Dié eerstejaar wil famous wees!

’n Eerstejaar BA Drama- en Teaterstudie student aan die Universiteit Stellenbosch, gaan aan die tweede seisoen van kykNET se talentprogram, Maak My Famous, deelneem.   

Rodney “Rotas” Goliath het verlede jaar besef hy het ’n passie vir kletsrym toe hy ’n derde plek in die Global Spotlight talentkompetisie verower het. 

“Ek rap al vandat ek graad agt is, maar het dit eers begin ernstig opneem toe ek in graad nege die kans gekry het om ’n radio-omroeper by Radio KC te wees,” het Goliath gesê. 

Rodney Goliath, ’n eerstejaarstudent in BA Drama- en Teaterstudie aan die Universiteit Stellenbosch, se bemarkingsfoto vir die musiekprogram, Maak My Famous. FOTO: Rodney Goliath.

Rodney Goliath, ’n eerstejaarstudent in BA Drama- en Teaterstudie aan die Universiteit Stellenbosch, se bemarkingsfoto vir die musiekprogram, Maak My Famous. FOTO: Rodney Goliath.

“Meer as 8 000 inskrywings is ontvang vir seisoen twee, waarvan Rodney deurgedring het na die top 48,” het Tarryn Josephs, die publisiteitsbestuurder van kykNET & kie, gesê. 

Volgens Josephs gaan dié program oor kanse én tweede kanse. 

Hoewel Goliath se inskrywing vir die eerste seisoen van die program onsuksesvol was, hoop hy nou om ander jongmense te inspireer. 

“Gryp elke geleentheid aan en doen dinge wat jou gelukkig maak. As jy  fail, is dit ’n kans om te leer,” het Goliath aan MatieMedia gesê.

Goliath se ma, Louise Goliath, het gesê die familie is baie trots op hom.

Rodney Goliath en sy ma, Louise Goliath. FOTO: Rodney Goliath.

Hier staan Rodney Goliath met sy ma, Louise Goliath. FOTO: Rodney Goliath.

“Rodney was gewoonlik baie teruggetrokke. Máár toe hy met sy musiek begin het, het hy in ’n heel ander mens verander,” het sy gesê.

Goliath het gesê dat die nuus oor sy deelname aan Maak My Famous “ongelooflik” was. 

“Ek is trots op myself. Ek voel geëerd dat ek uit só baie mense gekies is,” het hy gesê.

Goliath sal op 20 Mei sy debuut maak in die vierde episode van Maak My Famous. Seisoen twee het op 29 April om 20:00 op kykNET, kanaal 144, afgeskop.

, , , , ,