Agter die skerms met Mia Spies

Die joernalis en TV-aanbieder Mia Spies meen sy is gebore om ’n loopbaan in die joernalistiek te volg. Sy was van kindsbeen af nuuskierig en het graag na ander geluister. Sy het met MatieMedia se Dominique Fuchs gesels oor haar loopbaan, en die dinge wat haar laat lag (en huil).

Spies

Spies neem al ’n geruime tyd honde in pleegsorg, maar Penny het haar hart gesteel. Sy het intussen vir Penny aangeneem. FOTO: Dominique Fuchs

“Ek het altyd baie gepraat, baie geluister en was baie nuuskierig,” sê Mia Spies. Sy en haar suster het altyd geweet wat in die nuus aangaan en daar was altyd ’n Huisgenoot in die huis. 

“Elke oggend op pad skool toe, het die een wat voor in die kar sit die voorblad van die koerant vir my ma gelees,” sê Spies. Nuus was nog altyd een van haar belangstellings, en dit is daarom ook nie vreemd dat sy ’n loopbaan in joernalistiek gevolg het nie.

Spies het na skool joernalistiek aan die Universiteit van Pretoria studeer, en in 2010 graad gevang. Daarna het sy haar honneurs- en meestersgraad in joernalistiek aan die Universiteit Stellenbosch voltooi. 

Die begin van ’n suksesvolle loopbaan

Spies het haar medialoopbaan by Tuks FM as nuusleser begin. Sy het agter ’n mikrofoon ingeskuif “met absoluut geen opleiding nie”, en dít selfs voordat sy haar eerste klas bygewoon het. 

“Dit was ’n vuurdoop. Ek onthou die een manskoshuis het elke keer as ek op radio kom,  gesê: ‘Hier is Mia Spies met die nuus en sy sê ekskuus.’ Elke keer as ek ’n fout gemaak het, het ek ‘ekskuus, ekskuus’ gesê. Ten minste sê ek nie meer ekskuus nie.”

Spies werk sedert die begin van die pandemie as ’n vryskutjoernalis. 

“Ek het ’n platform gesoek om meer te kan doen, veral met digitale media,” sê Spies. Sy het op Facebook gesien dat mense onseker gevoel het oor wat die pandemie gaan inhou. Mense het baie uit beheer uit gevoel en almal, van haar familie tot vreemdelinge, het vir haar boodskappe gestuur en wou weet wat aangaan ten opsigte van die pandemie. Spies wou meer mense bereik en bemagtig deur nuus, en om as ’n vryskutjoernalis te werk, kon sy dít bereik.

Spies

Spies by haar werkstasie: Sy is mal oor haar werk en sê dit dryf haar om soggens met die dag te begin. FOTO: Dominique Fuchs

Spies meen dat sy as vryskutjoernalis “soveel ongelooflike mooi stories oor Suid-Afrika kan vertel”. 

“Ek is absoluut mal oor my werk,” sê Spies. “Ek dink ek is gebore om dit te doen en dit maak my regtig opgewonde.” 

Propvol passie

Spies se passie en liefde vir haar werk is opmerklik vir die mense om haar. Vir Magriet Coetzee-Spies, Spies se ma, is die passie en oorgawe waarmee haar dogter haar beroep beoefen, opvallend. “As sy nie getroud was nie, sou jy dink sy is getroud met haar werk,” sê Coetzee-Spies. Haar dogter se meelewing met alle mense en hulle stories staan ook vir haar uit. 

Volgens Spies is dit dikwels die goeie nuusstories wat haar laat huil, veral stories oor diere. “As jy na ’n hartseer storie toe gaan, berei jy jouself vir die emosies voor. Maar ’n goeie nuusstorie kan my in my kar op pad huis toe laat tjank,” sê sy. Stories oor mense wat bo hulle omstandighede uitgestyg het en presteer het, maak haar ook gelukkig. 

Spies

Vinkel en koljander: Penny dring aan op haar Seepunt-stappie elke dag. FOTO: Dominique Fuchs

Daniella van Heerden, self ’n bekroonde joernalis en ’n vriendin van Spies, respekteer veral Spies se werksywer. Sy ken Spies “langer as ’n dekade” en beskryf haar as “ontsettend dinamies, talentvol, ’n go-getter en iemand met charisma”. 

