AmaMaties wen eerste Maties Atletiek Kluster Beker-byeenkoms

AmaMaties is as die klusterkampioen van die eerste byeenkoms van die Maties Atletiek Kluster Beker gekroon. TygerMaties was tweede, terwyl Validus met die vuil goud weggestap het. 

800m vrouens se wegspring. FOTO: Anke van der Merwe

800m vrouens se wegspring. FOTO: Anke van der Merwe

Die byeenkoms het plaasgevind op 2 Oktober by Coetzenburg se atletiekbaan. Elke kluster van die Universiteit Stellenbosch (US) kon deelneem. Koshuise en privaatwyke word in klusters ingedeel.

 

Klusters

Inligtingsgrafiek van Universiteit Stellenbosch se klusters. GRAFIEKA: Anke van der Merwe

Maryam Adams, AmaMaties se klustersameroeper, het die byeenkoms as ’n groot sukses beskryf. 

“Die getal toeskouers en ondersteuning kon meer gewees het, maar nietemin was die energie op die baan baie lekker vir dié wat deelgeneem het,” het Adams gesê. “AmaMaties is baie trots op ons atlete en is dankbaar om ’n geleentheid te hê waar hulle hul talente kan wys. Ons sien baie uit vir die volgende geleentheid!”

Met die vroue 800 m wat eers met ’n vals begin weggespring het, het die fluitjie uiteindelik geblaas om die eerste baanitem van die die aand te laat begin. Wynand du Toit (22) van Maties Atletiek het met die mikrofoon in die hand gestaan om deurgaans kommentaar te lewer. 

“Wat ’n mooi aand op Stellenbosch!” het hy gereeld gesê.

EDIT-DSC_0050

Valco van Wyk warm op vir die verspring-item. FOTO: Anke van der Merwe

Hadley Volkwyn, Maties Atletiek-bestuurder, sê dat die tweede byeenkoms op 9 Oktober by Coetzenburg se atletiekbaan gaan plaasvind. 

“Ons gaan weer dieselfde items hê, maar daar gaan ook ’n resies wees in daardie groot hamster balle vir studente om te geniet,” het hy gesê. Dit is waar die uiteindelike kampioen bepaal gaan word met al die punte wat opgetel gaan word.

“Ons wil graag meer studente hê wat deelneem volgende week, veral by die aflos,” het Volkwyn bygevoeg. Hy beskou die aflos as een van die hoogtepunte en moedig studente aan om in te skryf. “Almal is welkom!”

EDIT-DSC_0084

Die tradisionele 100m-item is aangepas na ‘n 60m en hier hardloop die vroue oor die eindstreep. FOTO: Anke van der Merwe

Janke van Wyk (22) van Maties Atletiek was een van die baan assistente. “Ek dink dit is ’n goue geleentheid vir die studente om aan sulke klusterbyeenkomste deel te neem! Dit bied vir almal die kans om nie net pret te hê nie, maar ook ander studente in hul kluster beter te leer ken.”

“Die eerste byeenkoms was ’n sukses en die atlete wat deelgeneem het, het dit verseker geniet!” voeg Van Wyk by. “Ek sien baie uit na die ander twee byeenkomste wat volg en ek raai almal aan om deel te neem.” 

EDIT-DSC_0057

Divan du Toit (links) het derde gekom in die 600m. FOTO: Anke van der Merwe

Divan du Toit (21) van die VicMeyr kluster, het deelgeneem aan die 600m item. “Dit was baie lekker om deel te neem, maar sou baie lekkerder gewees het as daar ’n skare was om die atlete aan te moedig terwyl hulle deelneem,” het Du Toit gesê.

Du Toit beveel ook aan dat nog mense moet deelneem. “Die byeenkoms is nie net vir top atlete nie en almal wat daar was, was aangemoedig om deel te neem aan meer items a.g.v. ’n tekort aan inskrywings.”

“Die hoogtepunt vir my was die feit dat ek deelgeneem het. Ek het gegaan met die doel om net te gaan kyk, maar toe ek sien daar is ’n tekort aan deelnemers, kon ek nie help as om my naam op te sit vir die 600 m nie,” het Du Toit bygevoeg.