Draaie op die kuns-karoo: Gideon Lombard se onverwagse reis

Gideon Lombard is ’n teaterverkleurmannetjie: Die 35-jarige Namibiër is ewe gemaklik as akteur – op die kassie, óf die verhoog – regisseur, skrywer, stelontwerper en beligtingsfundi. SMF News se Sebastian Paulus het met hom gesels oor sy loopbaan in die Afrikaanse rolprent-en-teaterbedryf. 

 In 2015, het Gideon Lombard sy televisie-debuut gemaak in die sepie Suidooster, waar hy vir vier jaar die rol van Stefan Gerber vertolk het. FOTO: Instagram/Gideon Lombard

“Van kleins af word jy geleer dat nuuskierigheid nie altyd ’n baie goeie karaktereienskap is nie, sê Gideon Lombard, maar vir hom is dit juis hierdie nuuskierigheid wat sy reis vanaf Namibië na die Suid-Afrikaanse vermaaklikheidbedryf die moeite werd gemaak het. 

Lombard se pad het in 2009 die eerste keer met drama gekruis, toe hy in sy eerste jaar as Afrikaans en Nederlandse-taalstudent by die Universiteit van Kaapstad, ’n verpligte addisionele vak moes kies as deel van sy graadkeuse.

“Ek het drama gekies, en myself oortuig dit kan nie skade doen om iets nuuts te probeer nie,”  sê hy. Dit is hier waar die akteursgogga vir Gideon gebyt het.

Anders as meeste van sy vriende in die rolprent- en teaterbedryf het hy nie altyd geweet dat hy ’n akteur wil word nie, vertel hy.

“Ek is ’n baie nuuskierige mens,” sê Gideon. “Ek het baie verskillende belangstellings en stokperdjies gehad.” 

Hy onthou hy was was nog bloedjonk toe hy sy eerste teaterrol losgeslaan het. “ Ek was maar net 23 toe ek my eerste rol losgeslaan het – in die teaterstuk “Miskien”. Ek was vir sewe jaar deel van die produksie en kon ook sodoende deur die land toer,” sê Gideon.  

 Gideon Lombard en Emma Kotze, op die stel van “Goed wat wag om te gebeur”. In hierdie stuk vertolk hy die rol van Hendrik, ’n alkolis en dwelmverslaafde. FOTO: Verskaf/Woordfees

Goed wat wag om te gebeur

Een van die mense wat Gideon tydens sy loopbaan die geïnspireer het, is Philip Rademeyer, ’n dramaturg en regisseur.

“Ek het Philip op universiteit ontmoet. Ek was besig met voorgraads en hy was besig met sy meestersgraad,” verduidelik Gidoen.

In 2016 het hy in Philip se teaterstuk “The Graveyard” – later vertaal na Afrikaans as “Goed wat wag om te gebeur” – die rol van Hendrik, ’n  alkoholis en dwelmverslaafde man, begin vertolk.

Vir Gideon, wie self voorheen met dwelmverslawing gesukkel het, was die rol ’n baie groot eer en uitdaging.

“Baie Suid-Afrikaners staar daagliks verslawing in die gesig en dit laai baie pyn en trauma op sulke families,” meen Gideon. “Wanneer jy so ’n rol vertolk, is dit baie belangrik dat jy jouself in die karakter kan sien en ek het altyd myself in Hendrik se rol uitgeleef,’’ sê hy.

Ná afloop van die sukses van “The Graveyard”, is die teateaterstuk sedert 2016 verwerk na ’n  Afrikaanse-produksie, en by feeste soos die 2023 Toyota US Woordfees en KKNK opgevoer. 

“The Graveyard” is ’n baie donker stuk en dit was ’n baie moeilike stuk om na Afrikaans te vertolk, maar dit was vir my belangrik om Hendrik se storie te vertel. Daar is niemand wat die rol better as Gideon kon vertolk nie,” sê Philip. 

Gideon se impak op die teaterbedryf het nie net beperk gebly tot sy werk as akteur nie. Hy is ook regisseur. 

“Sy unieke benadering tot regie en sy vermenging van verskeie kunsvelde het baie produksies gelewer wat gewild is vir hul kreatiewe vernuf,” sê Philip.

Een van die teaterstukke wat vanjaar sy regisseurvaardighede in die kollig geplaas het, is “Karatara”,  ’n stuk wat hy self geskryf en geregisseer het. 

