Doof of dood

Dr Dalene von Delft is in 2010 met tuberkulose (TB) gediagnoseer. Sy moes kies tussen medikasie wat haar doof kon laat, maar tot genesing kon lei, of om eerder die medikasie te staak en moontlik aan TB te sterf. Sy gesels met Carl Thomas van MatieMedia oor dié besluit en hoe dit haar lewe verander het.

**Sy was onder die indruk dat sy maar net ʼn droë kuggie gehad het. Dalk was dit ʼn verkoue, maar niks meer as dít nie. Sy het dan so mooi na haarself gekyk en het ook nie eers gerook nie. Boonop is sy ʼn dokter! Sy sal mos weet as dit iets ernstigs is, dan nie?

Die son skyn deur die koffiewinkel se venster. Sy vroetel met haar vingers, asof sy senuweeagtig is. Haar glimlag is gewoonlik breed. Maar nie nou nie. “Dit was net na lente en ek sukkel met allergieë, hooikoors en sinussiektes, so ek het gedog dis maar net alweer dit.”

Dr Dalene von Delft het in 2010 ʼn pos as mediese beampte in Pediatrie by Tygerberg Hospitaal gekry. “Ek kom eintlik uit ʼn familie van ingenieurs,” sê sy spottend.

Nooit in haar lewe het sy gedink sy sou tuberkulose opdoen nie.

Dr Dalene von Delft in haar doktersuniform by Mediclinic Vergelegen. Sy het vir 2 jaar (2013 en 2014) by dié hospitaal gewerk in ongevalle. FOTO: Verskaf/Dr Dalene von Delft.

Dr Dalene von Delft in haar doktersuniform by Mediclinic Vergelegen. Sy het vir 2 jaar (2013 en 2014) by dié hospitaal gewerk in ongevalle. FOTO: Verskaf/Dr Dalene von Delft.

Maar die moontlikheid dat die kuggie wat sy ontwikkel het dalk iets meer as verkoue kon wees, het haar eers bygeval toe haar man se neef, ook ʼn dokter, TB opgedoen het.

“Almal het geskrik toe hy dit kry,” vertel Von Delft. “Hy was jonk, gesond, hy het provinsiaal geswem, hy was ʼn branderplankryer… Hy het nie gerook nie, ook nie gedrink nie. Hy het alles reg gedoen, maar nogsteeds is hy gediagnoseer met TB.”

Slegte nuus op Oukersdag
Dit was ʼn besondere laat aand aan diens en sy het ʼn klein baba as pasiënt gehad. Von Delft het ’n hoesbui gekry wat buite beheer geraak het. ʼn Kollega het haar gevra of sy al die hoes laat ondersoek het.

“Ek het nie eintlik siek gevoel nie. Dit was net ʼn kuggie. Net ʼn kuggie.” Sy staar by die venster uit. “Ek het geen gewigsverlies ervaar nie, daar was niks nagswete nie. Ek het nie eers enigiets opgehoes nie.”

Die kollega vertel haar toe dat sy ook gehoes het en dit maar net onder die mat gevee het. Toe sy later vir ʼn borskas x-straal gaan, is gevind dat sy gate in beide longe gehad het.

Von Delft onthou die dag toe sy uitgevind het sy het TB. Dit was Oukersdag. Sy het die vorige dag gegaan vir ʼn rekenaartomografiese-skandering. Die radioloog het haar ingeroep. Die pikdonker kamer het die gat in die borskas helder laat uitstaan op die skerm. As ’n dokter het sy geweet wat daardie skerm beteken. Die radioloog het nie nodig gehad om ʼn woord te sê nie. Von Delft het gehuil van skok toe die waarheid insink.

Die x-straal wat die gat in Dr Dalene von Delft se long wys. Die x-straal was by Panorama Mediclinic gedoen. FOTO: Verskaf/Dr Dalene von Delft.