“Sy is iemand waarvan jy notisie neem. Jy kan nie anders as om haar raak te sien nie – sy het ’n presence. Tog is sy toeganklik, vriendelik en likeable,” sê Van Heerden.

Een van Spies se loopbaan-hoogtepunte was toe sy die Amerikaanse rockgroep, Foo Fighters ontmoet het. 

“Ek moes verslag doen oor ’n padblokkade en ek staan op die middelman en doen onderhoude met die LUR en verkeersbeamptes,” onthou sy. Maar toe bel haar redakteur en sê sy moet alles los en na die One&Only Hotel toe gaan, want die Foo Figters is daar. 

Sy het nie veel van hulle musiek geweet nie en het nie geweet wát om te vra nie. Sy het net 10 minute gehad om vinnig navorsing oor die groep te doen. “Ons het toe ure in die penthouse gesit en gesels en ek het vir hulle ’n paar Afrikaanse woorde geleer,” vertel sy.

Nuwe waagstuk

Mia het onlangs haar eie podsending, Nuusmakers, begin waar sy met ’n groot verskeidenheid kundiges gesels. Mia vertel dit is haar “passion project”. 

“Oorsee is podsendings hierdie ongelooflike groot medium en Afrikaans het nog net nie daai bus gehaal nie.” Sy praat met mense “met wie jy op ’n bank wil sit en met hulle gesels” – van politici, gesondheidskenners, sportlui en mense wat help om die nuus meer verteerbaar te maak. 

Die program behels gesprekke wat nuuswaardig is, maar bied ook aan die luisteraar die geleentheid om die gaste beter te leer ken. Mia se lysie van mense met wie sy nog op die podsending wil gesels, sluit in: André de Ruyter van Eskom, president Cyril Ramaphosa en die Olimpiese swemmer, Tatjana Schoenmaker. 

Jy is eers ’n mens, dan ’n joernalis.

Spies het onlangs party van haar projekte opsy geskuif om te fokus op ’n nuwe program wat in Julie vanjaar sal begin. “Wie’s Nuus” is ’n nuusprogram wat sal fokus op nuusmakers wat die opskrifte haal. Spies gaan die aanbieder van die program wees, wat op 21 Julie op kykNET afskop, en is baie opgewonde daaroor. 

Spies se stresontlading

Spies het op laerskool ballet beoefen. ’n Paar jaar gelede het sy weer haar balletskoene aangetrek, maar hierdie keer vir ontspanning. 

“Dis my manier om my kop van dinge af te kry,” sê sy. Tans oefen sy ballet saam met haar suster en vriendin by die Cape Ballet Centre. “Ek het begin as ’n absolute beginner, nou is ek ’n beginner,” sê sy met ’n breë glimlag. Spies gaan in Junie aan die Three Wishes for Cinderella-uitvoering by die Baxter-teater deelneem. 

Spies

Spies het onlangs begin ballet beoefen vir ontspanning. Sy spot dat sy as ’n absolute beginner begin het en nou al ’n beginner is. FOTO: Dominique Fuchs

Sy swem ook graag en stap elke dag saam met haar hond, Penny. Spies hou ook verskriklik baie van lees. Op die oomblik lees sy die Afrikaanse weergawe van Mandela se Long Walk to Freedom

“Daar is altyd ’n boek langs my bed en voor ek gaan slaap, lees ek eers ’n paar bladsye.” 

Spies volg ook graag Reese Witherspoon se boekklub en kyk baie televisie, veral nuus en Netflix. 

Wyse raad 

Spies se raad aan jong joernaliste is dat jy aan die begin van jou loopbaan self jou eie morele kompas moet bepaal. “Onthou ook altyd: Jy is eers ’n mens, dan ’n joernalis.”
“Om te glo in jou gut feeling – as joernalis is dit verskriklik belangrik. Stel jou doelwitte, werk natuurlik hard, maar dinge werk uit soos dit moet,” sê sy. “Jy moet onder begin, maar wees geduldig, laat die proses ontvou.”

Spies

Spies se kombuis is spiekeries, want sy kook nie: “Daar is ’n Woolies-lasagne in die yskas,” lag sy. FOTO: Dominique Fuchs

, , , , , , ,