‘Dinge van ’n Kind’ se Mienke Ehlers skop deure oop

Baie Suid-Afrikaners ken haar as die rebelse Dalena van Vuuren van die kykNET-reeks Dinge van ’n Kind. Mienke Ehlers het met MatieMedia se Dominique Fuchs gesels oor haar loopbaan in die Suid-Afrikaanse filmbedryf, waarmee sy haar deesdae besig hou en haar toekomsdrome.

“Ek dink om vir ’n sekere tyd nie te kan kry wat jy wil hê nie, dissiplineer jou.” 

Só sê Mienke Ehlers, deesdae bekend vir haar rol as Dalena van Vuuren in Dinge van ’n Kind. Dié aktrise van Kaapstad het egter vir vyf jaar oudisies afgelê voordat sy die rol van Dalena losgeslaan het. 

Die aktrise en stilis Mienke Ehlers, onthou hoe sy as kind vir civvie-dae ’n “mooi pienk rokkie” sou aantrek en dan “soveel as moontlik crazy goed” daarby sou voeg. Later het ek geleer dat mode ook minder kan wees,” sê Ehlers. FOTO: Dominique Fuchs

Nadat Ehlers haar dramagraad en honneursgraad in drama aan die Universiteit Stellenbosch verwerf het, het sy geweet dat sy ’n aktrise wou wees. Maar die pad na sukses in dié bedryf, is moeilik. 

Sy het eers begin werk as ’n kelnerin, persoonlike fiksheidsinstrukteur, en kos-stilis. Volgens Ehlers het sy “alles gedoen”. Sy het selfs in ’n stadium dramaklasse aangebied by ’n skool in Malmesbury. 

“Toe besef ek dit kos my geld om dit te doen,” verduidelik Ehlers. “Toe ek vir my pa verduidelik wat ek verdien, toe sê hy dit kos geld vir my om hierdie jobs te doen. Toe besef ek dat ek op stel moet kom.” 

Ehlers het in een jaar 52 vervaardigingsmaatskappye in die filmbedryf gekontak. 

’n Mens moet gereed wees om onder te begin, sê sy. “Ek het eendag vir 12 ure borde vuil gemaak vir ’n scene en dan die bord gewas. Dan maak ek die bord wat ek gewas het, wéér vuil,” lag sy. 

Ehlers se ma, Lana Ehlers, het nog altyd geweet haar dogter gaan in die vermaaklikheidsbedryf werk, maar nie noodwendig as ’n aktrise nie. “Dit [die vermaaklikheidsbedryf] was van dag een af haar passie.” 

“Toe Mienke ’n klein dogtertjie was, was daar net een werk wat sy eendag wou doen – ’n Bloubuldanser … Ons kom van die Paarl af en is glad nie Bloubul-ondersteuners nie,” vertel Lana.  

‘Ewe skielik reën dit’

“Dis mos hoe die lewe werk. Daar’s mos niks …. Dan ewe skielik reën dit,” sê Ehlers. 

Sy het in 2022 begin om stilering te doen en werk tans vir Media24 se televisievervaardigingseenheid, POP. Sy doen alles. Soms trek sy vir Mia Spies aan vir die program Wie’s Nuus, en soms is sy ’n gas-aanbieder op Minki. “Dis nooit dieselfde nie,” sê Ehlers. 

Die aktrise en stilis Mienke Ehlers verduidelik dat sy gereeld in winkelsentrums is om uitrustings te kry vir die verskeidenheid TV-programme waarby sy betrokke is. “Ek dink klere is net so cool soos movies maak,” sê sy. Sy glo dat klere ’n opwindende manier is waarop mense hulself kan uitdruk. FOTO: Dominique Fuchs

Ehlers het besluit om stilering te doen omdat baie van haar vriende wat net toneelspeel, dikwels vir lang tye sit en wag vir werk. “Dit maak jou eerstens baie depressief – só desperaat – en mens kan nie bekostig om nie te werk nie,” sê sy. 

“Mienke is ’n go-getter!” sê Marí Conradie, een van Ehlers se beste vriende, en ook ’n stilis, grimeerkunstenaar en kostuumontwerper. “Sy daag haarself elke dag uit en is nie bang om ongelooflik hard te werk nie – dis die rede hoekom sy so suksesvol is,” meen Conradie.

Ehlers is tans besig met verskeie projekte. Sy bied ’n insetsel aan op die program Minki en het onlangs klaar geskiet aan Magda Louw, ’n Afrikaanse komediereeks wat onlangs op kykNET vrygestel is. 

“Dit was saam met klomp comedy legends. Ek speel weer swanger, dit is die derde keer – baie weird. Dit was probably die lekkerste projek ooit,” vertel sy. 