Die x-straal wat die gat in Dr Dalene von Delft se long wys. Die x-straal was by Panorama Mediclinic gedoen. FOTO: Verskaf/Dr Dalene von Delft.

“Wanneer jy met ʼn siekte soos TB gediagnoseer word, kan mense jou nie eers ʼn drukkie gee nie. Jy is heeltemal op jou eie; jy en jou gedagtes. Jy kan nie eers lekker met mense gesels nie, want jy dra ʼn masker. Jy voel asof jy die siekte is en jy is aansteeklik, so jy moet wegbly van die mense vir wie jy lief is.”

Von Delft kyk af na haar vingers. Sy sit steeds met hulle en vroetel. Dit was amper asof sy die hele gebeurtenis wéér herleef.

Gehoorverlies en behandeling
“Ek is gediagnoseer met beroepsverwante veelvoudige middelweerstandige (MDR) TB en is op sewe antibiotikas gesit. Een van hulle het ek via ʼn drip ontvang. Een van die antibiotikas het ook gehoorverlies veroorsaak. Vyftig persent van mense wat dié medikasie geneem het, het doof geword. Ek het tussen 20 en 30 pille per dag gesluk, en dan was daar nog boonop inspuitings ook.”

Agt weke in haar behandeling in, het sy onomkeerbare hoë frekwensie gehoorverlies ontwikkel. Toe haar gehoorverlies op 10 weke vererger, het sy by haar dokter gepleit om die een antibiotika te stop. Sy kon nie ʼn lewe sonder musiek, sonder die vermoë om te kan werk en met mense te praat, aanvaar nie.

Die TB-behandeling was soos chemoterapie vir kankerpasiënte: Haar hare het uitgeval, sy was elke dag naar, sy het diarree gehad en het gereeld opgegooi. Die behandeling het vir ongeveer 19 maande geduur.

Ek het nie eintlik siek gevoel nie. Dit was net ʼn kuggie. Net ʼn kuggie.

“Vir my het dit gevoel asof ek nooit ʼn keuse gehad het of ek die behandeling moes aanvaar nie. Ek móés net. Daar was nie ʼn ander keuse nie. Dit was beter om doof te wees as om dood te wees.”

Von Delft ervaar vandag steeds gehoorverlies. “Ek kan nie hoë frekwensiegeluide so goed meer hoor nie. Dit kan nogals positief wees. Ek hoor darem nou nie meer muskiete in die aande nie!”

“Daar was ʼn tyd toe ek nie gedink het ek sou dit maak nie.” Sy vertel hoe sy ʼn koebaai-brief vir haar man geskryf het. Haar man, ook ʼn dokter, het haar volkome bygestaan, hoewel sy hom dikwels probeer wegstoot het. Sy wou hom nie blootstel aan die siekte nie.

DrVonDelft4.jpg Doof of dood

Dr Dalene von Delft met haar man, Arne von Delft, en hulle twee kinders, Elodi (4) en Heinrich (2) von Delft. FOTO: Verskaf/Dr Dalene von Delft.

In 2011 het gerugte die rondte begin doen oor bedaquiline, die eerste nuwe TB-middel in 42 jaar, wat toe deel was van Suid-Afrika se kortstondige welwillendheidsprogram. Hulle het begin met kliniese studies en Von Delft het aansoek gedoen om die medikasie te gebruik as deel van die studie.

“Daar was baie onsekerheid oor die medikasie. Een van die bekommernisse was dat dit moontlik jou hart kon laat stop. Maar as jy ʼn lewe van lyding moet opweeg teenoor ʼn geleentheid om genees te kan word, dan klink dit beter om die behandeling te vat en miskien dood te gaan, as om te wonder of dit sou help en net te ly, en dan in elk geval dood te gaan.”

Von Delft se aansoek was suksesvol. Sy kon toe die nuwe behandeling gebruik, in plaas van die antibiotika wat haar heeltemal doof sou maak. Sy het positief gereageer op die behandeling en is in Julie 2012 genees.

