Strauss & Co.-uitstalling: Alles behalwe doodstil
8 Oktober | 11 Oktober
De Oude Leeskamer
Kuns moet ’n reaksie uitlok. Dis nie altyd mooi nie. Dis nie altyd maklik nie. Jy verstaan dit ook nie onmiddellik nie. Tog laat dit my voel, laat dit my wonder. Hierdie kuns ontlok definitief ’n reaksie.
Of die onderwerp ’n stapel bokse, ’n tafel vol blomme of ’n abstrakte hond is, voel ’n geslaagde kunswerk soos ’n enkele oomblik wat uit ’n groter, onvertelde verhaal uitgelig is. Die kyker sien nie noodwendig die begin of einde van daardie verhaal nie, maar voel die gewig daarvan in kleur, tekstuur, plasing en atmosfeer.
Jo Voysey se Alles behalwe doodstil-uitstalling bring juis daardie gevoel van ’n voortdurende verhaal na vore. Die uitstalling, saamgestel uit werke uit onder meer die Kilbourn-versameling, die Caro Wiese-versameling en die Sanlam-versameling, bestaan slegs uit stillewe-skilderye. Tog is dit alles behalwe die voorspelbare beeld van ’n vrugtebak op ’n netjiese tafel. Hier praat die stillewe met jou. Dit raak ’n ruimte vir spanning, herinnering, humor, ongemak en beweging.
Die uitstalling plaas tradisionele stillewe in gesprek met kontemporêre kuns en laat die twee benaderings mekaar versterk. Die bekende visuele taal van blomrangskikkings, tafeldoeke, vrugte en huishoudelike voorwerpe bly teenwoordig, maar dit word nie bloot herhaal nie. Dit word uitgedaag, opgebreek en herverbeel. Waar ’n klassieke stillewe dikwels op tegniese vaardigheid, simboliek en die realistiese uitbeelding van voorwerpe fokus, voeg hierdie werke ook persoonlike, filosofiese en kulturele lae by.
Daardie uitbreiding van die genre maak die uitstalling besonder interessant. Stillewe word dikwels as ’n “stil” onderwerp beskou omdat dit op gewone, onbeweeglike dinge konsentreer. In Alles behalwe doodstil word juis hierdie gewone dinge onstabiel. Hulle begin lyk asof hulle iets wegsteek. ’n Voorwerp kan mooi wees, maar ook vreemd; bekend, maar terselfdertyd anders. Die kyker word gedwing om langer te kyk en nie net die voorwerp se vorm te aanvaar nie.
Penny Siopis se The Lace Tablecloth II wys hoe tekstuur en materiaal ’n stillewe kan transformeer. Die werk bestaan uit ’n ingewikkelde mengsel van kleur, merke en sigbare lae. Die verskillende kleure en materiale skep eerder ’n gevoel van lewe, asof die skildery besig is om voor die kyker te beweeg.

Penny Siopis se The Lace Tablecloth II. FOTO: Celeste Rabie
Simon Stone se Ten Box Trap is doodstil bokse op ’n verflenterde mat. Die beweging is sigbaar. Dis asof die mat se garings beweeg as jy ’n oomblik langer kyk.

Simon Stone se Ten Box Trap: FOTO: Celeste Rabie
Hierdie uitstalling het stillewe-skilderye ’n nuwe betekenis gegee. Die tradisionele, realistiese skilderye het saamgesmelt met wakker kleure, alternatiewe verfmetodes en stories wat dieper strek as ’n blote samestelling van lewelose voorwerpe.