Sy verduidelik dat komedie baie moeiliker is as drama. “In Dinge van ’n Kind het ek ’n swaar rol gehad. Ek kry nogal ’n kick daaruit as ek emosioneel moet raak en ek kry dit reg om my eie emosies uit te los.” 

Mienke Ehlers en Augusta Zietsman op die stel van die TV-reeks Dinge van ’n Kind. Ehlers het die rol van Dalena van Vuuren vertolk en Zietsman die rol van Suna Venter. Agter die skerms is die twee aktrises ook boesemvriendinne. FOTO: Verskaf/Afrikaans.com

Komedie voel dalk minder soos werk, maar dis moeilik om reg te kry, vertel sy. “Dis ritmies, dis soos musiek en as een van die mense af is, is dit heeltemal af.”

Ehlers verduidelik dat sy baie navorsing gedoen het oor depressie en tienerdepressie ter voorbereiding vir haar rol as Dalena. 

“Voor die kameras begin rol het, het ek my oë toegemaak en myself gegroet en as ons klaar gesê het ‘cut’, dan het ek my oë toegemaak en myself weer verwelkom,” sê Ehlers. 

“In die oggende voor ek stel toe gaan, het ek ’n liedjie geluister wat ek dink Dalena van sou gehou het.” Aan die einde van elke dag het Ehlers weer ’n liedjie geluister wat háár liedjie is, nie Dalena s’n nie. 

Mienke Ehlers se deurbraakrol was in die TV-reeks Dinge van ’n Kind. Die reeks is gebaseer op Marita van der Vyver se boek Die dinge van ’n kind. FOTO: Dominique Fuchs

Toekomsgerig

Ehlers hoop om in die toekoms haar eie program aan te bied. “Die beste rol wat ek sal kan kry, is my eie talk show. Ek wil myself speel. Ek love dit.”

“Ek wil ook iets ongelooflik rof en scary doen wat ek nie wil hê ander mense moet doen nie,” vertel sy.  Ehlers verwys na Christia Visser se rol in die fliek Tess. In dié fliek, vertolk Visser die rol van ’n prostituut wat swanger raak en sukkel met haar geestesgesondheid. 

Volgens Ehlers het Visser gesê sy sou nie wou hê dat enigiemand anders die rol moes vertolk nie, want sy sou hulle te jammer gekry, sê Ehlers. “Daai bravery van… iémand moet hierdie storie vertel en ék sal dit doen. Ek wil nog ’n bietjie dieper gaan as Dalena.”

“Mienke het ’n onuitputbare energie as dit by haar werk kom,” sê die aktrise Augusta Zietsman. Zietsman en Ehlers het in 2015 ontmoet toe hulle saam eerstejaar-dramastudente op Stellenbosch was. Volgens Zietsman werk Ehlers ongelooflik hard om haar drome ’n realiteit te maak. 

Mienke Ehlers, aktrise en stilis, het onlangs ’n nuwe mini-reeks genaamd Outfit Angs op Instagram begin. In hierdie reeks gee sy mode-wenke. “Ek wil nie ’n influencer wees nie. Ek maak nie geld daardeur nie. Dit is my manier om myself uit te druk wanneer ek nie beheer het oor die onbeheerbare industrie nie. Dan het ek beheer oor my sosiale media en daai content,” vertel sy. FOTO: Dominique Fuchs

Ehlers glo dat die rolle wat sy nog moet speel, en die stories wat sy nog moet vertel, vooraf bestem is. “Dis hoe ek die lewe aanpak,” sé Ehlers. Sy leef dus sonder vrees oor die toekoms.

Volgens haar is dit opwindend om vir regte die rolle te wag, maar steeds nie stil te sit nie. “Ek sê altyd high intention, low expectation – jou intensiteit bly hoog, maar dit beteken nie daar is ’n verwagting nie. Want anders is jy heeltyd teleurgesteld,” sê sy. 

’n ‘Stukkie raad’

“My main stukkie raad: Maak seker jou corner is super safe en super sterk,” sê Ehlers. Sy verduidelik dat sy akteurs sien wat vinnig in die diep kant ingegooi word en lekker momentum kry. Maar as hulle nie geanker is nie, “crash alles”, sê sy. 

Ehlers vertel dat haar ouers, beste pelle en haar kêrel haar konstant moet gerusstel oor wie sy is en waar haar waarde vandaan kom. “Ons is net mens, ons kan nie altyd onsself regop hou nie,” sê sy.  
“As daai plek solid is, dan dink ek is jy fine.” 

’n Mens moet jouself omring met mense wat jou “grounded” hou, sê Mienke Ehlers, aktrise en stilis. “Ek speel soveel kere karakters en dan dink ek ek hou van hierdie persoon se persoonlikheid, of hulle manier van dinge doen.” Sy vertel dat die mense naby aan haar haar konstant herinner aan wie sy is en hoeveel waarde sy het. FOTO: Dominique Fuchs