Woordfees Langtafel word weer gedek

Die Toyota Universiteit Stellenbosch Woordfees Langtafel het vandeesweek na Ryneveldstraat teruggekeer, nadat die funksie weens Covid-19-maatreëls nie verlede jaar kon plaasvind nie. Die feesdatums van Woordfees 2022, wat vir 10 tot 15 Oktober beplan word, is tydens dié geleentheid op 14 Maart aangekondig.

Gaste geniet die geselligheid van die Langtafel in ’n versierde Ryneveldstraat. FOTO: Karla de Bod

“Vanjaar se Langtafel is in isolasie en gee vir ons ’n geleentheid om lekker saam te kuier en sosiaal te verkeer met van ons feesvriende, borge, rolspelers in die bedryf en ook om mense bymekaar te bring,”  het Saartjie Botha, Woordfees se feesdirekteur, gesê. “Gegewe die pandemie en gebrek aan sosiale aktiwiteite die afgelope twee jaar, dink ek mense sien verskriklik uit om saam te kuier in die mooie Ryneveldstraat.”

Piekniekkos

Volgens Botha is die Langtafel deel van die Woordfees-tradisie en dien jaarliks as die programbekendstelling van die feeste wat kort daarna plaasvind. Vanjaar se Langtafel het die kos in piekniekboksies bedien en gaste kon vooraf uit ’n reeks spyskaarte van die betrokke restaurante kies watter kos hulle daarin wou hê.

Die span van Spier-restaurant, een van die restaurante wat kos bedien het by die geleentheid, het gesê dat hulle geëerd gevoel het om deel van die funksie te wees. Hennie Nel, ’n sjef by Spier, het na Woordfees as ’n “fundamentele en ikoniese Stellenbosch-geleentheid” verwys.

Kos is by vanjaar se Woordfees Langtafel in piekniekboksies bedien. FOTO: Karla de Bod

“Die samewerking met Woordfees beteken dat ons ons heerlike plaaskos na die dorp toe kan bring en dit bedien in ’n betowerende omgewing,” het Nel gesê. “Ons is mal oor pieknieks by Spier – ons hou van deel en die sosiale komponent daarvan. So dit is geskik vir die opset van die Langtafel.”

Spier het drie spyskaart-opsies beskikbaar gehad, wat veganistiese en vegetariese opsies ingesluit het. 

Die pen is ingeslaan

Aangesien die Langtafel bekend is vir sy prentjiemooi atmosfeer, was daar talle fotograwe wat die aand vasgevang het. Francois Lombard, een van dié fotograwe, was veral opgewonde om die funksie af te neem.

Saartjie Botha, die Woordfees se feesdirekteur, verwelkom gaste by die Langtafel-geleentheid. “Ons is bevoorreg om die fees in Stellenbosch te kan aanbied met ’n gemeenskap wat die fees absoluut omarm en ondersteun,” het Botha gesê. “Dit is die dorp se fees en nie net ’n gemeenskap [s’n] nie. Dit is die hele dorp van Stellenbosch se fees.” FOTO: Karla de Bod

“Dit is lekker om weer mense te kan sien en af te neem – ek geniet dit om die mense af te neem soos wat hulle sosialiseer,” het Lombard gesê.

“Vir ons as span is hierdie Woordfees-geleentheid ’n besliste afskop van ons jaar se beplanning,” het Botha gesê. “Ons voel nou so bietjie asof ons weer terug is op ons eie turf en die Langtafel is soort van ‘die pen is ingeslaan, hier gaan ons alweer’ en ons sien uit na alles wat ons hierdie jaar hopelik sal kan aanbied.”

Die Langtafel was verhelder deur liggies wat bo-oor Ryneveldstraat gehang het. Musiekoptredes, wyn en piekniekkos is deur die loop van die aand geniet en het bygedra tot die samesyn van die langtafel-geleentheid. FOTO: Karla de Bod

, , , , , , , ,