Welsynsorganisasies in Swartland hou blink kant bo tydens Covid-19 pandemie

Sedert die grendelstaat aan die einde van Maart in werking gestel is, was baie welsynsorganisasies in staat om binne die regulasies wat daargestel is om die verspreiding van Covid-19 te voorkom, voort te gaan met bedrywighede. Maar dit was nie vir almal moontlik nie. MatieMedia se sosiale media redakteur, Leo Cordom, het met ’n paar welsynsorganisasies in die Swartland gesels oor die uitdagings wat hulle in hierdie tyd die hoof moes bied. 

“Ons moes ons deure toemaak”

This slideshow requires JavaScript.

Jo-Dolphin-Swartland, ’n dagsorgsentrum vir persone met gestremdhede, was verplig om hulle deure tydelik te sluit. “Ouers was baie bedagsaam en verstaanbaar oor die besluit. Ek dink [die ouers] was almal self bekommerd dat hulle kinders aangesteek sou word,” sê Estrellita Geldenhuys, die hoof van Jo-Dolphin-Swartland. 

Volgens Geldenhuys het Covid-19 almal onverwags betrap. “Ek dink nie enige iemand was regtig voorbereid nie,” sê sy.

Geldenhuys verduidelik dat dit nie in die kinders se belang sou wees om by die sentrum aan te bly nie, aangesien hulle weens hul gestremdhede baie meer kwesbaar is vir die virus. “Op dié stadium is dit belangrik dat die leerders se gesondheid nie in gevaar is nie. Hulle is nou veiliger by hulle primêre versorgers.” 

Jo-Dolphin het verskeie projekte vir die jaar gehad, maar weens Covid-19 moes alles eers stopgesit word. Een daarvan is ’n koffiewinkel wat hulle onlangs op die been gebring het. “Die kinders was besig om te leer hoe om koffie te bedien. Ons het [selfs] ’n ordentlike koffie masjien gekoop.”

Huis van Heerde het planne in plek gestel om almal se veiligheid te sorg

Huis van Heerde, ’n kinder- en jeugsorgsentrum in Mooreesburg, het met inagneming van die riglyne van die Departement van Maatskaplike Ontwikkeling en Badisa (’n sosiale welsynsorganisasie waaronder Huis van Heerde val), ’n gebeurlikheidsplan opgestel om die kinders wat daar tuisgaan, te beskerm teen die verspreiding van Covid-19. 

Dié plan is reeds vanaf 16 Maart in werking gestel. 

“[Daar] bly gewoonlik 25 kinders tuis in die Maart-vakansie,” sê Karen Petersen, bemarkings- en skakelbeamptemaar van Huis van Heerde. Gedurende vanjaar se Maart-vakansie is 70 kinders deurlopend versorg. Alle vakansieplasings is gekanselleer, en die kinderhuis het self vakansieprogramme aangebied. Die kinderhuis moes ook voorsiening maak vir 24-uur versorging.

Volgens Petersen het Huis van Heerde ook inligtingsessies met personeel en kinders in plek gestel om hulle op te voed oor Covid-19.

Swartland Nagskuiling werk nou teen ’n hoër tempo  

Vir organisasies soos Swartland Nagskuiling het geen projekte tot stilstand gekom nie. “Ons werk eintlik nou teen ’n hoë tempo,” sê Hassan Khan, die mediawoordvoerder en hoof uitvoerende direkteur van The Haven Nightshelter, waaronder Swartland Nagskuiling val. 

Khan verduidelik dat The Haven Nightshelter drie projekte het, wat steeds aanhou. “Een is gasvryheid. Dit duur regdeur die jaar voort,” sê Khan. Ondanks beperkte hulpbronne, voorsien hulle steeds in almal se behoeftes, voeg hy by. 

Die volgende projek is maatskaplike werk. “[Dit behels] ’n herintegrering om mense by die huis te kry,” sê Khan.

Hulle derde projek is om uit te reik na armoedige mense. Alles waarvan die organisasie dalk ’n oorskot mag hê, gee hulle aan die armes, sê hy. 

Terwyl die pandemie ’n groot uitdaging is, kan dit ook as ’n geleentheid gesien word vir Swartland Nagskuiling, sê Khan.

“Die uitdaging is ons hulpbronne is [beperk] en daar is ’n groter behoefte vir gesondheidshulpbronne. Elke nagskuiling is vol. Ons kosvoorraad is onder druk en mense het minder om te gee,” sê Khan. 

Vanuit ’n geleentheidsoogpunt word mense egter nou besig gehou en toegelaat om meer intense gesprekke te hê om huiswaarts te keer, verduidelik Khan. “Met die krisis is hawelose mense in staat om uit te reik na hulle families.”

In hierdie tyd is daar ’n groot samekoms van mense wat mekaar se verskille herdenk en hulle posisie in die samelewing in ag neem, sê Khan.

Khan sê ondanks herkoms of kulturele verskille, is dit nou die tyd om te besef dat almal dieselfde kwesbaarhede het. 

 

 

 

 

, ,