66-Jaar en`n vals kitaar

Koos Kombuis is liedjieskrywer, sanger, digter, prosa-skrywer, en soveel meer. Hy het met MatieMedia gesels oor alles van Paul Roos tot Saal 6, die Voëlvry Toer, en die plaaslike musiekbedryf.

 Koos Kombuis speel by Tigers Milk in Stellenbosch. FOTO: Wessel Krige

“Oom.” Dit is hoe Koos Kombuis homself deesdae sal beskryf. 

Dit is vêr verwyder van hoe talle musikante en aanhangers hom sal sien. Want op die ouderdom van 66, gee Koos Kombuis steeds kragtige optredes op dieselfde tong-in-die-kies-styl wat hom in die 1980s beroemd gemaak het. 

Hy skryf ook steeds gedigte en publiseer steeds romans in beide Engels en Afrikaans. Sy kinderboek van 2019, “Eben die Ellendige Eenhoring” (in Engels gepubliseer as Hubert the Useless Unicorn) en sy nuutste album van 2017 “Langpad na Lekkersing”, is bewyse dat dié “oom” nog baie skop het. 

Koos se liefde vir musiek volg hom al sedert sy kinderjare. 

Verskeie kunstenaars het sy musiekidentiteit beïnvloed. 

“Toe die eerste Afrikaanse pop kunstenaars, Bernoldus Niemand, David Kramer en Anton Goosen begin sing, het dit vir my iets bevestig wat ek sedert laerskool al vermoed het: Dat Afrikaanse rock n roll nie net moontlik is nie, maar absoluut verpligtend [is],” sê Koos per e-pos aan MatieMedia

Koos is hoofsaaklik bekend as ’n alternatiewe rock-veteraan. Maar hy is ook ’n gerekende Afrikaanse digter en prosa-skrywer. Volgens Koos word hy steeds beïnvloed deur baie Engelssprekende digters. 

“Walt Whitman, Pablo Neruda, die lirieke van Bill Knight, die interessante en crazy stuff wat Chris Chameleon geskryf het toe hy nog “Boo” was. O, ja. Daar is baie,” sê Koos.

Maar voor al die gedigte en liedere, is daar die storie van André le Roux du Toit, en hoe hy na jare van sing en skryf, bekend geword het as die legende in Afrikaanse musiek, Koos A. Kombuis.

FOTO: Wessel Krige

André le Roux du Toit:

André le Roux du Toit is op 5 November 1954 in Duiwelspiek, Kaapstad, gebore. Volgens sy autobiografie, “Seks,drugs en boeremusiek”, was sy ma ’n onderwyseres en sy pa ’n maatskaplike werker. In die boek het hy sy aankoms in die wêreld beskryf as “onnet, onafgerond en onvanpas”.

Koos, volgens sy autobiografie, het op drie leer lees en het sy eerste roman op die ouderdom van vier begin tik. 

Sy hoërskooljare het begin by Paul Roos Gymnasium in Stellenbosch. Dit is dan ook waar sy neiging to rebellie begin deurskyn het, vertel Koos. 

“Ek het amper die hele Paul Roos Gimnasium oorstroom deur eendag die stopkrane styf toe te draai en toe deur die hele skool te stap en elke enkele kraan wyd oop te draai. Toe hulle die stopkrane oopdraai, het die water by die trappe af gestroom en alles was sopnat,” vertel Koos. 

In sy matriekjaar het Koos en sy familie verhuis na Pretoria en hy moes sy jaar klaarmaak in Menlopark Hoërskool. Hierdie skuif, glo Koos, het egter sy verhouding met Suid-Afrika sterker gemaak. 

“Ek was baie kwaad toe my ouers my Pretoria toe skuif in matriek, want ek het toe al geweet hulle bedonner my kanse om later deel te word van die Stellenbosch Mafia,” spot Koos. “Aan die positiewe kant, as gevolg van hierdie diverse agtergrond is my roots nou versprei deur die hele land.” 

Volgens sy autobiografie het Koos na hoërskool sy verpligte tyd in die Suid-Afrikaanse Weermag voltooi waar hy deel van die brandweer was. Na sy diensplig het hy verskeie werke gehad. Volgens die biografie op sy webtuiste, het hy onder meer hoenders gebraai by KFC, polisse verkoop en as `n klerk in die staatsdiens gewerk. 

In 1977 het Koos sy psigiater hom met skisofrenie gediagnoseer. Koos is opgeneem in die Weskoppies Psigiatriese Hospitaal, in Saal 6, die saal vir dwelmverslaafdes en skisofrene.

Daardie jare het hom wel ook “baie skade berokken”, sê Koos, aangesien hy daar “vir die eerste keer met die dwelmkultuur in aanraking gekom het”. 

Hy verduidelik dat hy “per ongeluk saamgegooi [is] met geharde addicts in die Rehab-saal”. 

“Maar, aan die plus-kant: Ek het wonderlike musiek ontdek, soos die “Eight Miles High”-album van Golden Earring” sê Koos oor sy ervaring in Saal 6.

