Stellenbosch gee Israel-Apartheidweek die koue skouer, meen pro-Palestyn studente

Die jaarlikse Israel-Apartheid Week (IAW) het ontevredenheid van studente ontlok oor die afsydige houding wat glo in Stellenbosch heers ten opsigte van die Palestynse stryd om vryheid en selfbeskikking.

Foto 1.jpg

US-studente wat ’n paneelgesprek om Palestynse selfbeskikking by Irene-dameskoshuis bywoon. FOTO: Ross Michaels

IAW is ’n jaarlikse internasionale reeks byeenkomste van protesoptogte, gesprekke, kulturele opvoerings, konserte en werkswinkels wat die konflik in Israel en Palestina vergelyk met die sosio-politieke euwels van Suid-Afrika onder Apartheid.

Die Universiteit Stellenbosch Studenteraad (SR), die Muslim Student Association (MSA) sowel as die South African Students Congress (SASCO) het vanjaar koppe bymekaar gesit om die IAW in Stellenbosch te reël.

Dit het Maandag afgeskop met ’n openingsdialoog op die Rooiplein, gevolg deur ’n paneelgesprek Dinsdag en ’n dokumentêre vertoning op Woensdag. Hierdie funksies het opgebou tot die finale samevattingsgesprek met Professors Thuli Madonsela en Farid Esack in die US-museum Donderdagmiddag.

Onder die tema van Afro-Palestynse solidariteit het IAW vanjaar gefokus op Israel se “apartheidswette” teen die Palestyne, sowel as die xenofobiese wette teenoor Afrika-vlugtelinge van oorlogsones.

fOTO 2.jpg

Demonstrasie by die Universiteit van Kaapstad illustreer die Israel-Palestina konflik. FOTO: Facebook

Palestina het baie steun in Suid-Afrika. In Desember het die Tshwane Universiteit van Tegnologie besluit om Israeliese instansies te boikot “totdat Israel sy onwettige besetting van Palestynse grond beëindig” het die Mail & Guardian berig.

In dieselfde maand het die ANC se nasionale konferensie besluit om Suid Afrika se diplomatieke verhoudinge met Israel na die laagste vlak te verlaag.

Sifiso Mbedo-Zungu, verteenwoordiger van SASCO, meen egter dat Stellenbosch nie dié solidariteit steun nie.

“Dit is so moeilik om [Stellenbosch] studente bymekaar te bring. Maar as ons ’n geleentheid kan skep om te dink en doen as ’n groep, sal ons nie skaam wees om oor sulke kwessies te praat op die Rooiplein nie.”

Abdallah Grifat, ’n Palestynse immigrant en ’n student aan die Universiteit van Kaapstad (UK), meen dat die probleem nie uitsluitlik in Stellenbosch is nie, maar ook op die UK-kampus plaasvind.

“Is dit regverdig van die UK om te sê dat ons sê dat IAW die plaza moet deel met Sioniste? Sou jy as Amerika Black Lives Matter en Ku Klux Klan-vergaderings in dieselfde plek hou?”