‘Dink oor wat jy jouself ontneem’ wanneer jy KI gebruik

’n Nuwe boek deur ’n Amerikaanse navorser moedig lesers aan om krities te dink oor die tegnologie wat hulle gebruik.

Die departement Afrikaans en Nederlands het op 7 Augustus 2025 ’n middaguur-gesprek met professor Mark Sanders, skrywer van dié boek, getiteld A Will for the Machine: Computerization, Automation and the Arts in South Africa, aangebied.

Professor Andries Visagie van die Universiteit Stellenbosch (US) se departement Afrikaans en Nederlands in gesprek met Prof Mark Sanders van die Universiteit van New York. FOTO: Kobus Erasmus

Volgens Prof Andries Visagie, dosent aan die Universiteit Stellenbosch (US) se departement Afrikaans en Nederlands, is Sanders ’n professor in die vergelykende letterkunde aan die Universiteit van New York.

“Daar is ’n algemene punt wat ek met die boek probeer maak en dit is om meer krities te dink oor dit wat jy daagliks doen – spesifiek in verwysing na jou gebruik van tegnologie,” het Sanders in gesprek met SMF News oor sy nuwe boek gesê.

“[Studente] mag dalk ChatGPT gebruik. In plaas daarvan om [hierdie tegnologie] eenvoudig vir eie gewin te gebruik, wil ek hê hulle moet daaroor nadink,” het Sanders bygevoeg. “Dink wat jy jou jouself ontneem deur die gebruik van generatiewe KI (kunsmatige intelligensie).”

[Klankgreep] Professor Mark Sanders, Professor in vergelykende letterkunde aan die Universiteit van New York, waarsku studente oor die gebruik van kunsmatige intelligensie (KI). “Dink wat jy jou jouself van ontneem deur die gebruik van generatiewe KI,” het hy gesê. KLANKGREEP: Kobus Erasmus

Hoe die geskiedenis die toekoms kan voorspel

Sanders het gesê ’n gedeelte van die boek fokus ook op Suid-Afrika se arbeidsgeskiedenis   en hoe rasgebaseerde diskriminasie gedurende apartheid algemeen onder die werkersklas voorgekom het.

Volgens hom, handel dié gedeelte onder meer oor die werke van die Suid-Afrikaanse skrywer J.M Coetzee en kunstenaar William Kentridges.

Sanders het gesê hy gebruik hierdie werke om ’n vergelyking te tref met hoe Suid-Afrika moontlik nuwe tegnologie, soos KI, kan implementeer.

“Dit was ongelooflik om te sien hoe Prof Sanders die klein tegnologiese veranderinge met die groter sosiale kwessies gekoppel het en hoe alles eintlik inmekaar gevloei het,” het Mari Koegelenberg, Honneurs-student in taalpraktyk aan die US se departement Afrikaans en Nederlands, gesê.

“Dit het my gewys dat die pad vorentoe altyd masjinerie sal betrek. Dat outomatisering, saam met die negatiewe [aspekte], ook geleenthede kan skep vir mense wat voorheen uit die arbeidsmark uitgesluit was.”

Mens en masjien 

Volgens Sanders het US Prof Willem Anker se 2020 roman, Skepsel, deel gevorm van sy navorsing. In die roman trou ’n kunstenaar – wat deel mens, deel masjien is met ’n olietenker. 

“[Anker se spekulatiewe fiksie] gee ons selfs ’n meer dramatiese voorbeeld van die innerlike werking en verbondenheid [tussen mens en masjien] as die werk van Kentridge en Sanders.”

Professor Willem Anker van die Universiteit Stellenbosch (US) se departement Afrikaans en Nederlands se roman, Skepsel, het in 2020 verskyn. Dié roman vorm deel van Prof Mark Sanders se navorsing vir sy nuwe boek, A Will for the Machine. Computerization, Automation and the Arts in South Africa, wat in Desember verskyn. FOTO: Kobus Erasmus

, , ,