Onderwys was van kleins af in Colleen Adonis se bloed. Ondanks teenkanting van ’n onderwyser destyds, het Adonis haar droom bly najaag en in 1985 die onderwys betree. In Januarie vanjaar, na 38 jaar as onderwyser, het Idasvallei Primêr se Colleen Adonis afgetree. Sy het met SMF News se Gio Anthony gesels oor haar loopbaan.
Colleen Adonis se stem eggo deur die gange van Idasvallei Primêr op Stellenbosch. ’n Onderwyser kom uit haar klaskamer uit. “Ek wil mos sê, ek herken daardie stem,” sê die onderwyser vir Adonis.
Adonis stop om te groet, en loer by verskeie klaskamers in.
Sy is op pad ontvangs toe, maar word kort-kort oorval deur kinders wat hul ou juffrou weer wil groet, of ’n geselsie wil aanknoop.
Tot Januarie was hierdie gange soos huis vir haar. Op 1 Februarie, na 38 jaar in die onderwys, het Adonis afgetree.
‘Ek was altyd die juffrou’
Adonis het in Idasvallei grootgeword. Haar ma, Wilhelmina Louw, was ’n verpleegster en ’n enkelouer. Hulle het by haar ouma en oupa gewoon. Adonis onthou hoe haar ma soggens om 05:00 die huis moes verlaat om in Tygerberg te gaan werk.
“My ma moes gaan werk het, en my ouma en oupa moes die vorming gedoen het,” vertel Adonis.
Die huis was gegrond in die Christelike geloof, en haar ouma en oupa het dikwels van haar verwag om by die kerk betrokke te wees.
Adonis onthou haar ma as ’n kranige netbalspeler, terwyl haar tannie, Elizabeth Louw, “die juffrou in die huis” was. Haar tannie het dikwels vir Adonis ingespan as student en proefkonyn.

Die Stellenbosse onderwyser Colleen Adonis het onlangs, ná 38 jaar in die onderwys, afgetree. Adonis, wat ’n groot liefde vir sang het, was lank koordirigent by Idasvallei Primêr, en het ook die Christelike koortjies by dié skool se Maandagbyeenkomste gelei. FOTO: Gio Anthony
Adonis het dus onderwys met moedersmelk ingekry. Boonop het haar oupa vir Adonis ’n speel-klaskamer by hulle woning geskep, waar sy en haar grootword-maats kon speel.
“Onbewustelik in ons manier van speel, […] van kleins af was daardie eienskappe in my gewees. Ek was altyd die juffrou,” sê Adonis.
Adonis het haar skoolloopbaan aan Lückhoff Hoërskool tussen 1981 en 1984 in Idasvallei voltooi. Dis waar juffrou Mary Hendriks vir haar gevra het wat sy eendag wou word. Adonis het in daardie stadium in verskeie loopbane belanggestel: Sy wou ’n sangeres of onderwyser word. ’n Ander belangstelling was verpleegkunde.
Adonis was van jongs af baie lief om te sing, en een van haar gunstelingsangers was Whitney Houston.
Juffrou Hendriks het egter vir haar gesê dat ’n sangeres nie ’n beroep is nie, en dat sy met haar vakkeuses bedryfsekonomie, ekonomie, rekeningkunde en tik, ook nie ’n onderwyser sou kon word nie. Sy het egter vasberade geantwoord, en verwys na Idasvallei Primêr, waar sy een skool gegaan het in 1975-1980: “By die skool waar my wortels lê, gaan ek nog [eendag] skool hou.”
“Ja? Ons het gróót drome!” het juffrou Hendriks vir Adonis gesê. Daarop het Adonis geantwoord: “My oupa het vir my gesê drome word wáár.”

Lückhoff Hoërskool is geleë langs Idasvallei Primêr, in Bloekomlaan in Idasvallei. Colleen Adonis, ’n afgetrede onderwyser, het by altwee dié skole skool gegaan, en sou later by Idasvallei Primêr skoolgee. FOTO: Gio Anthony
Meer as net onderrig
Adonis was reg. Sy hét ’n onderwyser geword, sy het by Athlone Onderwyskollege (ATC) in Paarl studeer, tussen 1985-1987.
Haar eerste pos was by Bottelary Primêr, waar sy in 1985 begin werk het.
Die skool en omgewing het in daardie stadium verskeie sosiale probleme gehad, verduidelik Adonis. Wanneer daar nood was, het die onderwysers dikwels hul eie salarisse gebruik om daardie gapings aan te spreek, sê sy.
“Daar was jou geld nie jóúne nie,” sê Adonis.
Daar moes die onderwyser seker gemaak het dat elke kind kry ’n bord kos, want die kinders het nie altyd voeding by die huis gekry nie.
“Daar was dae waar jy moes brood koop,” onthou sy. “Daar het ek in my jong lewe geleer dat ek op die Here moet vertrou, […] want daar was was nie hulp en leerondersteuning gewees nie.”
Tien jaar later, in 1998, kon sy haar belofte aan juffrou Hendriks gestand doen: Sy het ’n pos gekry by die skool waar haar wortels lê. Idasvallei Primêr.
Aanvanklik was die oorgang na die nuwe skool vir haar moeilik, verduidelik sy. Die personeel en klaskamers was groter. Twee meer senior en ervare onderwysers by Idasvallei Primêr, juffrou Katts en juffrou Carstens, het egter in daardie stadium haar hand gevat en haar ondersteun.

