Beyers bou brûe

Taal word meestal beskou as ’n versperring tussen verskillende kulture, maar Pietie Beyers glo dat dit brûe en middeweë kan bewerkstellig, wat sal lei tot ’n dieper vlak van respek, menslikheid en begrip tussen Suid-Afrikaners. Anke Nothnagel het met hom gesels oor die warmte en vriendelikheid van een van die land se amptelike tale: Zoeloe. 

IMG_3603

Binne hom vloei daar ’n onderstroom van inklusiwiteit om innige verhoudings met mense te vorm. Hy is nie nét ’n akteur óf ’n skrywer of nét ’n vervaardiger óf aandeelhouer nie. Hy is in die besigheid van menslike konneksies. FOTO: Pietie Beyers, gewysig deur Anke Nothnagel. 

Twee jaar gelede bevind die bekende Suid-Afrikaanse akteur, Pietie Beyers, homself in McDonald’s se parkeerterrein in Berea – ’n Johannesburgse voorstad wat grens aan die berugte Hillbrow.

Hiér het hy weekliks vir ’n uur lank saam met sy Zoeloe-onderwyser in die kar gesit en Zoeloe leer praat.

“As ek vir mense gesê het dat ek daar klasgeloop het dan was hulle so half soos, ‘was jý in Berea?’,” vertel Pietie. Hy sê hy kon sien dat mense dan tegelykertyd verward en beïndruk was. 

Sy Zoeloe-onderwyser het in die omgewing gewoon en daarom het hy vir ’n jaar lank Berea toe gery.

“Só het ons ook mekaar ontmoet – sodat hy vir my Zoeloe kon leer. Dit was nogal amazing,” sê Pietie.

’n Besigheid van “menslike konneksies” – op jou voorstoep

Pietie, wat sy honneursgraad in Drama- en Teaterstudie aan die Universiteit Stellenbosch in 2012 voltooi het, het aan die einde van ’n projek waaraan hy gewerk het, beplan om sy persoonlike vaardighede op te skerp.

“Iemand wat saam met my op die projek gewerk het, het vir my gesê dat as ek ooit iets game changing wil doen, óf iets ongelooflik vir myself wil doen, móét ek ’n ander taal aanleer,” vertel Pietie.

Só het hy mense rondom hom begin vra watter taal hy moet leer én watter taal die meeste in Suid-Afrika gepraat word.

Dit is toe dat iemand sê dat Zoeloe die een taal is wat ’n mens in dié land moet leer praat – omdat dit die mees gesproke huistaal in Suid-Afrika is.

“Ek is toe, soos… okay. En gaan Google letterlik ‘Johannesburg Zulu lessons’. Toe ek weer kyk is dit twee jaar later en ek gee al Zoeloe-lesse én ek praat dit basies elke dag van my lewe,” sê hy.

“Dit vorm deep, deep connections. Interaksies word konneksies – wat baie exciting is.”

FOTO1

“Zoeloe is ’n warm- en baie vriendelike praattaal,” sê Pietie. FOTO: Pietie Beyers, gewysig deur Anke Nothnagel 

Van kleintyd af was Pietie nog altyd lief vir praat… selfs op kindervideo’s.

“Ek dink maar ek het ’n onderstroom van inklusiwiteit binne my. Ek voel nie ek is noodwendig nét ’n akteur of nét ’n skrywer of nét ’n vervaardiger óf aandeelhouer nie. Ek voel ek is in die besigheid van menslike konneksies,” sê Pietie.

Dit is om dié rede dat hy besluit het om eerder een van Suid-Afrika se amptelike tale aan te leer as ’n vreemde, buitelandse taal.

“Ek stap by die huis uit en ek kan dit elke liewe dag praat én ’n verskil maak op ’n mikrovlak ten opsigte van menslike konneksies en ek wil amper sê… rasseversoening.”

Hy mag dalk nie noodwendig, soos wat hy sê, “altyd so clued up wees nie,” maar hy is baie bewus van die politieke narratiewe in ons land. 

“Daar is dikwels ’n politieke onderstroom wanneer mense van verskillende rasse met mekaar praat, maar wanneer jy met iemand in hulle taal praat, dan is dit amper asof julle die rassesituasie sidestep en net meer met mekaar kan praat as mense.”

