ZABRA samel onderklere in sedert 2015 vir vrouens orals oor die wêreld

ZABRA is ’n nie-winsgewende organisasie wat onderklere, maar meestal bra’s, insamel om aan minder bevoorregte vrouens en kinders te skenk.

ZABRA is tans besig om bra’s in te samel en het onlangs bra’s ingesamel by AfrikaBurn wat bygevoeg sal word by die 67 000 items wat hulle al bymekaar gemaak het sedert September 2015.

Jeanette Kruger, die stigter van ZABRA saam met Nandi Msezane, vertel trots dat hulle al “na oor die 200 organisasies en projekte in 25 lande wêreldwyd” die onderklere gestuur het.

Hulle volgende groot projek is Turks Head se 10 kilometer wedloop. Sy verduidelik: “Hulle samel gewoonlik oor 1 500 bras in vir ons die oggend van hulle wedloop.”

Kruger woon tans in Engeland, maar volgens hul amptelike dokumente is sy in Ottosdal in die Noord-Wes provinsie gebore. Haar hooffokus is dus Suid-Afrika, wat 80% van die ingesamelde items ontvang.

Bra's word ingesamel deur verskillende groepe, soos Pink Drive, vir ZABRA. FOTO: Facebook.

Bra’s word ingesamel deur verskillende groepe, soos Pink Drive, vir ZABRA. FOTO: Facebook.

Hulle versprei egter hul items veel verder, byvoorbeeld na vlugtelinge in lande soos Sirië, Griekeland en Suid-Soedan. Weeshuise en skole in plekke soos Kenia, Oeganda, Tanzanië en Indië ontvang ook onderklere van hulle.

Yandri du Plessis bly in Stellenbosch in die woonbuurt van Paradyskloof en help om bra’s te in te samel vir hierdie inisiatief. “Sy’t CupBearers en CupHolders. Die CupBearers is die mense wat die bra’s vir haar aanvlieg en die CupHolders is, soos ek, die enes wat vir haar die bra’s versamel en hou hierdie kant, en dan versprei,” verduidelik Du Plessis.

Du Plessis verduidelik, en hul pamflette beaam, dat mense wat Suid-Afrika kom besoek hul ouer bra’s saambring en dan aflaai by die sogenaamde CupHolders.

Du Plessis vertel dat hulle baie van die onderklere na polisiestasies in areas soos Khayelitsha en Mitchells Plain versprei, want slagoffers van verkragting kry andersins papieronderklere. “Dan kan hulle ten minste darem iets meer waardig vir die vroue gee. Dit gaan eintlik maar oor die waardigheid wat hulle probeer herstel,” sê Du Plessis.

Dromme soos hierdie een word gebruik om al hulle onderklere in te samel. FOTO: Facebook.

Dromme soos hierdie een word gebruik om al hulle onderklere in te samel. FOTO: Facebook.

Sy brei uit dat hulle ook betrokke is by organisasies wat handel met slagoffers van mensehandel. Items soos kinderklere gaan na Patch in Somerset-Wes vir kinders wat verkrag en gemolesteer is, want “hulle het altyd onderklere nodig, want die goed onder hulle kleertjies word gehou as hofstukke. So as hulle aankom, word hulle uitgetrek en dan is daar niks vir hulle nie.”

“Daar’s ʼn studie wat ook gedoen is wat gesien het dat om onderklere te dra, verlaag die meisies se kans om verkrag te word in die townships,” verduidelik Du Plessis.

Hulle vat oor die algemeen net bra’s en ander onderklere wat nog in ’n draagbare toestand is, maar vertel dat hulle in Ghana vra vir enigiets. “Die mense daar vra selfs geskeurde bra’s en panties, want hulle maak nuwes daarvan,” verduidelik sy.

Sy plaas klem daarop dat niemand betaal word om enigiets te doen nie en dat daar nooit kontant betrokke is nie. “Alles gaan oor goedhartigheid om dit te versprei.”

“Ek is nie so vreeslik betrokke nie. Mens gee maar net altyd vir my bra’s. Daar is altyd bra’s in my garage en ek versprei dit maar soos daar mense verby kom en sê hulle het dit nodig.” Du Plessis vertel dat daar laas jaar 750 items deur haar huis is vir hierdie organisasie.

“Die ander dag toe kry ek ‘n pakkie bra’s en panties in my posbus. Ek weet nie van wie dit is nie,” vertel sy laggend.