Aandklas Battle of the Bands maak Stellies druis

Die vier musiekgroepe wat deurgedring het tot die finale rondte van die Aandklas Battle of the Bands 2022 het Saterdagaand, 27 Augustus, behoorlik dié Stellenbosse kuierplek se dak gelig. Prodical, ’n progressive metal- en djent-musiekgroep van Kaapstad, is as die wenners van die kompetisie aangekondig. 

Vanjaar se musiekgroepe wat aan die Aandklas Battle of the Bands-kompetisie deelgeneem het, het ’n groot verskeidenheid musiekgenres na die kompetisie gebring, het Arnold van der Walt, die vermaaklikheidsbestuurder van Aandklas en die organiseerder, seremoniemeester en een van die beoordelaars van vanjaar se kompetisie, gesê. FOTO’S: Karla van der Merwe

“Dit was die beste Battle of the Bands wat ons al gehad het oor die afgelope 15 jaar,” het Arnold van der Walt, die vermaaklikheidsbestuurder van Aandklas, gesê. Hy was ook die organiseerder, seremoniemeester en een van die beoordelaars van vanjaar se kompetisie. 

Die ander groepe wat aan die finale rondte deelgeneem het, was Face Jackson, Splinter en The Stone Cherries. In totaal was daar 10 musiekgroepe wat aan die kompetisie deelgeneem het, volgens Van der Walt. Die kompetisie het op 10 Augustus begin en het oor drie algehele rondtes afgespeel, aldus Aandklas se Instagram-blad. 

Battle of the Bands

Prodical is op 27 Augustus as die wenners van vanjaar se Aandklas Battle of the Bands-kompetisie  aangekondig. Van links na regs is Mika Burger (baskitaar), Joganan Geldenhuys (dromme), Luka Geldenhuys (kitaar), en Tertius Breytenbach (kitaar). FOTO: Karla van der Merwe

Prodical het weggeloop met ’n R10 000-kontantprys, ’n Paul Bothner-geskenkbewys ter waarde van R15 000, en ander borgverwante pryse ter waarde van R5 000, het Van der Walt aan MatieMedia gesê.

Prodical kraai koning

 Prodical, die wenners van vanjaar se Aandklas Battle of the Bands-kompetisie, het die aand se verrigtinge afgeskop. Die groep bestaan uit Tertius Breytenbach (Foto 1), Mika Burger (Foto 2), Joganan Geldenhuys (Foto 3), en Luka Geldenhuys (Foto 4). FOTO’S: Karla van der Merwe

Luka Geldenhuys, een van Prodical se twee kitaarspelers, het aan MatieMedia vertel dat die groep die kompetisie aangepak het met die idee om hulle bes te probeer, dit te geniet en te kyk wat hulle daaruit kon leer.

“Om so ver te kon kom was elke [rondte] net insane,” het hy gesê. “Ons wat op die verhoog is, is net 50% van die geleentheid – die mense wat opdaag en dit saam met ons geniet, is wat dit die moeite werd maak en ons is so dankbaar vir almal se ondersteuning.”

Dit was vir Joganan Geldenhuys, die tromspeler van Prodical, ’n “lewensveranderende oomblik” om te hoor dat hulle die kompetisie gewen het. “Daar was elektriese ondersteuning van aanhangers af wat ons deur die kompetisie gedra het,” het hy gesê. 

’n Regverdige stryd

Vyf beoordelaars, asook gasbeoordelaars, het die musiekgroepe gedurende die onderskeie rondtes beoordeel, het Van der Walt gesê.

“Ons kyk na hoe link jy met die gehoor, hoe die groep lyk, hulle styl, hoe tight hulle is, liedjiestrukture, tempo, [en] of hulle al die reëls volg,” het hy verduidelik. “Ons het baie reëls in plek [gestel] om dit regverdig […] en so objektief as moontlik te behou.”

Alle groepe het byvoorbeeld slegs 25 minute gehad om al hulle toerusting op die verhoog te kry en mag ook slegs een bestaande liedjie gespeel het, het hy gesê.

Battle of the Bands

 Die Face Jackson-musiekgroep het vierde geëindig in vanjaar se Aandklas Battle of the Bands-kompetisie. “[Die kompetisie] is so essensieel vir ons vordering hier in Suid-Afrika. Ons het nog nie baie ervaring hier in Suid-Afrika nie en ons het pas Kaapstad toe getrek,” het Riccardo Da Naya, ’n lid van dié musiekgroep gesê. FOTO: Karla van der Merwe

“Ek is al sedert 2015 ’n beoordelaar vir dié kompetisie en ons het nog nooit so baie gesukkel soos vanaand om ’n wenner te kies nie,” het Van der Walt gesê. “Daar was nie een groep op wie ek nie vanaand ge-jam het nie.”

, , , ,