Weslander pas aan by pandemie se “normaal”

Die Weslander, ’n weeklikse gemeenskapskoerant aan die Weskus, is genoop om by die “nuwe normaal” aan te pas wat deur die uitbreking van die Covid-19-pandemie teweeg gebring is, het Joline van der Merwe, uitgewer van dié koerant, gesê. 

Die koerant word elke Donderdag na die meeste dorpe in die Weskus versprei, het Van der Merwe gesê. Dít sluit kusdorpe in soos Yzerfontein en Lambertsbaai, asook binnelandse dorpe soos Hopefield, Piketberg, Porterville en Moorreesburg. 

Die Weslander se uitgawe van 27 Mei. FOTO: Verskaf/ Joline van der Mervwe

Verlies aan inkomste

Die pandemie het baie mense met ’n kleiner salaris, of geen salaris nie, gelaat, meen Van der Merwe. Dít, volgens haar, het daartoe bygedra dat mense nie meer koerante as noodsaaklike items beskou nie. “Sommige lesers moet die keuse maak tussen ’n koerant óf brood koop,” het sy gesê. 

Die Weslander se koerantverkope het sedert die aanvangs van die nasionale grendelstaat in Maart verlede jaar met 22% afgeneem, het Van der Merwe gesê. Syfers van die Audit Bureau of Circulation (ABC) dui aan dat die Weslander se sirkulasie gedurende die vierde kwartaal van 2019 op 8 873 was. Teen die vierde kwartaal van 2020, was dit 7 153.

Weens die negatiewe ekonomiese impak wat die strenger grendelstaatbeperkings op plaaslike ondernemings gehad het, het advertensieverkope ook aansienlik afgeneem, het Van der Merwe gesê. “Ons grootste bron van inkomste is advertensies,” het sy gesê. “Sekere klante moes drasties kostes sny en bemarking is gewoonlik waarna hulle eerste kyk.”

Kommersiële ondernemings het hulle advertensieplasings in die koerant behou, terwyl kleiner besighede ná afloop van hul maandelikse uitgawes, nie noodwendig plasings kon bekostig nie, het Van der Merwe gesê. “Dít het die Weslander se kapitaal aansienlik verminder, en as ’n gevolg was daar geen bonusse nie,” het sy bygevoeg.

Aletta Ellis, voormalige uitgewer van die Weslander en drie van die koerant se huidige spanlede, Chantell Cornelissen, Christo Momsen en Joline van der Merwe. FOTO: Facebook/Weslander

Bespaar waar hulle kon 

Die Weslander se verkoopprys is in Januarie verlede jaar met 10c verhoog tot R7,90, het Van der Merwe gesê. “Daar was gemengde gevoelens hieroor omdat die Covid-19-pandemie [groot] ekonomiese gevolge sou inhou,” het sy gesê. Dié prysverhoging het hulle egter gehelp om die koerant tot nou toe winsgewend te hou, het sy bygevoeg.

Die Weslander-span het ook op huuruitgawes en basiese tariewe bespaar nádat hulle hul nuuskantoor aan die begin van die grendelstaat weens streng beperkings gesluit het, het Van der Merwe gesê. “Personeel het van die huis af gewerk […] so ons het [bespaar] op water en elektrisiteit,” het sy gesê. “Ons het ook die helfte van ons kantoorspasie opgegee en sit nou in ’n kleiner spasie. Dus was daar ’n besparing op huur.”

Weens die ekonomiese druk wat die Weslander gedurende die strenger grendeltyd ervaar het, is een personeellid afgelê, het Van der Merwe gesê. 

Verslaggewers by die Weslander, Trish Goosen en Yaël Malgas, ontvang toekennings by die Weskus-sportraad se toekenningsgeleentheid in 2017. FOTO: Facebook/Weslander

Minimale nuusdekking

Gedurende die strenger vlakke van die grendelstaat was daar in die algemeen minder nuusstories om te dek. Nádat sportbyeenkomste gedurende dié tyd ook verbied óf beperk was, was daar byvoorbeeld min sport om te dek, meen Norman Cloete, erepresident van die St. Helenabaai-rugbyklub. 

“Slegs vyf ligawedstryde is gespeel toe die grendeltydperk dit toegelaat het [en] daar was dus [min] mediadekking,” het hy gesê. 

Sportklubs aan die Weskus het dus ook “swaar gekry” onder die pandemie, meen Yaël Malgas, ’n verslaggewer by die Weslander. Die tekort aan dekking het ’n negatiewe impak op die bemarking van dié klub gehad, wat gevolglik ’n tekort aan borge meegebring het, het Cloete gesê. Weens die gebrek aan publisiteit was daar “weinig donasies”, het hy gesê. “Spelers het later belangstelling verloor en die rugbyklub het begin swaarkry as gevolg van te min ondersteuning.”

“[Sportdekking] het eers weer nader aan 2021 genormaliseer,” het Malgas gesê.

, , ,