Woordfees: Elke man se droom?

’n Netjiese vrou, sonder ’n haar uit plek uit, verwelkom elke aand ná werk haar man met ’n skoon huis, warm pantoffels, ’n heerlike bord kos en ’n whiskey – alles met ’n glimlag. Klink soos die patriargale droom, nè?

Wel, nie vir Johnny (Wessel Pretorius) nie. Hy en Judy (Cintaine Schutte) het vir drie jaar hierdie streng 1950’s-geïnspireerde leefstyl probeer handhaaf, maar soos wat daar huweliksprobleme opgeduik, besef hulle vinnig dat hul individualiteit daaronder ly.

Tuis, eks liefie, oorspronklik ’n Engelse komedie geskryf deur Laura Wade, is vertaal deur Francois Toerien en geregiseer deur Janice Honeyman vir die vertoning by die 2023 Toyota US Woordfees.

Judy (Cintaine Schutte) lewe om haar man, Johnny (Wessel Pretorius), gelukkig en gemotiveerd te hou nadat dinge nie so glad verloop in sy beroep soos dit in die verlede het nie. FOTO: Nardus Engelbrecht

Die 50’s charade

Die toneelstuk volg die storie van Judy wat behep is met haar geromantiseerde idee van die 1950’s leefstyl. Sy streef daarna om alle invloede van die 21ste eeu uit hul lewens te sny – soos pizza, selfone en winkelsentrums – en wil by die tradisionele waardes van die 1950’s hou.

Soos wat Judy al meer desperaat raak om aan hul droom vas te hou, só word Johnny net so desperaat om daarvan te ontsnap. Beide geslagte word onderdruk wanneer ‘man’ en ‘vrou’ binne ’n streng boks geplaas word; nie een kan byhou nie, veral nie in die moderne wêreld en sy verleidings nie.

Johnny se nuwe baas, André (Veronique Jephtas), wat by die paartjie gekuier het een aand,  beklemtoon hoe belangrik individualiteit is vir ’n mens se selfvertroue. Jephtas se sterk teenwoordigheid vul die verhoog, en dit is daarom verstaanbaar dat Johnny besef hy soek ’n vrou met ’n sterk identiteit. 

Judy se ma, komieklik en hartlik vertolk deur Amanda Strydom, herinner uiteindelik ook vir Judy hoe onderdrukkend die 1950’s regtig was, veral vir vroue. 

Die paartjie word vergesel op die verhoog deur nog ’n getroude paar, Marcus (Carlo Daniels) en Fran (Crystal-Donna Roberts), wie inspirasie put uit die idilliese uitbeelding van die huwelik, natuurlik met ’n soortgelyke onderdrukkende uiteinde. 

Judy (Cintaine Schutte. links), Marcus (Carlo Daniels, middel) en haar beste vriendin Fran (Chrystal-Donna Roberts), sit in haar 1950’s-geïnspireerde huis en beplan saam ’n vakansie. FOTO: Nardus Engelbrecht

1950’s televisie program

Die stel en rekwisiete – van die koppies, tot die yskas, tot die mat – is alles 1950’s-geïnspireerd. Soos Judy se ma ook noem, lyk dit meer soos die idilliese ‘American Dream’ wat ons op die televisie sien, teenoor hoe dit werklik in Suid-Afrikaanse konteks gelyk het. 

Die stel vra nie vir te veel komplekse tegniese versorging nie, maar ’n warm beligte verhoog en ’n 1950’s klankbaan het vir ’n tuislike gevoel gesorg – dis verstaanbaar dat Judy haar huis so geniet.