Timothy Ontong, of “Timo”, soos sy vriende hom noem, woon van kinds af in Pniël, ’n klein dorp buite Stellenbosch in die hart van die Boland. Hier het hy lief geraak vir sy gemeenskap én vir musiek. SMF News het met hom hieroor gesels.

Timothy Ontong, oftewel GKtimo, by sy huis in Pniël, waar hy al sy musiek skryf en vervaardig. Timo in Pniël grootgeword, en hierdie gemeenskap speel ’n groot rol in die maak van sy musiek. FOTO: Dylan Lackay
Timothy Ontong sit in sy slaapkamer. By hom is sy oorfone, ’n skootrekenaar, ’n mikrofoon, sy oudio-koppelvlak en ’n skaatsplank. Dit is al wat hy nodig het om musiek te maak wat die Afrikaanse rymkletswêreld op sy kop kan keer.
Professioneel staan dié opkomende rymkletskunstenaar bekend as GKtimo. En op 22 het GKtimo groot drome om Afrikaanse rymkletsmusiek te maak wat vernuwend is.

GKtimo vervaardig sy musiek in sy selfgemaakte-ateljee in sy ouerhuis. Die musikant, wat onder sy vriende bekend staan as Timo, beskryf homself as ’n “bedroom artist” wat heeltemal onafhanklik musiek skep. Hy vervaardig en skryf al sy musiek self, en doen ook sy eie bemarking. FOTO: Dylan Lackay
’n Diep liefde vir musiek
Timo se liefde vir musiek het nie per toeval op sy pad beland het nie.
“My liefde vir musiek kom van die mense rondom wie ek grootgemaak is,” het hy gesê. “My pa het klavier gespeel en het vir my die klavier geleer van ’n jong ouderdom af. Ek het klavier en kitaar gedoen.”
Dié liefde vir musiek is iets wat Timo van jongs af met sy ouer broer, Joel Ontong, kon deel. Dit speel vandag steeds ’n groot rol in die hegte verhouding tussen die twee broers. Joel, wat tans as ’n kuns-en-vermaakjoernalis by News24 werk, praat met trots oor sy broer se musiek.
“Timothy het ’n nuuskierigheid oor musiek wat baie refreshing is,” het Joel gesê. “Hy gee om oor die craft en die artistry daarvan.”
’n Musiekloopbaan op die skoolbanke gebore
Timo se loopbaan as musikant het op hoërskool begin. Dit is waar hy ernstig begin raak het oor musiek.
Hy was van graad 8 tot graad 12 ’n leerder by Hoërskool Stellenbosch. Hy het oorspronklik begin as ’n musiekvervaardiger wat beats verkoop het aan ander rymkletskunstenaars, onder die verhoognaam, TimoThePlug. Terwyl hy op daardie stadium nie baie trekkrag in die bedryf gehad nie, het hy steeds gereeld van sy beats op YouTube gelaai.
Volgens Jarryd Myburgh, een van sy hoërskoolvriende, het Timo destyds amper elke week beats op YouTube opgelaai.
Een van sy vriende by die skool het hom toe gesmeek om te probeer om ’n gqom-beat te maak. Gqom-musiek was nie regtig sy styl nie, maar Timo, toe maar skaars 15, het dit nietemin probeer en het die beat op YouTube opgelaai.
Na ’n jaar op YouTube het ’n beroemde Suid-Afrikaanse rymkletskunstenaar een van sy gqom-beats gebruik en dit in ’n liedjie verander. Daardie kunstenaar was die welbekende Tashreeq de Villiers, beter bekend as TDV Ricky Vani Frontline. Die liedjie was die groot treffer, Ricky Opi Beat, wat sedert 2020 meer as twee miljoen Youtube-kyke gekry het. Dit was beslis Timo se eerste groot oomblik in die kollig as ’n musiekvervaardiger.
Sedert 2020, het Timo ook as rymkletser ’n naam vir homself begin maak. Hy werk steeds hard om homself onder groter gehore te vestig, maar het aan SMF News gesê dat hy al reeds baie respek en erkenning ontvang het van groot name in die musiekbedryf.
“Luda G is soos die grootse Afrikaanse rapper in die land, en ek ken al vir hom van 2020 af,” het hy gesê. “Ek het ’n paar maande terug by die Taalmonument perform saam met Jitsvinger, wat gesien word as een van die pioneers van Afrikaanse rap.”
Timo het ook al vir die Afrikaanse rymkletskunstenaar, Early B geopen by ’n optrede.
Sy trotsste oomblik was egter toe hy en sy goeie vriend, wat bekend is as, ChefStibo, in 2025 ’n album met die naam, GKCHEF, vrygestel het. Timo sien dit as die hoogtepunt van sy loopbaan.
“Dit was so surreal om al daai liefde te voel vir ’n album wat ek en my vriend gemaak het,” het hy gesê. “Mense sê vir my nou nog dit was hulle favourite album van 2025.”

