Wêreldbekende plaaslike kunstenaar slaan gesogte kunstoekenning los

’n Bekende Stellenbosse kunstenaar het in Februarie vanjaar ’n gesogte toekenning ontvang wat hom in staat sal stel om ’n kunstenaarsverblyf op te neem waartydens hy op sy kuns kan uitbou. 

Die landskapkunstenaar Strijdom van der Merwe het verlede maand verneem dat hy vanjaar die Pollock-Krasner Foundation-befondsingstoelaag ontvang, het hy per e-pos aan MatieMedia bevestig. Kunstenaars van regoor die wêreld ding om dié befondsingstoelaag mee, aldus die organisasie se webwerf. 

Strijdom van der Merwe raak kreatief in sy werkskamer. FOTO: Jean-Marie Uys

Volgens die Pollock-Krasner Foundation se webwerf, stel hierdie toekenning kunstenaars in staat om nuwe werke te produseer, materiale te bekom, voor te berei vir kunsuitstallings en kunstenaarsresidensies by te woon. 

Van der Merwe het gesê dat die toekenning baie vir hom beteken juis omdat hy met die res van die wêreld se kunstenaars moes meeding. 

“Die feit dat hulle na ’n portfolio van my werk gekyk het, beteken ook dat hulle my werk goed genoeg ag om hulle naam en finansies daarby betrokke te kry,” het hy bygevoeg. “As ’n kunstenaar moet jy soms heelwat kuns maak wat nie noodwendig jou hartsbegeerte is nie om sodoende die potte aan die kook te hou en rekeninge te betaal. Die grant gee my net bietjie meer beweegruimte binne my kreatiewe wêreld.”

kunstenaar

Die Nelson Mandela-kunswerk voor die stadsaal in Stellenbosch is deur Strijdom van der Merwe. FOTO: Dominique Fuchs

Eldoné Potgieter, ’n kunsliefhebber van Stellenbosch, het gesê dit is ongelooflik om Van der Merwe se kunswerke in die strate van Stellenbosch te sien. “Dit is ’n eer om deur die strate van Stellenbosch te wandel en elke dag deur sy werk geïnspireer te word,” het Potgieter gesê. 

“Strijdom is ’n wêreldbekende kunstenaar met ’n groot plaaslike impak en daarom wens ons hom baie geluk,” het Dr Leslie van Rooi, senior direkteur van sosiale impak en transformasie aan die Universiteit Stellenbosch (US), via e-pos gesê. Die US en Van der Merwe se mees onlangse samewerking het die kunswerk voor die Ou Hoofgebou tot gevolg gehad, het Van Rooi gesê. Van Rooi meen die toekenning is “inderdaad welverdiend en is ’n uitstekende toevoeging tot ’n lang lys van erkennings, pryse en toekennings”. 

kunstenaar

Dié installasie deur Strijdom van der Merwe wat voor die Ou Hoofgebou te vinde is, vier Suid-Afrika se Grondwet. FOTO: Dominique Fuchs

Van der Merwe het gesê dat hy baie inspirasie uit Stellenbosch put. “Stellenbosch is ’n dorp met wonderlike energie. Dit vervul soveel van die sintuie dat dit soms voel na ’n oormaat van inspirasie,” het hy gesê. 

Hy put inspirasie uit, onder meer, die natuurskoon, die argitektuur en die studente rondom die dorp, het hy gesê. Verder vind hy ook inspirasie in die wyn, die oorvloed van kennis van die universiteit en toeganklikheid tot hierdie kennis deur openbare lesings, konserte en kunstefeeste. 

kunstenaar

Die meule aan die onderkant van Kerkstraat, Stellenbosch is nog ’n kunswerk deur Strijdom van der Merwe. FOTO: Dominique Fuchs

Van der Merwe se kunswerke kan regoor Stellenbosch gesien word, insluitende die Nelson Mandela-kunswerk voor die Stellenbosch-stadsaal, die installasie voor die Ou Hoofgebou en die meule in Kerkstraat. 

, , , , , , ,