’n Plaaslike kultuursentrum het onlangs ’n bespreking oor die verwerking van boeke tot films, in die Suid-Afrikaanse konteks, aangebied.
Dit is volgens Délani Spies, administratiewe bestuurder van die Oude Leeskamer, ’n kultuur- en erfenissentrum in Stellenbosch.
Verstaan die verskil
“Alhoewel [mense] weet hoe dit gebeur, is daar soveel mense wat nie besef […] hoekom [jy] sekere goed nie kan skiet (verfilm) nie en hoekom alles wat in die boek is, nie in die reeks is nie,” het Spies gesê.
Die “interaktiewe” bespreking was daarop gemik om te verduidelik wat die vervaardiging van ’n film behels, het sy gesê.
Die skrywer Zelda Bezuidenhout, draaiboekskrywer Henriëtta Gryffenberg en aktrise Antoinette Louw het gesels oor die verskeie perspektiewe wat by die proses betrokke is.

Van links na regs: Zelda Bezuidenhout, skrywer van ‘Die dekonstruksie van Retta Blom’, draaiboekskrywer Henriëtta Gryffenberg, en aktrise Antoinette Louw, wat die karakter van Lauretta Blom in die filmverwerking gespeel het. FOTO: Kiara Wales
Die onderwerp onder bespreking
Die dekonstruksie van Retta Blom is ’n “coming-of-age” roman oor die 40-jarige Lauretta Blom, ’n huisvrou wat op ’n reis van selfontdekking gaan nadat sy besef haar man het ’n buite-egtelike verhouding gehad, volgens Bezuidenhout.
Baie van die karakters in haar boek is geïnspireer deur mense wat sy ken, so dit was nie so moeilik om hulle as “regte mense” voor te stel nie, het sy gesê.
“Ek het nooit gedroom om ’n skrywer te wees nie, omdat ek nooit gedink het dat ek genoeg ‘vasbyt’ het om ’n hele boek te skryf nie,” het Bezuidenhout gesê. “En nou is dit ook ’n film.”

Spesifieke tonele uit die rolprentverwerking van ‘Die dekonstruksie van Retta Blom’ is ontleed. FOTO: Kiara Wales
Wat behels die maak van ’n film?
Die geleentheid het deel gevorm van die Oude Leeskamer se Boek tot Skerm-reeks, wat kyk na die proses om ’n boek tot ’n film te verwerk, het Spies gesê.
“[Dié soort gesprek] is lekker vir [mense] wat flieks kyk en tien teen een fliekvlooie is,” het Gryffenberg gesê.
“’n Akteur moet die ‘binnewerk’ van ’n karakter doen […]. Jy kan nie voorspel hoe jy sekere dinge gaan doen nie. Jy moet by ’n karakter kan [aansluit],” het Louw gesê.

Die geleentheid het deel gevorm van die Oude Leeskamer, ’n plaaslike kultuur- en erfenissentrum, se Boek tot Skerm-reeks. Tydens hierdie geleentheid word gekyk na die proses van boek tot skerm, binne die Suid-Afrikaanse konteks. Dit is volgens Délani Spies, administratiewe bestuurder by die Oude Leeskamer. FOTO: Kiara Wales
