Gemeenskap in donker, koue en swak sanitasie gehul

Inwoners van Mandela City, ’n informele nedersetting in Klapmuts, is reeds vir etlike jare sonder elektrisiteit en moet boonop uiters swak sanitasie óók trotseer. Dit is volgens Sam Chabedi en Luntukazi Magatya, gemeenskapswoordvoerders van Mandela City.

swak

“Ons bel en praat konstant met Eskom oor die probleem, maar niks gebeur nie. ’n Groot deel van die inwoners in Mandela City het geen toegang tot wettige elektrisiteit nie en gaan daarom oor tot ‘izinyoka’, die onwettige verbinding van elektrisiteit,” het Luntukazi Magatya, ’n gemeenskapswoordvoerder,  beweer. FOTO: Nazley Wilschutt

“Ons is bewus van die uitdagings in die informele nedersetting met betrekking tot elektrisiteit en sanitasie,” het Stuart Grobbelaar, woordvoerder van Stellenbosch Munisipaliteit, per e-pos aan MatieMedia gesê.

Volgens Grobbelaar, spruit hierdie probleme hoofsaaklik uit kabeldiefstal, die elektrisiteitstoevoer vanaf Eskom en vandalisme. 

“Spanne van die munisipaliteit het einde Mei die toiletgeriewe in die area ten volle herstel en vandeesmaand is ’n groot aantal toilette weer gebreek, gevandaliseer of gesteel,” het Grobbelaar gesê.

Die munisipaliteit is, volgens Grobbelaar, besig om Mandela City in fases op te gradeer.

‘Dit is koud, donker en ondraaglik’

Volgens Chabedi en Magatya, gaan Mandela City vir jare reeds gebuk onder bogenoemde probleme. “Ons het geen elektrisiteit nie en moet óf paraffienstowe gebruik, óf buite vuur maak,” het hulle gesê.

Chabedi en Magatya het verder gesê hulle is bewus daarvan dat party inwoners hulle tot onwettige elektrisiteitverbindings wend, en meen mense doen dit juis omdat Eskom glad nie meer na die gemeenskap kom om die probleem op te los nie. 

swak

Die gemeenskap van Mandela City is grootliks afhanklik van paraffienstowe, -lampe en kerse, sê Luntukazi Magatya, ’n gemeenskapswoordvoerder.“Twee-liter paraffien sal hou vir een enkele dag en nie almal van ons is werkend nie,” het Magatya gesê. FOTO: Nazley Wilschutt

“Mense het daarom nie veel van ’n keuse nie,” het hulle beweer. 

“Eskom sê hulle kan nie meer na die gemeenskap kom nie as gevolg van die onwettige verbindings. Maar nie almal het hierdie verbindings nie,” het hulle gesê.

Die elektrisiteit is egter nie die enigste struikelblok vir hierdie gemeenskap nie. “Mandela City het tans net drie werkende toilette wat ’n groot deel van die inwoners moet gebruik,” het Chabedi en Magatya gesê ten tyde van ’n onderhoud aan die begin van Junie.

stemgreep

Luntukazi Magatya, ’n inwoner van Mandela City in Klapmuts, praat oor die impak van ’n gebrek aan elektrisiteit. STEMGREEP: Nazley Wilschutt

“Die toilette word net een keer per dag skoongemaak. Dit is ’n ongesonde omgewing, nie net vir bejaardes nie, maar vir die kinders ook,” het Chabedi en Magatya gesê.

swak

Vir die inwoners van Mandela City was daar ten tyde van die onderhoud in Junie net drie toilette wat ’n groot deel van die gemeenskap moet gebruik. “Daar is tien toilette altesaam in Mandela City, en net drie van hulle kan gebruik word. Die res is stukkend,” het Sam Chabedi en Luntukazi Magatya, woordvoerders van Mandela City aan MatieMedia gesê. FOTO: Verskaf/Masabata Makapa

Volgens Chabedi en Magatya is daar ook net een werkende kraan waar die inwoners water kan kry.

Alicia Martin woon die laaste drie jaar in Mandela City en het gesê niks word aan hul situasie gedoen nie.

“Kerse en paraffienstowe is ons voorland. Ek het twee kinders wat asma het en die gebruik van hierdie stowe maak hulle net sieker,” het Martin tydens ’n telefoongesprek aan MatieMedia gesê.

swak

Baie  inwoners van Mandela City moet tans buite vuur maak om kos voor te berei. Verskaf/Masabata Makapa

Vir Magatya, wat reeds vir 5 jaar in Mandela City woon, is die situasie ondraaglik. Magatya sê die inwoners wil nie meer sonder elektrisiteit wees nie. 

Luntukazi Magatya woon reeds vir vyf jaar in Mandela City, ’n informele nedersetting in Klapmuts. Volgens Magatya is die gemeenskap “gefrustreerd en moedeloos” en wil nie meer sonder elektrisiteit wees nie. FOTO: Nazley Wilschutt.

“Ons kan nie meer so leef nie. Dit is koud en dit is donker,” het sy gesê.

Onwettige verbindings en vandalisme

Volgens ’n verklaring wat aan MatieMedia gestuur is, is Eskom bewus van die elektrisiteitsprobleme in Mandela City en skryf hulle dit toe aan vandalisme en onwettige verbindings.

“Onwettige verbindings en vandalisme van infrastruktuur het gelei tot langdurige kragonderbrekings wat die betalende kliënte van Mandela City raak,” het die verklaring gelees. 

Volgens dié verklaring, word Eskom-tegnici herhaaldelik na die gebied uitgeroep om die onwettige verbindings te verwyder en die elektrisiteitstoevoer te herstel.

“Sodra herstelwerk voltooi is en die elektrisiteitstoevoer herstel is, word die onwettige verbindings vervang sodra tegnici die gebied verlaat,” het die verklaring verder gelees.

Eskom het volgens die verklaring gemeenskapsleiers, raadslede en ander belanghebbendes betrek om oplossings tot die probleem te probeer vind.