Die Afrikaanse rymkletskunstenaar GKtimo speel self ’n paar instrumente, insluitend klavier en kitaar. Wanneer hy sy eie musiek vervaardig, speel hy gewoonlik self die instrumente wat daarop gehoor kan word. In hierdie foto is al die toerusting wat hy gebruik om musiek te vervaardig. FOTO: Dylan Lackay
’n Plek in die Afrikaanse rymkletsprentjie
Timo praat met baie passie en trots oor die liefde wat hy vir die Afrikaanse rymklets-gemeenskap het. Hy identifiseer baie met hierdie soort musiek en dit laat hom voel asof hy gesien word, veral as ’n bruin persoon in die Wes-Kaap.
“Dis soos die rouste vorm van musiek wat ’n Afrikaanse coloured persoon kan maak,” het hy gesê. “Ek hoef nie ’n Amerikaanse accent op te sit om gehoor te word nie. Ek kan net soos myself klink.”
Hy dink na oor waar hy in die Afrikaanse rymklets-prentjie pas.
“Ek wil die Afrikaanse rapper wees wat meer vulnerable is, en wat definitief nie conform na mainstream genres of die mainstream sound nie,” het hy gesê. “Ek wil net musiek maak vir coloured kinders wat altyd gesê was hulle is weird. Ek wil musiek maak vir kinders soos ek. Dit moet ’n comfort place wees vir daai mense.”

GKtimo met sy geliefkoosde skaatsplank. Skaatsplankry is een van Timo se gunstellingstokperdjies, en die skaatsplankkultuur het ook ’n groot invloed op sy musiek en identiteit as ’n kunstenaar. FOTO: Dylan Lackay
Sy grootste inspirasies
Timo beskryf sy musiek as “alternative hip-hop” of “underground rap” en hy vind inspirasie in baie verskillende genres. Hy raak opgewonde wanneer hy praat oor hoe die SoundCloud-beweging in die middel 2010’s in Amerika sy musiek beïnvloed het.
“Daai is die truest culture van underground artists en ’n community waar vriende net na mekaar uitreik en musiek create met no real goal in mind behalwe om net iets uniek te maak,” het Timo gesê.
Hy het ook ’n groot liefde vir 2000’s rock en metal. Timo sê dit het ’n groot invloed op sy eie musiek gehad omdat baie van daardie musiek gekom het van “frustrated youths” af. Hulle musiek het by hom geresoneer. Hy wil graag met soveel verskillende genres as moontlik eksperimenteer.
Teen die muur van sy kamer staan daar ’n skaatsplank wat een van Timo se grootse inspirasies verteenwoordig. Skaatsplankry, en die kultuur wat daarmee gepaardgaan, is iets wat baie naby aan Timo se hart lê. Dit was nog altyd ’n kultuur wat hand aan hand gaan met rymkletskultuur.
“Alles wat kom met skate culture – die vriende, die bails, die injuries, die landings – dis alles baie emotional en baie intense. En ek voel ek vind ’n manier om dit in my music te translate,” het hy gesê.

GKtimo besig met toertjies op sy skaatsplank by sy ouerhuis op Pniël. Wanneer hy nie besig is om musiek te maak nie, kan hy gereeld rondom die dorp gesien word met sy skaatsplank, besig om toertjies te oefen. FOTO: Dylan Lackay
’n Groter doel
In die week bevind Timo homself egter nie in sy slaapkamer-ateljee nie.
Hy is ook ’n gekwalifiseerde sonograaf, en werk in ’n kliniek in ’n Kaapse voorstad. Hierdie werk gee vir hom daagliks die geleentheid om pasiënte te help. Dít, saam met die musiek, het hom laat besef wat sy regte doel in die lewe is.
“Ek is baie passionate oor my werk, want ek help mense,” het hy gesê. “Miskien is my purpose nie net om musiek te maak nie, maar om mense te help deur die musiek wat ek maak. […] Ek sien my job [musiek] en day job [as sonograaf] dus as ewe belangrik, want ek dink altwee dra by tot die groter purpose wat ek dink ek het.”
