Covid-19 lei tot nuwe hoofstuk in die handboekbedryf

Aanlyn onderrig het gelei tot ’n skerp toename in die aantal studente wat e-boeke gebruik. Die skuif na digitale leermateriaal het veroorsaak dat baie uitgewers hul digitale strategie moes opskerp, maar daar is steeds uitdagings in terme van die gebruik van e-boeke.

Die Covid-19-pandemie het gelei daartoe dat baie studente oorgeskakel het om e-handboeke eerder as gedrukte handboeke te gebruik. Dít is volgens anekdotiese inligting wat ingesamel is deur die Uitgewersvereniging van Suid-Afrika (Pasa), het Brian Wafawarowa, voorsitter van Pasa, per e-pos aan MatieMedia gesê.

Pearson ltc, wat in 2021 die derde grootste uitgewer ter wêreld was, het in 2021 ’n aansienlike toename in die verkope van digitale sagteware en digitale produkte soos e-handboeke opgemerk, volgens Kim Cloete, korporatiewe sakevennoot by Pearson Suid-Afrika. 

“As ’n resultaat van Covid-19, kon ons…stygende rentekoerse in ons internasionale aanlyn leer besighede sien,” het Cloete gesê.

SUNMedia, ’n akademiese uitgewer in Stellenbosch, het as gevolg van die Covid-19-pandemie meer digitaal georiënteerd geword omdat hulle nou ’n groter aanvraag na e-leermateriaal het, volgens Michelle Meyer, redaksionele uitgewer by SUNMedia. 

handboekbedryf

Die universiteitshandboekbedryf het ’n aansienlike afname in die verkope van handboeke in die tersiêre handboekmark getoon. Die statistieke vir 2021 is nog nie beskikbaar nie. GRAFIKA: Carla Visagie BRONNE: Higher Education Sales Survey 2018-2019 en Higher Education Sales Survey 2019-2020

NB-Uitgewers het ook ’n aansienlike toename in die aanvraag na digitale leermateriaal opgemerk, volgens Henk Viljoen Streekskoleverkoopbestuurder van NB-Uitgewers.

“Daar was baie navrae van skole en tersiêre instellings om e-boeke aan te koop sodat kursusse aanlyn kon voortgaan,” het Viljoen gesê. 

Die toename in die aanvraag na e-boeke kan toegeskryf word aan die gerieflikheid daarvan om e-boeke te bekom en omdat e-boeke in meeste gevalle goedkoper is, volgens Meyer.

StudentSummaries, ’n Stellenbosch-gebasseerde aanlyn besigheid wat nota’s aan studente verkoop, het ook minder kliënte gehad tydens die inperkings, volgens Karel van der Vyver, ’n student wat by dié besigheid werk. Van der Vyver meen die rede daarvoor is omdat studente met die aanlyn lesings makliker self nota’s kon maak en dus nie meer ander studente se nota’s nodig het nie. 

“Studente het [met die aanvang van die Covid-19-pandemie en aanlyn leer] toegang gehad tot die klasse en hulle kon dit stadiger kyk. Toe klasse nog nét in persoon was, as jy ’n klas gemis het of die prof. het te vinnig gepraat, het jy dit gemis,” het Van der Vyver aan MatieMedia gesê.

In 2019 was die handboekmark in Suid-Afrika ongeveer R301 miljoen groot, volgens die jaarlikse uitgewerssektoropname wat deur PASA uitgegee is.

Die letterdiewery-probleem

Met die verhoogde aanvraag na e-boeke in die tersiêre handboekmark, was daar ook ’n skerp toename in die onwettige kopiëring van e-boeke, volgens Wafawarowa.

“…Uitgewers maak nou slegs 30% van die potensiële [tersiêre] markgrootte uit, met onwettige kopiëring en letterdiewery wat die oorblywende 70% [van die markgrootte] opneem,” het Wafawarowa in ’n Pasa-nuusbrief van September 2021 geskryf. 

Adriaan Kidson, ’n werknemer by Protea Boekwinkel in Stellenbosch, meen dat daar ’n toename in die verspreiding en kopiëring van onwettige handboeke in die plaaslike tersiêre handboekmark in Stellenbosch is. 

“Daar is nou ’n mark vir studente om [die e-boeke] te versprei onder mekaar. Ek weet baie van die mense deel die handboeke want dis baie maklik, dis ’n PDF,” luidens Kidson. 

handboekbedryf

’n Aanlyn intekendiens waarvoor lesers ’n maandelikse fooi betaal en dan toegang kry tot ’n wye verskeidenheid boeke, kan moontlik ’n oplossing wees vir die onwettige kopiëring van handboeke. So het Adriaan Kidson, ’n werknemer by Protea Boekwinkel in Stellenbosch, gesê. FOTO: Carla Visagie

Impak op boekwinkels 

Louise Swanepoel, wat al 20 jaar lank werksaam is by Protea Boekwinkel, het gesê dat die boekbedryf in Stellenbosch oor die afgelope tien jaar gekrimp het .

“Ons het agt tille gehad [in 2009] en ons het in Februarie [2021], twee [tille] gehad,” meen Swanepoel. 

Daar het sedert 2019 vier boekwinkels in Stellenbosch gesluit het, het Swanepoel bygevoeg.

Protea Boekwinkel in Stellenbosch het voorheen ’n afdeling in die winkel gehad waar hulle boekbesprekings gehou het, nou is dié afdeling vervang met boekrakke. “[Met die boekbesprekings het] daar 40 mense na die skrywer kom luister, maar [dan] koop hulle nog ’n R1 000 se ander boeke,” het Louise Swanepoel, ’n werknemer van dié boekwinkel gesê. FOTO: Carla Visagie

E-handboeke en onderrig

’n 2020-studie deur Shammah Osih en Dr. Upasana Singh van die Universiteit van Kwazulu-Natal, het getoon dat meeste studente by dié universiteit e-handboeke verkies. 

“Die navorsingsuitslae het getoon dat meeste van die studente (61,2%) e-handboeke verkies teenoor die (38,8%) wat die gedrukte handboeke verkies,” volgens die studie.

’n Landwye opname deur Juta, ’n internasionale uitgewersmaatskappy – het egter aangedui dat daar studente in Suid-Afrika is wat sukkel om toegang te kry tot aanlyn leermateriaal. 

“32% van studente [in Suid-Afrika] het gesê hulle sukkel om toegang te kry tot digitale kursusmateriaal omdat hulle nie ononderbroke toegang het tot die internet of ’n rekenaar nie,”  het Philile Mabolloane, die Hoof Inkomstebeampte van Juta & Co in ’n opiniestuk op Daily Maverick se webwerf gesê. “Verder het amper ’n kwart van studente (23%) aangedui dat hoë datakoste ’n uitdaging is.” 

Mabolloane het bygevoeg dat betroubare internettoeggang besig is om ’n sosio-ekonomiese uitdaging te word. “Diegene sonder betroubare internettoegang staar toenemend die moontlikheid om agterweë te raak in die gesig, wat dit moeilik maak om hulself uit armoede te bevry.”

, , ,