Wynroete se glas loop oor ten spyte van pandemie

Ter viering van hul 50ste bestaansjaar, beplan die Stellenbosch Wynroete om ’n reeks feesvieringsgeleenthede deur die loop van die jaar aan te bied.

Dít was volgens Mike Ratcliffe, voorsitter van die Stellenbosch Wynroete-beheerraad. 

Die idee is dat die dorp regdeur die jaar gesamentlik deelneem aan die feesvieringe, het Ratcliffe gesê. Feesvieringe sal wissel van wynproegeleenthede, ’n braaibroodjie-kompetisie, ’n 10-dae-lange wynfees en meer, het hy bygevoeg.

Die beheerraad beplan om die wynfees van 31 Julie tot 9 Augustus aan te bied, het Elmarie Rabe, algemene bestuurder van die Stellenbosch Wynroete, gesê. “Almal is onder baie druk as gevolg van die [Covid-19]-pandemie, so [die beheerraad] het dit goedgedink om vir ’n hele jaar lank fees te vier,” het Rabe gesê.

Die Stellenbosch Wynroete vier vanjaar hul 50ste bestaansjaar. Feesvieringe gaan regdeur die jaar plaasvind sodat die hele dorp dié mylpaal kan herdenk, het Mike Ratcliffe, voorsitter van die Stellenbosch Wynroete-beheerraad, gesê. FOTO: Nicola Spingies

Die presiese aard van hoe die geleenthede gaan plaasvind, sal afhang van die relevante Covid-19-maatreëls wat gedurende die jaar van toepassing gaan wees, het Ratcliffe gesê. Dít is om te verseker dat besoekers op ’n veilig wyse sosiaal omgaan, het hy bygevoeg.

Sedert grendelstaatinperkings weens die pandemie in Maart verlede jaar begin het, het die hoeveelheid besoekers wat in die vorige jaar by die Stellenbosch Wynroete ontvang is, byna gehalveer, het Rabe gesê. Tog spreek die herdenking van die Stellenbosch Wynroete se 50ste bestaansjaar boekdele van die “taaiheid, leierskap en innovasie wat gesorg het dat die wynroete deur dik en dun kon seëvier”, het sy bygevoeg.

Die Stellenbosch Wynroete se wyne oorheers byna elke kompetisie waarvoor dit ingeskryf word, meen Mike Ratcliffe, voorsitter van die Stellenbosch Wynroete-beheerraad. Die hoë gehalte van dié wyne speel volgens hom ’n groot rol in die huidige sukses van die roete. FOTO: Nicola Spingies

“Die 50-jaar-herdenking beoog om die hele [roete] te vier,” het Tom Orpen, bemarkingsbestuurder van die Warwick-wynplaas – een van die plase in die Stellenbosch Wynroete – gesê. “[Die geleenthede] moet verseker dat besoekers beide tevrede met, én trots op, dié mylpaal is.”

Ter viering van hul 50ste bestaansjaar, beplan die Stellenbosch Wynroete om deur die loop van die jaar ’n verskeidenheid feesvieringsgeleenthede aan te bied in samewerking met wynplase in dié roete. GRAFIKA: Nicola Spingies
, ,