Teater: Seun
15 Oktober om 20:30
Idasvallei Primêr
Kyk, dis nie Boetie gaan border toe nie. Ook nie “Jantjie kom huistoe” nie. Jy weet eerlikwaar nie dadelik wat of waar dit is nie, maar jy kom gou agter dis ’n ander tipe oorlog dié.

Wilhelm van der Walt vertolk die karakter in Seun, gebasseer op die bekroonde skrywer Dana Snyman se boek met dieselfde titel. FOTO: Verskaf/ Jeremey Le Cordeur.
Jy bevind jouself in die loopgrawe van Suid-Afrika se 1980’s. Al wat kwansuis van jou ’n man kan maak, is diensplig en P.W. Botha. Maar wat as dit nie die tipe man is wie jy wil wees nie? Wat as dit nie die plek is waarheen jy wil gaan nie? Dan is jy seker Jona, vasgekeer in ’n vis se maag en jy moet wag totdat hy jou uitspoeg.
Seun is ’n rou en eerlike memoires van die bekroonde skrywer Dana Snyman se manword-jare in die 1980’s in ’n land waar jy nie verdra word as jy nie ’n volstoet “Afrikaner” is nie. Wilhelm van der Walt vertolk die soms ongemaklike karakter met soveel deernis en eerlikheid dat dit voel asof jy self in die vis se maag is met honderde weermag-mannetjies aan jou sy terwyl jy spartel om te ontsnap.

Die bekende regisseur en skrywer, Nico Scheepers, het die regie behartig. FOTO: Verskaf/ Jeremey Le Cordeur.
Voordat jy egter in ’n vis se maag beland, is daar ’n pa wat rook, ’n ma wat huil, en ’n Sheila wat bid. (Let daarop dat dit Sheila is wat bid.) Jy verloor hulle en kry hulle weer terug, maar niemand lyk ooit weer dieselfde nie.
Die “army se asblik”, kamer 24, lê ook vol verteerde geraamtes en gevrete mans wat nie waardig was om soldate genoem te word nie. Die weermag spoeg jou uit, maar jy bly in die geraamte van ’n groot gedaante wat jou nie laat gaan nie. Jy veg teen breinspoel-pille en die gevolge van nie man genoeg wees nie. Hier kom lig nie in nie. Jy kan dit nie op ’n senotaaf sien skyn nie. “Ons vir jou Suid-Afrika” is nie vir jou beskore nie.
Wanneer die weermag jou ontslaan, ontsnap jy nog steeds nie uit die vis se maag nie. Trouens, dit is nog moeiliker om sin te maak van waarheen hy gaan. Daar is nie meisies of werk in ’n vis se maag nie – niks wat jou as eerbaar kan stempel nie. Jy dobber maar rond en probeer die wêreld soos ’n legkaart aanmekaarsit waarvoor daar geen prentjie op die boks is nie.

Seun kan nog die 17de en 19de Oktober by die Woordfees gesien word. FOTO: Verskaf/ Jeremey Le Cordeur.
Uiteindelik spoeg die vis jou uit en Nineve kom tot bekering. Nie uit verdienste nie, maar uit genade alleen.
Seun is aangrypend en voer die gehoor weg na ’n plek waar niemand wil gaan nie, maar eenvoudig net moet.
