Woordfees: Die trane die rol, maar niemand luister nie

Spier teater: Boesman en Lena

10 Oktober, 20:00

kykNet Idasvallei Primêr

“Die trane die rol oor jou bokkie,” begin Lena sing, want vir ’n breukdeel van ʼn sekonde mag sy gelukkig wees.

Boesman en Lena, geskryf deur Athol Fugard, vertel die verhaal van ’n hawelose bruin paartjie wat langs die Swartkopsrivier swerf op soek na skuiling. Tydens hul reis word die vernietigende gevolge van armoede, rassisme, geweld en magsmisbruik ontbloot. Dié Woordfees-produksie, onder die regie van Christo Davids, bring die klassieke Suid-Afrikaanse  teks opnuut tot lewe en konfronteer die gehoor met kwessies wat vandag steeds relevant is.

Boesman en Lena

Sterk vertolkings en rou emosie maak Boesman en Lena ’n produksie wat lank by die gehoor bly. Van links: Veronique Jephtas (Lena) en Tshamano Sebe (Outa) FOTO: Verskaf/Woordfees/Gys Loubser

Dis ’n kosbare oomblik, want Lena se wêreld bestaan uit min vreugde. Sy sit vas in ’n verhouding waar selfsug, haat en alkoholisme die reëls maak en sy weet nie hoe om daaruit te kom nie. Dan daag daar ’n ou man by hul nuwe pondokkie op. En vir die eerste keer voel iemand vir haar soos ’n veilige hawe. 

Die produksie word verder versterk deur die uitstekende spel van die drie hoofakteurs. Veronique Jephtas beeld Lena se kwesbaarheid en emosionele pyn oortuigend uit, terwyl Brendon Daniels vir Boesman met die nodige intensiteit en aggressie vertolk. Tshamano Sebe se stil maar betekenisvolle vertolking van die ou man (Outa) bied ’n sterk teenstelling met Boesman se geweld en beklemtoon Lena se behoefte aan menswaardigheid en begrip.

Boesman se groen pyp is die toneelstuk se hartklop. Sodra hy dit optel, hardloop Lena, asof haar liggaam reeds weet wat volg. Dit is ’n skrikwekkende, herkenbare beeld. Haar liggaam is broos. Iets wat baie Suid-Afrikaanse vroue daagliks ervaar. 

Moesman en Lena op die verhoog

’n Verhaal van oorlewing, verlies en menswaardigheid ontvou voor die gehoor se oë in Boesman en Lena. Van links: Boesman (Brendon Daniels) en Lena (Veronique Jepthas). FOTO: Verskaf/Woordfees/Gys Loubser

Geslagsgebaseerde geweld is nie net ’n tema in hierdie stuk nie; dit is die lug wat die karakters asemhaal. Die produksie wys hoe bang slagoffers is om uitspraak te lewer en hoe maklik dit is om weg te kyk.

Een gedeelte in die stuk sny veral diep. Lena dreig om die polisie te roep as Boesman haar weer wil aanrand, maar hy lag net en sê, “ek gaan net sê jy’s my meisie”. Daardie lag sê alles oor die regstelsel se verantwoordelikheid aan vroue in ons land: daar is geen.

“Ek weet hoe dit voel, maar nou weet ek hoe dit lyk,” sê Lena nadat sy vir die eerste keer van buite af sien deur watter geweld sy gaan. Dit is ’n oomblik van pynlike helderheid, en Veronique Jephtas dra dit met rou eerlikheid oor, wat die gehoor met tye stil laat. 

Die stuk wek uiteenlopende emosies. Daar is selfs humor, hoofsaaklik omdat Lena vloek, maar die lag van die gehoor is dikwels onvanpas. Op die oppervlak is daar ’n diep boodskap wat Boesman en Lena met oortuiging uitbeeld. 

Lena is ’n mens met ’n goeie hart wat sigbaar word wanneer sy die ou man ontmoet. Sy deel haar brood met hom, terwyl Boesman kla dat hy nie sy kos met ’n swart man gaan deel nie. Lena bewys dat diegene met die minste dikwels die mees gewillig is om hul laaste te gee.

,