou hulle daarvan om vir mense te wys dat hul stemme gehoor sal word. “Ons is nie ’n baie groot skool nie,” het Viljoen gesê. “Ons neem deel teen groot skole, so ons is gewoond daaraan dat ons  ʼn bietjie harder moet skree om op dieselfde vlak te kom.” 

“Hierdie interskole was vir ons matriekgroep baie spesiaal – nie net omdat ons gewen het nie, maar ook omdat 90% van die matrieks deel was van die dag,” het Nina Odendaal, hoof van die geespawiljoen en pom-pom meisies, gesê.

Hoërskool Stellenbosch se geesdirigente in kostuum voor die aanvang vanjaar se Super-6 interskole. V.l.n.r. Jeanina van der Westhuizen, Matthew Wood, Jesmicah September, Sebastian Smit, Marina van Niekerk, Anné Lesch, Hayley van Graan, Nina Odendaal, Mila Goussard, Mia van der Merwe en Wildene Felton. Voor: Lida de la Bat en Annali Barnard. FOTO: Verskaf/Ruben Sander

, , ,