Volgens sy autobiografie is Koos na `n jaar in Saal 6 ontslaan, nadat ’n doktor erken het dat sy skisofrenie diagnose verkeerd was. Koos het daarna kortverhale begin skryf vir Huisgenoot. Hy het egter verveeld raak met die literêre wêreld en die volgende fase van sy lewe as kunstenaar  betree: Hy het begin liedjies skryf.

Andre Letoit

In die jaar 1987 stel die alternatiewe platemaatskappy, Shifty Records, Koos se eerste album, “Ver van die Ou Kalahari” vry. Dié album verskyn onder die naam André Letoit. Die album is volgens Koos se webtuiste as “ongewens” beskou deur destydse Suid-Afrikaanse Sensuurraad. Nietemin het sy musiek  steeds ’n groot impak gehad op die jeug van die 1980’s. Jongmense is vir dekades daarna steeds daardeur beïnvloed. 

Koos se musiek het ’n mens “vrygemaak om gemaklik te voel en om te sê wat jy wil sê”, meen Jan-Daniël de Villiers, ’n Suid-Afrikaanse musikant ook bekend as No Syntax. 

Koos Kombuis het in 1986 met mede-kunstenaars Johannes Kerkorrel en Bernoldus Niemand op die nou beroemde Voëlvry Toer gegaan. Dié toer sou as ’n draaipunt beskou word in die geskiedenis van Suid-Afrikaanse musiek. Koos erken die rol wat Voëlvry gespeel het, maar hy erken ook die prys wat die kunstenaars moes betaal. 

“Mense dink die Voëlvry Toer was een groot jol en hulle vergeet dat ons eintlik gerebelleer het teen Apartheid. Maar die ANC wou ons nie aanvaar as deel van die struggle nie, omdat ons nie kommuniste was nie. Die Engelse wou ons nie ernstig opneem nie, al het hulle gedink ons is nogal cute en Herman Gilliomee wou ons nie in sy boeke sit nie,” sê Koos oor die impak van die toer.

Ná die Voëlvry Toer, is Koos se volgende album, “Niemandsland and Beyond”, vrygestel onder die naam Koos Kombuis. 

FOTO: Wessel Krige

Koos Kombuis

Die impak wat Koos Kombuis op die Suid-Afrikaanse musiekbedryf en op jong musikante gehad het, is volgens musikante soos Steve Smit, vandag steeds sigbaar. 

“Koos Kombuis is so ’n groot inspirasie vir my. Ek wens ek kon die lirieke skryf en die poësie skryf wat hy doen. Hy is net so one of a kind en charismaties,” sê Smit, wat deel is van groepe soos Dig a Pony en Monitor.

“Jy het dit geluister, want dit was net great, hy het stories vertel en dit was snaaks, maar daar was hierdie ondertone van sy struggle,” sê De Villiers oor Kombuis se musiek. 

Kombuis erken die invloed van die Voëlvry toer op die musiekbedryf en grap dat daar dalk ’n korrelasie is tussen die toer en die toename in gewildheid van Afrikaanse musiek.

“Ek kan nie uitfigure of dit as gevolg van die toer was nie, maar kort na daardie toer het al die Afrikaanse kunstefeeste en goed skielik ontstaan. Op ’n stadium was daar so baie nuwe sangers dat iemand in die koerant geskryf het ‘elke enkele Afrikaanse mens onder die ouderdom van sestig het nou al sy eie CD uitgebring’,” sê Koos. “Toe kom lockdown, en die meeste van hulle trek terug na hulle ma-hulle toe. ’n Paar van ons het darem nou begin skilder, so daar is hoop.” 

Na 15 albums en amper 40 jaar van musiek maak en skryf, is Koos Kombuis steeds betrokke in die musiekbedryf. Hy geniet steeds die nuwe musiek wat vrygestel word, maar hy voel dat die beste kunstenaars steeds nie hul plek in die son kry nie.

“Van die heel beste acts maak dit nog steeds nie in die mainstream nie,” sê Koos. “Die enigste ding wat my hartseer maak, is dat sommige van ons beste liedjieskrywers, soos Peter Mitchell en Jack Stone, nie meer bekend is nie. Hoekom pryk ons werklik goeie musikante nooit op die Huisgenoot se voorblad nie? Hoekom is Churchil Naude nog nie ’n cult figure nie?” 

Koos glo ook dat die sosiale stryd vir musikante nie verby is nie, en hy sien uit om te sien hoe nuwe kunstenaars die norm gaan uitdaag.

“Ek weet nie of protesmusiek rêrig help nie, maar ek sou dit alles oordoen as ek my lewe kon oorhê. En, gepraat van protes, daar is vandag net soveel redes, of selfs meer redes, om oor allerhande goed te protesteer. Ek kan nie wag om te sien wat die jongmense gaan doen nie!”

Na byna 66 jaar se rebellie, glo Koos Kombuis dat die pad wat hy gestap het, die regte een was.

“Ek is wel oor een ding baie bly: Dat ek nie vir my ouers geluister het destyds nie, want dan het ek vandag vir die Poskantoor gewerk.” 

, , ,