“Met ‘Karatara’ het ek probeer om verskeie kunsvorms, insluitend teater, musiek en dans, saam te smelt,” verduidelik Gideon. “Dit was ’n eksperimentele produksie wat vir my as kunstenaar ’n nuwe horison geopen het.” 

Gideon Lombard het in 2021 sy eerste Suid-Afrikaanse film- en televisie-toekennings (SAFTA)-nominasie ontvang vir sy rol in die kortfilm STAM. FOTO: Verskaf/ Gideon Lombard

 Stefan se kombuis

Vir 4 jaar lank het Gideon die rol van Stefan Gerber, ’n sjef en entrepreneur in die sepie Suidooster, vertolk. “Dit is baie selde wat jy die geleentheid kry om van die begin af deel te wees van ’n Suid-Afrikaanse sepie. Die meeste van hulle bestaan reeds vir jare,” sê Gideon. 

“Stefan het baie knoue van die lewe gekry, en ek het self baie by hom geleer. Hy was nie iemand wat bly lê het nie; hy het altyd baklei vir wat hy in glo,” vertel Gideon.

Hy glo dat die rol van Stefan vir hom baie deure oopgemaak het, en die stel van Suidooster vir hom ’n baie gemaklike plek geraak het.

“Ek was baie duidelik oor die feit dat ek nie vir meer as 1 000 episodes by Suidooster wou bly nie. Daar is soveel ander dinge wat ek nog wou doen en mens raak baie vinnig gemaklik by ’n sepie” sê Gideon.

Hy het in Februarie 2020 sy 1 000ste episode as een van die oorspronklike akteurs by Suidooster verfilm en was tot April 2020 in die rol te sien. Kykers sal steeds onthou dat Stefan en sy vrou en kind, Michelle en Quinton, in die sepie verhuis het.

Simone Bicombe, wie die rol van Bianca, die ma van Stefan se kind, in die sepie vertolk  beskryf  hom as “hardwerkend en vasberade. Simone en Gideon het vir 4 jaar saam gewerk by Suidooster.

Alhoewel Gideon deesdae nie meer so prominent op die kassie verskyn nie, glo dat hy wel dat hy weer in die toekoms Stefan se voorskoot sal optel. “Stefan se hoofstuk is nog nie heeltemal afgesluit nie,” sê hy.

Ek is baie dankbaar vir die geleenthede wat ek gehad het, en die mense wie oor my pad gekruis het.

 Balans is belangrik

Dit is baie moeilik vir hom om sy glimlag weg te steek wanneer hy van sy verloofde, Olga Rademan begin praat. Gideon het in Mei 2023 die ja-woord aan haar gevra.

Hy skryf sy sukses aan haar en al haar ondersteuning toe. “Ek en Olga is al baie lank saam. En glo dat ek nie vandag hier sou gewees het, as dit nie vir haar ondersteuning was nie,” sê Gideon.

“Olga is ’n chirurg, wie se skedule nog moeiliker is as myne. Maar dit bly vir ons belangrik dat ons altyd tyd maak vir mekaar en daardie balans tussen werk en af-tyd vind,” vertel Gideon.

Hy meen dat dit nie altyd maklik is om die balans tussen sy professionele en persoonlike lewe te handhaaf nie. “Dit voel soms asof ek nie ’n baie goeie werk daarvan doen om ’n goeie balans te skep nie maar, ek probeer my bes. Wanneer ek nie werk nie, probeer ek om soveel moontlik tyd saam met my verloofde te spandeer,” sê hy. 

 Gideon Lombard en sy meisie, Olga Rademan, het in Mei 2023 in Turkye verloof geraak. FOTO: Verskaf/Gideon Lombard

Die pad vorentoe

“Die kunste het my geleer dat elke dag ons ’n nuwe geleentheid bied om te groei,” sê Gideon. “Ek is baie dankbaar vir die geleenthede wat ek gehad het, en die mense wie my pad gekruis het.” 

Gideon, wie ook onlangs met drie van sy vriende ’n maatskappy gestig het, wat spesialiseer in produksie-vervaardiging, glo dat die toekoms vir hom baie groot dinge inhou. 

“Ek het ’n duidelike visie en planne vir my toekoms in die kunste, en ek is gereed om daardie visie te verwesenlik met elke nuwe projek wat ek aandurf,” vertel hy.

Hy glo dat die kunste ’n kragtige medium is om stories te vertel en mense te raak, en hy is vasbeslote om hierdie meduim in die toekoms ten volle te benut. 

, ,