Eerder as wat taal beskou word as ’n versperring, glo hy dat dit ’n brug is wat rasseverskille kan omskep in ’n vorm van gemeenskaplike menslikheid. 

Dit vorm deep deep connections. Interaksies word konneksies – wat baie exciting is.”

“As ek met mense praat in ’n taal wat die ander persoon se eerste taal is, dan sien ek daai openhartige, respekvolle konneksie wat ons vorm en dan wonder ek partykeer wat dit kan beteken as ons dit op ’n groter vlak aanleer,” vertel hy. “Dit kan nogal lei na ’n dieper vorm van respek, menslikheid en begrip.”

Die brûe en middeweë wat ’n mens deur middel van taal bewerkstellig, het Pietie net nóg liewer vir Zoeloe.

“Toe ek besef dat Zoeloe die mees gesproke taal in ons land is, toe dink ek, wel… dis ’n goeie manier om dáárdie brug so groot en sterk as moontlik te maak,” sê hy.

Wanneer jy niks weet nie… – begin daar!

Pietie se ma, die Afrikaanse aktrise, Susanne Beyers, het altyd vir hom gesê, “when in doubt… low and slow”.

Dié raad het hy toegepas in tye wat hy Zoeloe met mense gepraat het.  

“Dan praat ek net stadig en sê dit maar ’n bietjie óórduidelik. Mense sien ’n mens se probeerslag raak en waardeer dit,” sê hy.

Hy het respek vir enigiemand wat ’n nuwe taal aanleer, omdat hy glo dat dit nederigheid vereis – want wanneer jy ’n nuwe taal aanleer, begin jy van niks af.   

“Ek sê altyd ’n mens weet niks oor iets en dan begin jy van daar af. Daar is iets nederigs en soortvan braaf daaraan.”

Van die eerste uitdrukkings wat hy van die Zoeloe-taal geleer het was, unkulunkulu akubusise wena wat beteken “may God bless you”, en ngiyabonga wat “dankie” beteken.

“Zoeloe is ’n warm- en baie vriendelike praattaal. As ek vir iemand ‘dankie’ sê, dan sal hulle vir my terugsê, ‘dis ’n plesier, my broer,’ in Zoeloe. Dis baie embracing en inclusive en dis my vir beautiful,” vertel Pietie.    

Ek sê altyd ’n mens weet niks oor iets en dan begin jy van daar af. Daar is iets nederig en soortvan braaf daaraan.”

Vir hom is die manier waarop mense mekaar groet, asook letterlike betekenis daarvan sy gunsteling aspek van Zoeloe.

Sawubona is ‘hallo’, maar sy letterlike betekenis is, ‘ons sien mekaar’ of ‘ek sien jou’. Máár hoor hoe mooi is dié – as iemand dan sê ‘unyani’ wat beteken ‘hoe gaan dit’, antwoord die ander persoon ‘ngikhona’ wat beteken ‘ek is hier’.” 

Vir Pietie is dit iets baie eenvoudig – tog suiwer.

“Daardie interaksie is vir my beautiful – net om te sê, ‘ek sien jou’ en ‘ek acknowledge your presence’,” sê hy.

Al is hy nie self vlot in Zoeloe nie, wil hy die saadjie wat by hom geplant is, ook by ander plant. Daarom het hy tydens die grendelstaat gratis aanlynklasse aan iemand begin gee.  

“Ek leer net vir mense wat ek weet – die beginner tools. Ek wil net hê mense moet in hulle eie lewens agterkom hoe ongelooflik spesiaal dit is om ’n ander taal aan te leer,” vertel Pietie.

Maar dié leer moet mense nie die skrik op die lyf jaag nie. Hulle moet net sien wat gebeur as ’n mens ’n paar woorde ken en met mense begin praat.

“Want taal leer klink vir my soos ’n mission. Maar die oomblik dat jy ’n paar woorde begin praat wat jy ken en jy probeer dit uit – dan verander dit van akademies na magic,” sê Pietie.

Vandag, leer Pietie Beyers Zoeloe aanlyn deur die maatskappy, Fluentella, saam met sy nuwe Zoeloe-breier. VIDEO: Facebook/Pietie Beyers

,