DA maak stem dik teen brandstofprysverhogings

DA

Motoriste het op 31 Mei tou gestaan om seker te maak dat hulle motors vol is voor die brandstofprys op 1 Junie ’n rekord hoë prys bereik het, volgens dr Leon Schreiber, DA-parlementslid en die kiesafdelingshoof van die Stellenbosch Munisipaliteit. FOTO: Karla van der Merwe

Motoriste kan aan die begin van Julie verdere skerp verhogings in die brandstofprys te wagte wees. Wat Julie se verhogings betref, sal daar slegs ’n 75c-verligting op die petrolprysheffings wees, volgens Tracy-Lee Solomon, ’n junior ekonoom by die Bureau for Economic Research in Stellenbosch. 

“Dit beteken dat ons ’n verhoging van omtrent R2,61 per liter moet verwag vir volgende week,” het sy op 27 Junie per e-pos aan MatieMedia gesê. “As daar geen verdere aankondigings is nie, sal die verligting in Augustus eindig.” 

Die huidige verligting op die petrolprysheffings staan tans op R1,50, volgens ’n persverklaring deur die Automobiel Assosiasie (AA).

Julie se verhogings sal volg op Junie se prysaanpassings van R2,43 per liter vir petrol en R1,10 per liter vir diesel. Lede van die Demokratiese Alliansie (DA) het in aanloop tot die Junie-verhogings opgetrek na die BP-petrolstasie in Merrimanlaan, Stellenbosch waar hulle hul ontevredenheid teen die verdere verhogings te kenne het. Tydens dié demonstrasie van 31 Mei het aktiviste die regering versoek om petrolpryse te verlaag, volgens dr Leon Schreiber, DA-parlementslid en die kiesafdelingshoof van die Stellenbosch Munisipaliteit.

DA

Verskeie Demokratiese Alliansie-raadslede van die Stellenbosch Munisipaliteit het op 31 Mei oorkant die BP-vulstasie in Merrimanlaan bymekaargekom om hulle ontevredenheid oor die brandstofprysverhogings uit te spreek. FOTO: Karla van der Merwe

“Die boodskap is baie duidelik: Mense kan nie meer bekostig om hierdie brandstofverhogings te absorbeer nie en die groot probleem is dat 33% van die prys belasting is,” het Schreiber gesê. “Ons beroep is om daai belastings te sny en dus ook om [brandstofpryse] te dereguleer … sodat verkopers kan kompeteer met mekaar en op daai manier dan die prys [te kan] verlaag.”

Volgens Carli van Wyk, Stellenbosse wyksraadlid van wyk agt, is dit “baie belangrik dat die regering hul rol speel om seker te maak dat die verbruikers nie die prys voel nie”.

“Dit is nodig van die regering om seker te maak dat die belasting op petrol [dadelik verminder word], want anders gaan die verbruikers net te swaar kry,” het Van Wyk gesê. 

Schreiber het gesê die 13 Mei-demonstrasie is deel van ’n “rollende aksie” wat die DA gaan hê. Hy het ook genoem mense kon verwag om hulle in die komende weke raak te sien by verskillende plekke waar groot volumes verkeer is. 

Taxibestuurders voel die pyn

DA

Volgens dr Leon Schreiber, DA-parlementslid en die kiesafdelingshoof van die Stellenbosch Munisipaliteit, vergeet mense dikwels hoe die brandstofprysverhogings taxibestuurders en -pendelaars beïnvloed. FOTO: Karla van der Merwe

Taxibestuurders en -pendelaars is volgens Schreiber onder diegene wat die hardste deur die verhogings getref gaan word. “’n Taxibestuurder wat nou 11% meer moet betaal vir brandstof, gaan 11% meer in fooie vir iemand wat die taxi gebruik, moet vra,” het Schreiber gesê.

Dominic Carelse, ’n taxibestuurder wat tussen Eersterivier en Stellenbosch ry, het egter verduidelik dat alhoewel die brandstofprys opgegaan het, taxibestuurders hul fooie dieselfde hou. “Almal neem die taxi om geld te spaar op hulle petrol,” het hy gesê. “Jy kan hulle nie te veel vra nie.”

Volgens Carelse en Goolzar Moses, ’n taxibestuurder wat tussen Somerset-Wes en Stellenbosch ry, beïnvloed die brandstofprysverhoging hulle salarisse die meeste. Carelse het gesê taxibestuurders moet steeds aan die einde van die dag ’n sekere mikpunt vir hulle werkgewers bereik. Hy het verduidelik dat dít nou moeiliker gaan wees met die duurder brandstofpryse. “Teen die einde van die dag is dit ons wat verloor,” het hy gesê.

DA

Goolzar Moses, ’n taxibestuurder wat tussen Somerset Wes en Stellenbosch ry, het genoem dat hulle moontlik eers teen November hulle fooie sal kan duurder maak. FOTO: Karla van der Merwe

Moses het verduidelik dat hy elke dag tussen vier of vyf groepe van 15 mense vervoer. As hy elke pendelaar teen R20 per rit vervoer, maak hy dan omtrent R1500 per dag. Omdat hy egter ook elke dag brandstof moet ingooi, krimp sy salaris met elke styging van die brandstofprys. 

“Ek het dieselfde kliënte, dieselfde hoeveelheid groepe vir die dag, maar my salaris raak net minder,” het hy gesê. “Daar is minder as ’n R1 000 oor daarvan aan die einde van die dag.”

Verlengde brandstofheffingverligting met ope arms verwelkom

Volgens die bogenoemde persverklaring van die AA het die regering op 31 Mei aangekondig dat hulle die brandstofheffingverligting se tydperk sal verleng om Junie en Julie in te sluit. 

“In ’n gesamentlike verklaring wat vandag vrygestel is, het die ministers van finansies en minerale hulpbronne en energie die verlenging van die vermindering van R1,50 tot die algemene brandstofheffing (GFL) vir Junie aangekondig,” lui die verklaring. 

DA

So het die brandstofpryse in Julie aan die kus gestaan nadat dit volgens dr Leon Schreiber, DA-parlementslid en die kiesafdelingshoof van die Stellenbosch Munisipaliteit, met 11% gestyg het. GRAFIKA: Karla van der Merwe

Solomon het gesê sonder hierdie verlenging sou die verhogings “definitief verbruikers se sakke seergemaak het”.

“Van die begin van die jaar af het die prys van [95-oktaan-petrol] met R4,56 per liter opgegaan. As dit nie vir die brandstofheffingverligting was nie, sou dit meer as R6 wees,” het Solomon per e-pos gesê. 

Sy het egter bygevoeg dat ’n mens eers later sal kan aflei of die verdere verligting die regte keuse was. “As ons ’n afname in die olieprys sien, het die regering verbruikers beskerm teen die ergste van die petrolprysverhogings. As pryse egter aanhou om te styg, het hulle slegs die pyn van die verhogings uitgestel,” het Solomon gesê.

Sy het verduidelik dat die verligting ten koste van die land se fiskus uitgereik is. Die verlenging sal die fiskus na beraming R4,5 miljard kos, volgens Solomon. 

Schreiber het per e-pos aangedui dat die DA binnekort hulle wetsontwerp om brandstofpryse te dereguleer in die Parlement gaan voorlê. 

“As deel van die proses gaan ons Suid-Afrikaners nooi om formeel hul steun vir die wetsontwerp uit te spreek,” het hy gesê. “Meer as 130 000 mense het tot dusver ons petisie teen brandstofbelastings onderteken, en ons nooi alle Suid-Afrikaners om hul stem by ons verset teen onbekostigbare brandstof- en kospryse te voeg.”

, ,