Zakes Mda gesels oor sy jongste (en dalk laaste) roman

Wanneer mens instap by die ATKV Boektent begroet die woorde “Ontdek ʼn nuwe wêreld” jou onmiddellik. Hierdie frase is beide ʼn gepaste beskrywing, maar ook ʼn direkte teenstelling van bekroonde skrywer Zakes Mda se werk.

ontdek

Die verhoog in die ATKV Boektent. FOTO: Sethu Mbuli

 

Mda het tydens die Woordfees aan ʼn gesprek met Ingrid Winterbach, self ʼn gevierde skrywer, deelgeneem. Sy het Mda ondervra oor sy jongste boek, The Zulus of New York, wat Donderdag amptelik bekendgestel word, maar het ook ander aspekte van Mda se werk aangeraak. Mda is tans verbonde aan die Universiteit van Ohio in die Verenigde State van Amerika.

The Zulus of New York vertel die storie van  ʼn groep mans, bekend as ‘‘Farini’s Friendly Zulus”, wat in 1885 deur die sirkuspromotor William Leonard Hunt na Brittanje geneem is om mense te vermaak in die sogenaamde “human curiosities” vertonings. Hunt het ook bekend gestaan as The Great Farini, vandaar die titel van die vertoning.

The Zulus of New York Cover

Die omslag van Zakes Mda se nuutste roman. Foto: Penguin Random House SA

Mda het met verwysing na Diana Ferrus se gedig ‘‘A Poem for Sarah Baartman” verduidelik dat anders as in Baartman se geval, die Zoeloes in sy boek se oorskotte nie terugbesorg kan word aan Suid-Afrika nie.

‘‘Ons weet nie waar hulle oorskotte is nie, en ons weet nie eens regtig wat hul regte name was nie, maar deur hul lewensreise na te spoor in my boek, kan ons (as Suid-Afrikaners) hulle nagedagtenis terugeis, want ons moet tasbare sowel as ontasbare erfenis van Suid-Afrikaners herdenk,” het Mda gesê.

Op Winterbach se vraag oor hoe Mda dit regkry om oor Suid-Afrika te skryf terwyl hy al vir baie jare in die deelstaat Ohio in die Verenigde State van Amerika woon, het Mda gesê: “Vir baie jare kon ek nie Suid-Afrika toe kom nie terwyl ek in ballingskap geleef het, maar ek hoef nie in Suid-Afrika te wees om oor Suid-Afrika te kan skryf nie. Ek dra my Suid-Afrika saam met my, dit is met my oral waar ek gaan, en ek skep ook my eie Suid-Afrika.”

IMG-20190305-WA0041

Zakes Mda en Ingrid Winterbach tydens die bespreking van Mda se nuwe boek. FOTO: Sethu Mbuli

Mda het ook genoem dat die feit dat hy nie in Suid-Afrika woon nie, hom tog bevoordeel, want hy kan dinge vanaf  ʼn afstand in oënskou neem.

Mda het ook baie van die gehoorlede geskok gelaat deur aan te kondig dat The Zulus of New York waarskynlik die laaste boek is wat hy vir  ʼn volwasse gehoor gaan skryf. Hy beoog om hom in die toekoms op kinderverhale toe te spits, spesifiek stories wat gebaseer is op antieke Afrika-koninkryke, soos onder andere Aksum in Ethiopië.

The Zulus of New York word op Donderdag 7 Maart 2019 by Exclusive Books in Cavendish Square bekendgestel.

, , ,