Woordfees: Wie dra die kroon?

Toneel: Die koning en sy bruid

12 Oktober om 16:30

Spier-ouditorium

“Agter slot en grendel word konings gebaar.”

’n Kroon is swaar. Nie net vanweë die gewig van die metaal nie, maar vanweë alles wat daaraan vashaak – verwagtinge, tradisies, die stemme van al die voorgangers wat dit voor jou gedra het.

In Nichola Viviers en Jeanne-Marié Koekemoer se Die koning en sy bruid word hierdie metafoor letterlik en figuurlik ondersoek, en die gehoor word gedwing om te vra: watter prys betaal ons om te doen wat van ons verwag word?

Die koning en sy bruid, wat in 2024 as beste produksie by die Premiére Fees aangewys is, is vandeesjaar by die Toyota Stellenbosch Woordfees opgevoer. FOTO: Verskaf/Llewellyn de Wet

Die verhaal ontvou in 1745 aan die Kaap de Goede Hoop, waar ’n jong koning en boer, Willem Aarde (Heinrich Wentzel), en sy bruid Amélie Bruére (Jeanne-Marié Koekemoer), gevange sit in rolle wat vir hulle voorgeskryf is. Hy moet ’n erfgenaam verwek, sterk wees, die grond bewerk en sy koninkryk laat groei. Sy moet gehoorsaam wees, haar plek ken en die perfekte Aarde-vrou wees. Albei worstel onder die gewig van tradisie en die verwagtinge van diegene voor hulle. Maar wat gebeur wanneer die rolle wat vir hulle geskryf is, nie pas by wie hulle regtig is nie?

Onder die regie van Viviers ontvou ’n produksie vol verrassings; elke keer as jy dínk jy weet waarheen die stuk beweeg, draai dit in ’n onverwagse rigting.

Die genialiteit van hierdie produksie lê in hoe dit historiese afstand gebruik om ’n verhaal te vertel wat aanklank vind by ’n eietydse gehoor. Die druk om aan geslagsrolle te voldoen, die las van familieverwagtinge, die spanning tussen individuele begeerte en kollektiewe tradisie – dit alles voel skreiend relevant.

Die koning en sy bruid is in 2024 aangewys as die beste produksie by die Première Fees, maar kan geensins gekategoriseer word as ’n studente-produksie nie omdat dit inderdaad meesterlik is.

Die koning en sy bruid is sestig minute van intense, intelligente teater wat jou laat wonder oor die prys wat ons betaal om aan ander se verwagtinge te voldoen. (Van links na regs) Heinrich Wentzel, Angelique Filter en Jeanne-Marié Koekemoer. FOTO: Verskaf/Llewellyn de Wet

Koekemoer en Wentzel anker die produksie met vertolkings wat rouheid en kwesbaarheid balanseer. Wentzel se koning is tegelyk gesaghebbend en verlore, terwyl Koekemoer haar karakter met lae kompleksiteit bou. Angelique Filter se ondersteuning verryk die ensemble en voeg diepte by tot die wêreld wat geskep word. Die akteurs lewer prestasies wat gesoute akteurs sou laat kopknik.

Al is die produksie humoristies en laat dit die gehoor skaterlag, met selfs ’n paar tannies wat verbaas uitroep: “Hierdie arme kinners!”, het dit tog ’n donker ondertoon. Die koning en sy bruid is nie net ’n historiese drama nie, maar ’n spieël vir die hedendaagse tyd: dit wys hoe die verlede steeds in die hede teenwoordig is. Dit vra nie vir applous nie, dit vra vir nadenke. En dít, in sigself, is die ware koninklikheid van goeie teater.

, , ,