TBProof
Na hierdie lewensveranderende ervaring, het Von Delft besef dat sy graag mense wil opvoed oor TB. Sy en haar man, tesame met die neef en nog ʼn kollega wat TB opgedoen het, asook drie ander mediese studente, het TBProof gestig.

Dit was beter om doof te wees, as om dood te wees.

TBProof is ʼn nie-winsgewende organisasie wat poog om TB-risiko vir gesondheidswerkers te verlaag, en om gesondheidssorg vir TB-pasiënte te verbeter. Die organisasie bedryf ook ʼn veldtog om die stigma rondom TB te verwyder en probeer om TB as ʼn wêreldwye gesondheidskwessie op die agenda te plaas. Die organisasie wil ook hoop by TB-pasiënte kweek en hulle daarvan bewus maak dat TB geneesbaar is.

“TBProof is belangrik, want voordat ek gediagnoseer is, was ek verskriklik oningelig. Vir ons is daar gesê dat ons TB proof is. Ons is gestuur na TB hospitale sonder maskers, sonder opleiding oor infeksiebeheer, sonder enigiets.”

DrVonDelft3 Doof of dood

Hier staan spanlede van TBProof reg om ʼn verskil te maak. FOTO: Verskaf/Dr Dalene von Delft.

Sy vertel dat TBProof gestig is om mediese studente beter voor te berei en bewus te maak van die risiko’s betrokke by hul werk. Dis ook gestig om seker te maak dat meer mense toegang kry tot die behandeling wat sy ontvang het.

“Deur mense met TB by te staan, help jy jouself. Want as hulle behandeling kry, kan hulle jou nie siek maak nie.”

Von Delft vertel dat die vorige minister van gesondheid, Aaron Motsoaledi, ʼn vegter vir die bekamping van TB was. In terme van MDR TB, was die oorlewingskoers in 2011 sowat 50%, en moes ’n mens sewe verskillende antibiotikas neem. Boonop het 50% van TB-lyers doof geword van die medikasie.

Von Delft vertel egter dat, danksy Motsoaledi, Suid-Afrika die eerste land geword het wat die medikasie wat doofheid veroorsaak het, heeltemal geskrap het. Pasiënte is eerder behandel met die nuwe bedaquiline-medikasie.

“MDR TB-pasiënte word deesdae binne ses tot nege maande behandel, wat minder as die helfte van die tyd is wat dit in die verlede geneem het,” sê Von Delft. “Die oorlewingskoers is ook baie beter. In terme van MDR TB, is Suid-Afrika wêreldleiers as dit kom by behandeling

Dr Dalene von Delft en haar man, Arne von Delft, gesels oor Dr Von Delft se ervaring met middelweerstandige TB en hoe dit hulle verhouding beïnvloed het. Video: Verskaf/Vimeo.

Von Delft sê dat die regering baie geld in TB belê. Tog is daar steeds nie ʼn beleid in plek om gesondheidswerkers te beskerm nie. Sy sê sy hoop dat sy en haar organisasie genoeg druk op die nuwe minister van gesondheid sal kan plaas om ʼn beleid in plek te kry. Sy dien selfs op nasionale komitees om TB te help beveg.

“Mense moet ophou skaam wees om te praat oor hul stories,” sê Von Delft. “Deur te praat, help breek jy die stigma wat aan TB vasklou. TB versprei omdat mense stilbly. Dit is tyd dat ons as ʼn land moet saamstaan en ons land se grootste moordenaar [TB] uitroei.”

*Dr Dalene von Delft is die medestigter van TBProof. Sy dien ook op die raad en is die tesourier en projek-assistent. Sy doen deesdae lokum-skofte as ʼn algemene praktisyn vir Integrated Virtual Care.

Let wel: Hierdie onderhoud is gevoer voordat die nasionale inperkingsregulasies in werking gestel is.

, , ,