Colleen Adonis het by Idasvallei Primêr skoolgegaan. In 1998, het sy as onderwyser teruggekeer om by haar alma mater skool te gee. FOTO: Gio Anthony
“Ek is nie spyt ek het die skuif hiernatoe gemaak nie, want ek moet in my gemeenskap werk,” sê sy.
Vir Adonis was dit belangrik om ’n verskil te maak by die skool waar sy self eens op skool was. By Idasvallei Primêr het sy geleer om die dinge wat sy aanpak voluit te doen.
In party gevalle het Adonis tot drie generasies uit dieselfde familie onderrig. By Idasvallei Primêr het sy ook ervaar dat die hele gemeenskap betrokke was by ’n kind se lewe.
Sy vertel dat sy op ’n dag gedurende pouse iets by die winkel oorkant Idasvallei Primêr wou gaan koop. Daar loop sy toe ’n bekende gesig raak. Dit was ’n oud-leerder wat eens in haar klas by Idasvallei Primêr was. Nou was hy in Lückhoff-skoolklere. Sy het vir hom gevra hoekom hy gedurende skool-ure buite was.
Hy was geskors.
Sy het daar en dan vir hom op haar eiesoortige manier moed ingepraat. Hy moet sy geleenthede aangryp om hard te leer, het sy gesê. En na die skorsing, moet hy terugkeer skooltoe, sodat hy eendag kan werk en vir sy familie kan werk.
Die volgende week het sy na Lückhoff Hoërskool toe gestap en vir die hoof gevra of sy met die seun kon praat. Die drie van hulle het in die hoof se kantoor gesit. Sy het toe vir die hoof gesê: “Meneer, vandag kom ek na hom toe, om eintlik vir hom dankie te sê. Dat ek vir hom kan vertrou. Dat hy geluister het na my, en dat hy respek het vir my.”
Daardie jaar het die seun matriek geslaag.
Jare later het hy ’n sukses van sy lewe gemaak. En hy het teruggegaan na haar toe en gesê: “Juffrou, dis omdat jy later soos ’n ma vir my kom raak het.”
Maar, soos skoolwette verander het, moes sy haar manier van onderrig ook verander. Sy kon nie meer die rol van terapeut, dokter en voog volstaan nie. Dit was moeilik vir haar: Sy het die nood in die kinders se lewe gesien, maar die hulp wat sy kon aanbied, was beperk.
Die lewe en aftrede
In Januarie 2025, het Adonis besluitdat dit haar laaste jaar in die onderwys sou wees. In Januarie 2026, het sy finaal as onderwyser by Idasvallei Primêr se uitgestap. In haar hart sal sy nooit ophou om ’n onderwyser te wees nie.
“[Maar] ek het gevoel my tyd is klaar,” sê sy. Sy en haar man, Eugene Adonis, wat by die Universiteit Stellenbosch se biblioteek gewerk het, het besluit om gelyktydig af te tree, en om die afgetrede lewe saam te geniet.

Afgetrede plaaslike onderwyser, Colleen Adonis, by haar man Eugene (links) en hul seun, Roschen. Colleen en Eugene het besluit om saam in 2026 af te tree. Die paartjie beplan om deur Suid-Afrika te toer. FOTO: Gio Anthony
Roschen Adonis, Colleen Adonis se jongste seun, was ook in haar klas en het haar dus as juffrou by die skool ervaar, en as ma by die huis.
“Haar werk was nie net in die klaskamer nie. Sy wou geweet het hoe dit met jou gaan as persoon,” sê Roschen.
“Haar werk was nie net in die klaskamer nie. Sy wou geweet het hoe dit met jou gaan as persoon.”
Haar rol as onderwyser het verder gestrek as net in die klaskamer, sê hy. Sy het persoonlik omgegee oor elke leerder wat deur haar hande gekom het, “en dis wat vir haar spesiaal gemaak het”, sê hy.
Sy wou hê dat elke leerder hul beste moet doen en ’n beter persoon word, voeg Roschen by. Adonis was nie net ’n onderwyser nie, maar ’n moeder vir baie leerders.
Sy ma se liefde vir onderwys, het vir Roschen geïnspireer om ook ’n onderwyser te word. Hy is tans ’n onderwyser by Hoërskool Hexvallei op De Doorns.

Vir 38 jaar was Colleen Adonis ’n onderwyser, en het sy ander se kinders opgevoed. Haar jongste seun, Roschen Adonis, was ook in haar klas. Haar liefde vir onderwys het hom geïnspireer om ook ’n onderwyser te word. FOTO: Gio Anthony
Abigail Julies, ’n oud-leerder van Idasvallei Primêr, vertel dat Adonis se positiwiteit aansteeklik was.
Sy het omgegee oor prestasie, maar ook oor die mense wat haar leerders eendag sou word, sê Lona Mhaga, ook ’n oud-leerder van Adonis.

Een van afgetrede plaaslike onderwyseres, Colleen Adonis, se wense is dat die leerders en gemeenskap die geskiedenis van Idasvallei Primêr moet ken en die waardes van die skool elke dag sal uitleef. FOTO: Gio Anthony
Nou, in haar aftrede, sien Adonis steeds die nood raak. In De Doorns, waar haar seun nou skoolhou, is verskeie families negatief beïnvloed deur onlangs swaar reëns en vloede. Sy en haar man het begin om kos en klere vir die gemeenskap in te samel.
Op persoonlike vlak is die groot doel voor oë egter om te fokus op die nuwe hoofstuk van hul lewe. Daar is ’n paar dinge op hul wenslys. Maar een daarvan staan tans vir hulle uit: Om saam deur Suid-Afrika te toer en die land se skoonheid te beleef.

