Helshoogte betrek Maties Paw by Hoenderdag

Helshoogte-manskoshuis wil met vanjaar se Hoenderdag, wat Saterdag plaasvind, Maties Paw, ’n dierewelsynsorganisaie aan die Universiteit Stellenbosch (US), steun om bewustheid rondom dieremishandeling te bevorder.

Dié koshuis is verlede jaar skerp gekritiseer op sosiale media nadat ’n feesganger ’n hoender na die geleentheid gebring en mishandel het. Foto’s het aan die lig gekom wat gewys het hoe die hoender tydens die fees alkohol en sigarette gevoer is.

Hoenderdag is een van die grootste kampusgebeurtenisse aan die US en vind gedurende Hoenderweek plaas, wat toegewy is aan die koshuis en hul simbool, die haan.

Die koshuis het, volgens primarius Frederik van Dyk (21), besluit om vanjaar iets te doen wat ten bate van die gemeenskap sal wees.

Dié koshuis, met behulp van ander koshuise en PSO’s soos Heemstede, Irene, Oude Molen, Erica en Aristea, sal poog om honde-, kat- en voëlkos sowel as gebottelde water in te samel en aan Maties Paw te skenk.

Volgens Van Dyk het die voorval afbreek gemaak aan hul simboliek as ’n koshuis wat deel is van die gemeenskap.

“As prim is dit vir my belangrik dat ons dit regstel en sê ons kan pret hê, maar terselfdertyd die lewe ernstig opneem deur te identifiseer dat daar regtig nood is onder die kwesbares in die samelewing en dit is natuurlik diere.”

Volgens Tian Swiegers (21), een van die organiseerders van Hoenderdag, kan Helshoogte ’n verskil help maak, en Maties Paw weet waar die nood die ergste is.

IMG 2.jpg

Die hoender wat verlede jaar in die lug gegooi is en ’n sigaret gevoer is. FOTO: Facebook

Tassin Jackson (23), Maties Paw-ondervoorsitter, sê die organisasie is baie opgewonde en bevoorreg om vanjaar met Helshoogte saam te werk.

“Ek haal regtig my hoed af vir Helshoogte om ’n verskil te maak.”

Jackson doen ook ’n beroep op ander koshuise om betrokke te raak by sulke inisiatiewe aangesien dit ’n groot verskil vir diere kan maak.

Maties Paw hoop dat hierdie soort projekte suksesvol sal wees vir baie jare.

IMG 3.jpg

Maties Paw en Helshoogte doen ’n beroep op ander om ’n bydrae te lewer. FOTO: Facebook

As gevolg van die koshuis se opknapping, wat van 2018 tot  2020 sal strek, gaan die Hoenderdag-geleentheid in die parkeerterrein tussen Helshoogte en Eendrag plaasvind.

Feesgangers kan goeie musiek, lekker kos en koue drinkgoed verwag. Feesgangers kan by die hek skenkings vir Maties Paw lewer.

,