Woordfees 2020: Hier is wat jy moet weet

Soos die kat, kom Woordfees weer, maar volgende jaar vir die 21ste keer! Die 2020 Toyota US Woordfees is gisteraand by ’n swierige geleentheid op die Rust en Vrede-wynlandgoed bekendgestel. Woordfees-kaartjies is ook van vandag af aanlyn beskikbaar.

Saartjie Botha, direkteur van die Toyota US Woordfees 2020. FOTO: SZ Minnaar

Saartjie Botha, direkteur van die Toyota US Woordfees 2020. FOTO: SZ Minnaar

Volgende jaar se tema is “Aanhou beweeg en geraas maak”. Dit is ’n aanhaling uit Jan Rabie se kortverhaal “Ek het jou gemaak” wat in sy bundel 21 gepubliseer is. Die tema is ook ’n indirekte verwysing na die Woordfees se 21ste verjaarsdag.

“Daar is volgende jaar 60 teaterstukke. Dit is effens minder as vanjaar se fees, maar die Fringe gaan weer bietjie meer stukke hê,” sê Danie Marais, Woordfees 2020 se publisiteitkoördineerder .

Volgende jaar sal die tweede keer wees wat ’n Fringe-program by die fees ingesluit word. Die venue verskuif ook van die Pulp-filmteater na Monica se tennisbaan. Benewens die Fringe, is daar ander Woordfees-gunstelinge wat verskuif en nuwe venues wat bykom (sien onderstaande infografika).

Nog ’n nuutjie is die dans- en landbou-afdelings wat by die feesprogram gevoeg is. Marais sê dat daar volgende jaar sewe dansstukke gaan wees en almal gaan by Bloemhof-skoolsaal, wat vir die eerste keer gebruik word, plaasvind.

“Ons gaan bietjie meer belê in die gras voor Wilgenhof om dit ’n buzzy hoek te maak,” sê Saartjie Botha, Woordfees-direkteur.

Benewens die ATKV Boektent en Boeke-oase voor Wilgenhof, gaan daar ook ’n Versfort wees. “Dis ’n klein feesie in die fees. Dit gaan ’n leesgedrewe ervaring wees,” verduidelik Botha. Mense sal byvoorbeeld gratis kan luister na poësie wat voorgelees word en ook die ruimte benut om lekker te sit en lees of ontspan.

Zian Blignaut, MA-student in kreatiewe skryfkunde, is volgende jaar by drie poësie-produksies betrokke. Hy is aan die stuur van die produksie Penseel en kie, wat voorlesings behels van studente en oudstudente wat in die studentebundel Penseel gepubliseer is. “Ek is altyd opgewonde vir Woordfees. Ek is ook baie opgewonde dat daar ’n platform vir poësie en spesifiek iets soos Penseel is,” sê hy.

Dramastudent Wynand Kotze, wat ook deel van Penseel en kie gaan wees, sê oor die produksie: “Dis f*kk*n exciting om ’n verhoog te deel met digters soos Loftus Marais en Bibi Slippers. Dis my heros in die digtersfeer.”

Kotze is ook betrokke by twee ander produksies. Hy is die regisseur van die kabaret Kraaifontein en speel ook in die produksie Kraai wat ’n Afrikaanse vertaling is van Mike Bartlett se Cock. Die res van Kraai se rolverdeling sluit in Stian Bam, Karli Heine en Wian Taljaard.

“[Kraai] gaan die gehoor uitdaag. Dit kan dalk offensive wees vir straight mense, dit kan dalk offensive wees vir gay mense, maar dis lekker. Teater moet soms bietjie offend. Ek dink ons is heeltemal te gemaklik deesdae. [Kraai] is nie almal se cup of tea nie, maar dit is uitdagend en ’n skerp teks,” sê Kotze.

Die Stadsaal is die nuwe ruimte vir visuele kuns