Teater: Ge-gebergtes
3 September 2026 10:00
Open Window-kampus
Baie mense praat oor die vrees om eendag dood te gaan, maar min mense praat oor die lewende verganklikheid van oudword. Ge-gebergtes herinner sy gehoor dat verganklikheid nie by die dood begin nie.

Wat beteken dit om te wees – en te was? Wat beteken dit om langer te leef as jou vervaldatum? Dís die vrae wat by ’n mens talm ná hierdie toneelstuk.
Wat begin as ’n ietwat satiriese toneelstuk, raak teen die einde ’n tranetrekker vir enigeen, oud of jonk. Dit raak amper te maklik om met die uiteindelike ellende van die hoofkarakter, professor Delport, vertolk deur veteraan Carel Trichardt, te vereenselwig.
Prof. Delport kyk vanuit sy enkelkamer in ’n sorgsentrum terug op sy 90-jaar-lange lewe. Sy bestaan word in hierdie stadium deur ’n gevoel van irrelevansie gekenmerk. Versorgers moet betaal word om om te gee. Sy menswaardigheid word misken deur sy psigiater, wat kwansuis aangestel is om hom deur hierdie besinning te begelei sodat hy die afsterwe van sy dogter kan verwerk.
Prof. Delport word só tot ’n invalide gereduseer dat selfs die gehoor maklik kan vergeet dat daar ’n hele menswees met herinneringe, vrese, hartseer en trots, in daardie vervalle liggaam skuil. Waar hy nóú sit, word hy meer soos ’n las as enigiets anders behandel. ’n Letsel van die verlede.

Trichardt, self gevorderd in jare, gebruik sy sagte, rollende donderweerstem om byna intiem met die gehoor in gesprek te tree. Jayden Dickson, wat onder meer die jonger weergawe van Delport vertolk, sukkel egter soms om die balans tussen beweging en karakterisering te vind. Sy opleiding as danser is duidelik sigbaar, maar sy fisieke vaardigheid oorskadu met tye die meer subtiele werk wat nodig is om ’n volwaardige karakter op die verhoog tot lewe te bring.
Of Delport nou terugdink aan sy jeug, of sy versorgers sy daaglikse medikasie vir hom voer, alles speel binne die reghoekige ruimte van sy enkelkamer af. Dit is ’n uitmuntende gebruik van fisiese ruimte om die kleinheid en engte van Delport se bestaan op sy oudag uit te beeld.

Delport se dogter glip telkens in linnevorm deur sy vingers; ’n beeld van sy desperate greep na vastigheid in die verganklike. Dat sy verhaal juis deur die verwerking van haar dood gedryf word, laat ’n ongemaklike vraag ontstaan: Is dit soms makliker om jonk te sterf as om Delport se ellende van oudword te beleef?
Musiek word besonder effektief ingespan om prof. Delport se geestestoestand te weerspieël. Dit dra daartoe by dat die gehoor vir ’n volle 90 minute vasgenael bly aan wat voor hulle afspeel. ’n Mens word al hoe dieper in Delport se gemoedstoestand ingetrek.
Die stuk is só dig geskryf dat ’n mens teen die laaste monoloog aan Delport se lippe hang.
Nie ’n woord voel uit plek of onnodig nie.
