Amalia Uys: veerkragtige verhale van passie en identiteit

Die gesoute Suid-Afrikaanse aktrise, Amalia Uys, verdiep haar in die karakters wat sy uitbeeld, en gee elke rol ’n diepte wat aanklank vind by gehore regoor die land, vertel Nicola Hanekom, ’n Suid-Afrikaanse aktrise, dramaturg en vervaardiger wie gereeld saam met Uys op stel is.

“Jy sal nie ’n meer toegwyde, harde werker kry wat diep dink oor hulle karakters en rêrig worstel met wat binne hulle karakters aangaan as Amalia nie. Sy werk op ’n baie diep vlak as aktrise met enige teks wat sy kry,” sê Hanekom.

Kulturele wortels

Uys is in 1984 op Springbok in die Noord-Kaap gebore. Haar reis van ’n kleindorpse meisie tot ’n prominente figuur in die Suid-Afrikaanse vermaaklikheidsbedryf was een van selfontdekking, veerkragtigheid en ’n diep verbintenis met haar Afrikaanse wortels, vertel Uys.

“Ek het altyd gevoel die Kaap is my tuiste en dat ek een of ander tyd daarheen moet terugkeer,” sê Uys.

 “Albei my ouers het op Stellenbosch gestudeer, so vir my was dit ’n ‘no-brainer’. Ek wou drama studeer, maar ek het ook regte en sielkunde oorweeg. Drama het altyd gewen. Ek het nooit regtig veel daaroor gedink nie.”

Haar reis na die wêreld van toneelspel was ’n natuurlike een, met vroeë geleenthede wat hulself onverwags voorgedoen het.

In Amalia Uys se jonger dae, het sy nie noodwendig aldag “ware kuns” gemaak nie, maar sy het elke geleentheid wat oor haar pad gekom gegryp en voluit geleef, verduidelik sy. FOTO: Anri van Helsdingen

In haar derde-jaar het sy haar eerste rol op televisie losgeslaan toe sy ’n vriend gehelp het om te oudisie vir ’n rol. Sy het vir hom ingelees en toe sommer die rol gekry waarvoor sy ingelees het, sê sy.

“Dit was ’n klein rol gewees. Die karakter se naam was Sunshine en ek dink ek het drie of vier calls gehad. Deur daardie proses het ek toe ’n agent gekry.”

Sy was besig met haar honneursgraad in drama toe sy die geleentheid gekry het om die rol van Sanmari van Graan op die Suid-Afrikaanse sepie, 7de laan te vertolk.

“Toe ek 21 was, het ek Johannesburg toe getrek om by 7de laan aan te sluit. Ek onthou hoe ek met ’n padkaart aan my sy navigeer en my roetes op stukkies papier beplan het. Johannesburg is ’n uitgestrekte stad, so dit was nogal oorweldigend,” onthou Uys.

Die beste leerskool

Uys vertel dat 7de laan vir haar die beste leerskool was – ’n konstante en streng opleidingsterrein wat ’n tipe dissipline gekweek het wat sy nie noodwendig as student gehad het nie, vertel sy. Dit was ’n veilige ruimte vir haar om te groei as mens sowel as aktrise en sy vertel dat sy eintlik maar nog ’n kind was toe die geleentheid opgekom het. 

“Sepie werk is konstant en aanhoudend en hulle het met ons geraas as ons een minuut laat was vir dialogue coaching of hare en makeup. Dit was ongelooflik gedissiplineerd.”

Haar belofte aan haarself was dat sy nie vir langer as twee jaar by die sepie sou wees nie, maar eers na vier jaar het sy begin kriewelrig raak om na die volgende fase van haar lewe toe te beweeg.

Haar liefde vir teater het haar uiteindelik daartoe gelei om haar horisonne buite die televisieskerm te verbreed.

“Ek het altyd ’n diep liefde vir teater gehad, en in 2014 het ’n teatergeleentheid oor my pad gekom wat ’n jaar lange gig was,” verduidelik sy. “Teater was my ware passie. Ons het deur die land getoer en in van die mooiste teaters opgetree.”

In haar jonger dae het sy nie aldag deelgeneem het aan projekte wat “ware kuns” was nie, maar sy het teruggestaan vir niks, sê sy. Sy was na haar jaar op die pad vir ’n jaar by Binnelanders voordat sy begin vryskut het.

Amalia Uys was nie van plan om vir langer as twee jaar by die bekende Suid-Afrikaanse sepie, 7de laan te wees nie, maar daar het sy haarself gevind en ’n tipe dissipline aangeleer wat mens nie noodwendig as student kan leer nie, vertel sy. FOTO: Anri van Helsdingen

Vryskut en geloofspronge

Te midde van die bedrywige wêreld van toneelspel en produksie, is Amalia Uys se lewe gevorm deur ’n reeks toevallige ontmoetings en gewaagde geloofspronge. Met die besinning van haar reis, onthou sy ’n deurslaggewende oomblik in 2014 toe haar pad met dié van haar nou-man, Shaun Golding, gekruis het in 2014, waarna hulle in 2015 Kaapstad toe getrek het.

“Amalia is een van die mees toegewyde mense wat ek ken. Sy bestee dae daaraan om navorsing te doen, voor te berei, agtergrondstories te ontwikkel, die karakter te verstaan en met haar mede-akteurs en regisseur te gesels oor karakterontwikkeling. Sy doen alles wat sy kan om haar in staat te stel om die beste werk moontlik te lewer,” sê Golding.

Sy en Golding het mekaar deur vriende ontmoet en sy vertel dat sy “hom nooit andersins sou ontmoet het nie want hy het beweeg in ander kringe. Hy was baie nuut in Johannesburg en hy het ’n groep Engelse vriende gehad met wie my paaie nooit sou kruis nie.”

Amalia Uys het nog altyd geweet dat daar ’n “dieper doel” in die lewe is, maar dat sy nie altyd die woordeskat gehad het om dit te beskryf nie, onthou sy.  FOTO: Anri van Helsdingen

’n Rol in alles

Uys deel insigte oor haar vryskutwerk in 2015, en vertel dat sy betrokke was by uiteenlopende projekte wat gewissel het van toneelspel tot agter-die-skerms produksierolle.

In 2015 het Uys verskeie geleenthede aangegryp wat oor haar pad gekom het. Van toneelspel in Sy Klink Soos Lente en nog ’n fliek saam met Deon Meyer, tot die delf in klerekaswerk vir ’n post-apokaliptiese zombiefliek, was sy gretig om verskillende fasette van die bedryf te verken, onthou sy.

Sy onthou haar ervaring as vervaardiger op Jagveld, ’n uitdagende en intense projek wat erg onderbeman was. Die film het later gewys by ’n filmfees in Amerika en die prestasie van beste speelfilm gewen.

Vandag is Uys “gelukkig genoeg” om konstant besig te wees met toneelspel en het meer vryheid om te kies watter projekte sy wil aanpak, maar dit gebeur nie gereeld dat sy nee sê vir ’n nuwe uitdaging nie, sê sy.

“Oor die algemeen is die industrie baie aangenaam. Dit is ongelooflike goeie mense wat hulle alles gee vir iets waarin hulle glo en ek het baie respek vir die mense met wie ek werk,” sê Uys.

,