Die pleidooi van Danie du Toit

Danie du Toit vergelyk sy musiekoptredes met die gevoel wat jy kry wanneer jou gunstelingliedjie op die radio speel en jy nie anders kan as om teen die stuurwiel te begin slaan nie. Maar dié sanger het ’n nuwe versoek: ’n Pleidooi om die radio sagter te sit en die stilte te waardeer.

“As kind het hy die wêreld op sy skouers probeer dra. Maar nou, as kunstenaar en skrywer, weet hy hoe om sy eie en ander se pyn te kanaliseer en dit ’n stem te gee,” vertel Tertia du Toit, Danie se ma. FOTO: Karla de Bod

Dit is 2022: Danie Reënwolf is op die verhoog besig om “Lenie Blou” te sing. Sy passie is sigbaar – dit vloei vanaf sy voete, deur sy bewende lyf tot by die mikrofoon. Alles is rof. Alles is hard. Oorverdowend, selfs. Dan, vir ’n vlietende oomblik, lig die hoofsanger se voete van die grond af.

Meer as net een keer jonk 

Danie du Toit, op die verhoog bekend as Danie Reënwolf, oftewel die hoofsanger van die bekende musiekgroep Spoegwolf, is op 5 Oktober 1992 in die Pretoria Staatshospitaal gebore. 

Volgens sy ma, Tertia du Toit, was 12 mediese studente teenwoordig tydens sy geboorte. Minstens een het flou geval. Die res het verwonderd en entoesiasties hande geklap. 

“Danie was born to run,” sê Tertia. Dié entoesiasme tydens sy geboorte was maar net die begin. “Nou is daar heelwat meer wat voor hom flou val en skares wat handeklap!” skerts sy. 

Danie du Toit glimlag vir die skare tydens hulle “10 jaar van Spoegwolf”-optrede op 13 Maart 2022, waar die musiekgroep hulle 10de verjaarsdag gevier het. FOTO: Karla de Bod

Danie beskryf homself as ’n skaam kind. Tog het hy reeds van kleintyd af begin om met ’n blou speelgoedkitaar musiek te maak. Hy beskryf sy kinderdae as “ongelooflik happy” en hoop dat hy nog na dié jong Danie aard. 

“Dit sal nice wees as mens soveel moontlik nog ’n kind kan bly.”

“Dit sal nice wees as mens so bietjie van jou kinderjare kan behou en soveel moontlik nog ’n kind kan bly,” sê Danie. As kind het hy baie drome gehad, onder andere om óf Bruce Springsteen óf ’n “Pokemon master” te wees. Maar sy grootste droom was om ’n musikant te word. 

“Baie kitare, nog meer mondfluitjies, drie klaviere, twee grade, twee bands, [drie] digbundels, drie plus besighede en talle lewenslesse later, kan ek eerlikwaar sê dat Danie as ’n dromerkind geweldig trots sou wees op Danie van vandag – steeds ’n dromer,” sê Tertia. 

Iets om te sing

Op negejarige ouderdom, het Danie saam met sy broer Moskou du Toit en hulle vriend Albert van der Merwe ’n musiekgroep met die naam Kosblik begin. 

Chris van Wiellig, nog ’n laerskoolvriend, het later by die groep aangesluit. Die musiekgroep se naam is na Ysterkoei verander nadat al vier vriende gematrikuleer het. Maar in 2012 het die groep hulle eerste album Swaartekrag onder die naam Spoegwolf uitgebring. Dié naam word vandag, tien jaar later, steeds deur duisende aanhangers by uitverkoopte vertonings geskree. 

Wanneer daar gevra word om Spoegwolf in een sin te beskryf, sê Danie dat die musiekgroep eintlik maar ’n groep van vier vriende is wat gegroei het tot ’n paar duisend vriende. “Ons is baie dankbaar dat ons baie lucky in die musiekbedryf was. Dis net luck,” sê hy. 

Danie du Toit vertel dat sy oom vir hom as kind een toonleer op die kitaar leer speel het en dat hy tot vandag toe slegs daardie een toonleer speel. “Ek speel weird akkoorde wat verskil van ander mense s’n,” sê hy. FOTO: Karla de Bod

Danie is bekend vir die passie wat hy na die verhoog bring. Daar word geskree, gehuil, geklim en gebewe. Terwyl dít die Danie is wat aanhangers ken en liefhet, is daar ’n sagter, kalmer deel van die sanger wat, volgens hom, onder die oppervlakte wag om sy spreekbeurt te kry. 

“Daar is ’n groot verskil. Die een is maar ’n persona,” vertel Danie terwyl hy gesels oor dié twee kante van homself. “Die Spoegwolf-persona is natuurlik rowwer. Dis baie crazy en harder, maar ek is nie mal daaroor nie. Dis hoekom ek gedink het dis dalk lekker om bietjie iets anders ook te doen.” 

Dié “iets anders” waarna hy verwys, is sy digkuns. Deur te dig, kan hy ’n bietjie wegkom van sy beeld as rowwe hoofsanger. 

