Wes-Kaapse premier hoor van gebrekkige polisiehulpbronne op Stellenbosch

Die Wes-Kaapse premier, Alan Winde, het op 16 Augustus Stellenbosch besoek om die tekort aan hulpbronne by die Kayamandi-, Stellenbosch- en Cloetesville-polisiestasies aan te spreek. Dit is volgens Bettie Nieuwoudt, Direkteur van Stellsorg, ’n welsynsorganisasie in Stellenbosch. 

Winde se besoek volg kort nadat Cloetesville, volgens Nieuwoudt,  tydens ’n beraad van die Wes-Kaapse provisionale gemeenskapspolisieraad in Landsdowne as ’n misdaad-brandpunt geklassifiseer is. Die beraad het op 5 Augustus plaasgevind en was toegespreek deur Winde sowel as Reagan Allen, Wes-Kaapse minister van gemeenskapsveiligheid. 

Die Stellenbosch-, Kayamandi- en Cloetesville-polisiestasie is op 16 Augustus deur Alan Winde, Wes-Kaapse premier, besoek in ’n poging om gemeenskapsveiligheid te bevorder. Dit is volgens  Bettie Nieuwoudt, Direkteur van Stellsorg, ’n welsynsorganisasie in Stellenbosch. FOTO: Keziah Bailey

Beter hulpbronne noodsaaklik 

Nieuwoudt wil hê daar moet ’n platform geskep word waar gemeenskapslede veilig kan voel om misdaadverwante voorvalle aan te meld. “Die vrees om geïntimideer te word, die vrees om doodgemaak te word, is ’n werklikheid,” het sy gesê. 

Volgens Abie September, gemeenskapsleier van Cloetesville, is een van die gemeenskap se wense om buurtwagte in meer areas van Stellenbosch te kry.  Die bestaande buurtwagte kan nie gelyktydig aan alle misdade in Idasvallei en Cloetesville aandag gee nie. 

Die druk op Cloetesville-polisiestasie is selfs groter aangesien Idasvallei nie ’n polisiestasie het nie, het September gesê. 

Tydens ’n beraad wat in Landsdowne gehou is, is Cloetesville as ’n misdaad-brandpunt geklassifiseer. Gevolglik het gemeenskapsleiers en die Wes-Kaapse Premier, Alan Winde, Stellenbosch besoek om na die toestand van die drie polisiestasies in Stellenbosch te kyk. Dit is volgens Volgens Bettie Nieuwoudt, Direkteur van Stellsorg, ’n welsynsorganisasie in Stellenbosch. FOTO: Keziah Bailey

Volgens September behoort die Cloetesville polisiestasie-gebou aan Builder’s Warehouse. Die polisie moet gevolglik Stellenbosch-polisiestasie toe gaan as hulle iemand arresteer.  

Beurtkrag is ook ’n struikelblok, aangesien die kragopwekker van die Cloetesville-polisiestasie soms nie werk nie. “As die kragopwekker nie aan [gaan] nie, dan is hier nie krag nie, so niemand kan die polisiestasie bel nie. Stellenbosch se Wetstoepassing moet [gevolglik] vir hulle kontak,” het hy vertel. 

Volgens Abie September, gemeenskapsleier van Cloetesville, is daar verskeie areas in Cloetesville wat nie buurtwag-beskerming het nie. Die buurtwag help met misdaadbekamping, volgens hom. FOTO: Keziah Bailey

Ligging belemmer effektiewe dienslewering

Winde beoog om die kwessie rondom die ligging van die Cloetesville-polisiestasie aan te spreek, aangesien dit die polisie se dienslewering belemmer, het Winde aan SMF News gesê. “Dit is nie die geskikste plek om ’n polisiestasie te hê nie, want [dit] is nie regtig in die gemeenskap nie,” het Nieuwoudt aan SMF News gesê. 

Volgens Winde is hulle span bewus van die feit dat die polisie ’n tekort aan hulpbronne het en ook dat daar meer oorsig oor polisiëring moet kom.

“Ons doen ’n beroep op die nasionale minister om seker te maak hulle gee bronne aan die regte mannekrag,” het Winde aan SMF News gesê. 

Reagan Allen, Minister van gemeenskapsveiligheid, Jeremy Fasser, Adjunk-uitvoerende hoof van Stellenbosch Munisipaliteit, Kolonel Laetitia Hans van die Cloeteville-polisiestasie, Bettie Nieuwoudt, Direkteur van Stellsorg, Abie September, gemeenskapsleier van Cloetesville en Alan Winde, die Wes-Kaapse premier,  was almal by die samekoms in Cloetesville teenwoordig. FOTO: Keziah Bailey

, ,