Probeer om in goeie goed te glo

Wanneer Danie Reënwolf buite die Spoegwolf-ruimte staan, en slegs “Danie” is, ontmoet mens ’n skaam storieverteller wat sy hart op sy mou dra.

“Ek is eintlik maar skaam. So, ek wil eintlik so min as moontlik gesien word,” sê Danie. “Ek sou minder gesien wil word en meer wil hê dat ons oor musiek moet praat en dat die boodskap gelees word.” 

Danie du Toit het al drie digbundels, Warmer voor die Tuimeldroër, Sterreval en Die Tuin vrygestel. FOTO: Karla de Bod

’n Boodskap wat Danie altyd met sy medemens probeer deel, is die slagspreuk “wees reën” wat korreleer met sy verhoognaam, Danie Reënwolf. Dié slagspreuk verteenwoordig die tipe persoon wat Danie hoop om eendag te wees. 

Reën maak gras groener, sê Danie. Op soortgelyke wyse kan mense ook soos reën wees wanneer hulle die lewe mooier en beter maak. 

Danie vertel dat hy nog nooit reën was nie. “Maar ek wil dit wees en ek streef daarna,” sê hy. Terwyl Danie voel dat hy nog nie reën binne homself gevind het nie, glo hy tog dat hy deur middel van sy skryfwerk die wêreld ’n mooier plek kan maak. 

“In die boek wen liefde en in die boek wen die goeie ou.”

“As kinders het my pa [Johan du Toit] in ons probeer instill dat die wêreld ’n moeilike en crazy plek is, maar jy kan dit reg skryf,” vertel Danie. “In die boek wen liefde en in die boek wen die goeie ou.” 

Die skryfproses, vertel Danie du Toit, laat hom toe om ’n ander wêreld te skryf waar dinge perfek is en waar hy kan verseker dat sy idee van geregtigheid kan uitspeel. “Ek dink baie mense wat skryf, sit amper vas in daai ander wereld, en soos ’n dolfyn kom hulle net op vir asem so nou en dan in hiérdie wereld,” sê hy. FOTO: Karla de Bod

Danie sê dat hy soggens steeds in ongeloof wakker word oor die seëninge wat hy ontvang. En alhoewel hy ongelooflik dankbaar is vir die sukses van Spoegwolf, erken hy nederig dat sy grootste mylpaal die dag is toe hy vir sy vrou, Melissa Bradshaw, by die Eersterivier gevra het om te trou. 

Ek het 30 jaar gewag

Wanneer die besige deel van Danie se lewe as “Danie Reënwolf” ruskans kry, sien hy uit om huis toe te gaan en saam met Melissa te wees. Daar kan hy net “Danie” wees. 

In dié paartjie se oë behels ’n perfekte dag ’n ete by Gino’s Restaurant in Stellenbosch. Hulle deel graag ’n Napolitaanse pizza met ’n Guinness vir hom en ’n Castle Lite vir haar. “Een van ons eerste dates was by Gino’s en toe het ek per ongeluk ’n suit aangetrek. Ek was moerse gestres,” lag Danie. 

Elke dag saam met Danie is gevul met romantiek en opwinding, sê Melissa. 

“Danie sê gereeld dat sy pa dinge as romanties of onromanties sien. Net só moet mens altyd die romantiese dinge in die lewe nastreef en doen – steek kersligte by die etenstafel aan, drink goeie wyn, luister na goeie musiek,” sê Melissa. Sy vertel dat dié idee van romantiek weerspieël word in alles wat Danie doen. Om ’n pak Gino’s toe te dra, is geen uitsondering.

Danie du Toit en Melissa Bradshaw op hulle troudag, 16 April, in die Paarl. FOTO: Jacques Botha (Skillie)/Kikitography

Melissa is ’n “droom wat waar geword het”,  sê Danie. Vir hom is sy al die mooiste dinge in een mens. 

Die paartjie is in April getroud, en Melissa is opgewonde oor hul toekoms saam. “Danie maak die lewe kleurvol, helder en mooi. En ek weet dat, maak nie saak waarheen ons gaan nie, dit altyd ’n avontuur gaan wees,” sê sy.

Sterretjies in die tuin

Met sy lewe steeds in die kollig, het Danie vandag ’n nuwe droom: Om rustig sy tuin mooi te maak en ritme te vind. 

“My hele lewe lank het ek gevoel asof almal anders op hulle trapkarretjies is en ek myne nog stoot. Ek verstaan nie hoekom dit so maklik lyk vir almal nie. Asof die lewe so eenvoudig is. Maar dit is nie en it doesn’t make sense,” vertel Danie. “So, my grootste droom as amper 30-jaar oue Danie is om die tuin onder beheer te kry en om ’n ritme te vind.”

Danie val homself in die rede, gee ’n skaam glimlag en sê: “Ek dink die grootste ding wat ek wil regkry is om my voete op die grond te kry.” 

, ,